Wys tans plasings met die etiket wat is die waarheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wat is die waarheid. Wys alle plasings

Vrydag 27 Junie 2014

Dit is nie mense wat besluit wat die waarheid is nie...

=========================================================================

(Joh 1:17)  "Want die wet is deur Moses gegee; die genade (grace, favour) en die waarheid (truth) het deur Jesus Christus gekom".

Nie almal hou van die waarheid nie.  Baie Skrifgeleerdes en Fariseers het aanstoot geneem aan Jesus terwyl Hy die waarheid verkondig het.  Die "waarheid" is nie net die mooi dele van die evangelie nie, maar ook die dele wat ons nie graag wil hoor nie, soos bv. dat ons ook op sonde gewys word, en herinner word aan die komende oordeel, of dat ons nie ons hoop moet plaas in wereldse sekuriteite nie....  Die "waarheid" is, dat die manier hoe die Here dinge sien, nie is hoe ons dit sien nie! Ons moet ons bekeer van die manier "hoe ons sien", en moet pasop "hoe ons hoor" - wanneer ons die waarheid hoor, kan ons nie net die dele aanneem wat ons in die gehoor streel nie! Jesus het nie net sekere dele van die waarheid verkondig nie, maar die volle waarheid gebring!  Baie het a.g.hiervan aanstoot geneem aan hom:  (Mat 15:12 - "Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?");want die waarheid is nie altyd wat ons graag wil hoor nie! Wanneer iemand nie die wil van die Here soek nie, neem hy maklik aanstoot aan die waarheid, want dit bots met sy eie wil.   Net so het baie ook  aanstoot geneem aan die prediking van die dissipels, maar Jesus se dissipels het nie self besluit wat die waarheid is nie;  inteendeel het hulle die gelowiges gewaarsku teen diesulkes wat die evangelie probeer verdraai!  Dit is nie mense of kerke wat besluit waaroor die evangelie gaan, of wat reg of verkeerd is, of wat die voorwaardes is om in te gaan in die koninkryk van God nie, maar die WAARHEID is wat die Here se dit is.  Geen kerk kan ewe skielik besluit iets is nie meer sonde nie, wat wel vroeer sonde was, of besluit dat hulle gaan kies watter dele van die waarheid hulle wil verkondig en wat nie!  


 Waar iemand egter die waarheid hoor, maar dit wegwys (en gewoonlik dan aanstoot neem daaraan), wys dit daarop dat sy hart nie reg is nie.  Die persoon wat nie opreg is nie, stel nie belang in wat "die waarheid" is nie. Sommige mense is net nie ontvanklik vir die waarheid nie.  Dit dan waarom Paulus skryf: (Gal 4:16)  "Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?".  Hulle wil net daardie dele hoor wat hulle in die gehoor streel, en sien net dit as stigting, maar die waarheid is dat dit slegs "die waarheid" is wat vrymaak! (en iemand werklik kan stig)(Joh. 8:32). Iemand kan slegs vrug begin dra (vrug tot heiligmaking), as hy DIE WAARHEID (die woord van God) aanneem - m.a.w. as hy "hoor" (en nie net sekere dele van die waarheid nie!).  Die gelowige wat kies wat hy wil hoor, gaan nie vrug dra nie en kan selfs vrug verloor wat hy alreeds begin dra het, soos bv. waar die sorge van die lewe of genietiinge van die lewe, begeerlikhede en verleiding van die rykdom die vrug verstik... In so 'n geval kies iemand watter waarheid hy wil aanneem - hy kies bv. om die dele van die waarheid te onvang wat gaan oor verlossing en seen ens., maar nie die dele wat gaan oor gehoorsaamheid of om die Here as eerste Liefde te ken of sy gedagtes te verander nie! Hierdie wys baiemaal daarop dat die persoon hom nog nie regtig "bekeer" het nie!
===========================================================

Gedagte:

  ("Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem")
Iemand wat uit die waarheid is, neem nie net die woorde aan wat hom laat goed voel nie, maar neem ook die woorde aan wat hom tot gehoorsaamheid bring aan Christus (die "hoor")!  
========================================================================


Woensdag 18 Junie 2014

Wat is die WAARHEID?

Opregte Christene soek die WAARHEID.  Die persoon wat nie opreg is nie, stel nie belang in wat "die waarheid" is nie.  Maar moet ons dan nou vra soos Pilatus, "wat is die waarheid?" (Joh. 18:38).  Een van die redes waarom Jesus gekom het, was om VAN DIE WAARHEID TE GETUIG  (Joh. 18:37).   (Joh 1:17)  Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.  Die Here Jesus het ook die volgende stelling gemaak:  
"Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem".  

 Alhoewel die gemeente van Korinthïers in geen enkele genadegawe agtergestaan het nie, noem Paulus hulle "klein kinders" - hy skryf hierdie feit toe aan die feit dat hulle nog vleeslik dink!  Tog het die gemeente gedink dat hulle baie "wys" was! Hulle oë was nie altyd gevestig op "wat die Here geleer het" nie (op wat presies die waarheid is nie) - sommige het wel net na Paulus geluister, ander net na Apollos, ander net na Cefas.......(1Kor. 1:12) - as gevolg hiervan was daar heelwat twiste onder hulle.  Hulle oë was dus nie gevestig op "wat die waarheid is" nie, maar op spesifieke mense, op "wie hulle wil glo" en "wat daardie mense sê die waarheid is".  Wanneer gelowiges hulle hoop plaas in mense,dan sukkel hulle om te erken wanneer die Here deur iemand tot hulle praat, want dan is hulle net ontvanklik vir sekere mense  - in so 'n geval, wanneer die Here vir hulle wel iemand stuur wat die waarheid verkondig, is hulle nie ontvanklik vir hom nie omdat hulle vleeslik dink!  (1 Kor. 3).
 Dit moenie gaan oor "vir wie ek glo" nie, maar oor, 
"WAT IS DIE WAARHEID?"
Jesus het vir ons die waarheid kom deel.  Baie Christene hou vandag vas aan leerstellings wat heeltemal in stryd is met wat die Here Jesus vir ons geleer het.  So verstaan baie bv. die term "geseënde" verkeerd en dink dat dit die Here se wil is dat ons materiële voorspoed moet hê, of ryk word, of geen verdrukking ly nie..............ens.,  MAAR die waarheid wat Jesus kom deel het, klop bv. nie met hierdie leerstellings nie! Die manier hoe so 'n Christen dan "dink", is "vleeslik" (soos baie in die gemeente van Korinthiers).  Dit gaan nie vir hulle oor wat die waarheid is nie, maar oor "vir wie hulle wil glo", of "wat hulle graag wil hê die waarheid moet wees".  Baie is wel "onwetend" en ken nie regtig die waarheid nie.  Ons moet natuurlik verstaan dat onwetende sondes anders hanteer word as "wetende" sondes - dit dan ook die rede waarom ons nie 'n Christelike kerk moet ontwortel nie!  Die waarheid is dat geen Christelike kerk die volle waarheid verkondig nie, tog is daar seker ware Christene in elke Christelike kerk!  En in elke kerk is daar die wat "onwetend" is, maar ook die wat "wetend" is.  As ons nou die ongehoorsame "wetendes" probeer ontwortel, dan gaan ons ook die koring saam met die onkruid uittrek!  Daarom het Paulus nie die gemeente van Korinte probeer ontwortel nie, maar hulle gewaarsku om te let op "hoe hulle bou" - elke gelowige moet persoonlik seker maak dat hulle werklik die waarheid liefhet - dat hulle ag gee op Jesus se leringe, en seker maak dat hulle "bly in die waarheid".
========================================================================

GEDAGTE:


"Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem" (Joh. 18:37).  

========================================================================

http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/07/as-iemand-se-werk-verbrand-word-sal-hy.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/11/hoekom-skei-die-here-nie-nou-al-die.html