Wys tans plasings met die etiket wet van vryheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wet van vryheid. Wys alle plasings

Sondag 04 Junie 2023

Is die Christen onder 'n wet ? (2)

Vir die eerste dagstukkie oor hierdie onderwerp, gaan na: https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2018/05/werke.html

___________________________________________________________________________________

Sonder 'n wet kan niemand jou oordeel nie (Rom. 7:8);  bv. wanneer daar geen wet is rakende 'n fontein met water (bv. hoeveel water elkeen mag gebruik) nie, kan niemand geoordeel word sou hy bv. meer as 'n sekere maat water gebruik nie. Al manier hoe hy sou oortree (verkeerd doen/sondig) is as daar 'n wet is en hy die wet oortree op hoeveel water hy mag gebruik. Sonder wet kan niemand jou oordeel nie, en sou iemand jou oordeel sal jy bes moontlik verontreg voel (omdat daar geen wet is nie!). 'n Kind gaan bv. ook verontreg voel as 'n ouer hom vermaan op iets wat hy nie geweet het verkeerd is nie - hierdie is die soort reaksie wat jy verwag van iemand wat geoordeel word waar geen wet is nie. Daarom word kinders eers kennis gegee voor hulle vermaan word, en word daar gewoonlik meer genade bewys t.o.v. onwetende sonde

Dit sal ook verkeerd wees om 'n Christen te oordeel volgens die wet van Moses, want Christene is nie onder die wet van Moses nie. Natuurlik moet 'n Christen verontreg voel wanneer hy vermaan word omdat hy nie besny is nie of sekere voedsels eet of watookal verwag was onder die wet van Moses, want hy is nie onder daardie wet nie! Maar is dit reg van 'n Christen om verontreg te voel wanneer daar van hom verwag word om Jesus te gehoorsaam? Dit is ongelukkig wat somtyds in die kerk gebeur, is dat sommige Christene nie besef hulle is onder 'n WET vir vryes nie, en word dan kwaad wanneer hulle volgens "die wet" van vryheid geoordeel word. Hoekom?  Duidelik is diesulkes onder 'n wanindruk dat hulle onder geen wet is nie...  ----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------- 

Die mensdom kan ingedeel word in 

- "geestelike mense" (1 Kor. 2:14,15; 3:1), en 

- "natuurlike mense" (Jud. 1:10; 1 Kor. 2:14). 

In Christenskap verwys die begrip "geestelike mense" na 'n baie spesifieke groep mense, nl. die wat die Heilige Gees het (nl. "weergeborenes"). Geestelike mense dink en sien anders as natuurlike mense - vir natuurlike mense is die geestelike dinge bv. dwaasheid (want hulle het die gees vd wêreld-1 Kor. 2:12-14) - hulle praat uit die wêreld en die wêreld luister na hulle (1 Joh. 4:5),  maar geestelike mense beoordeel dinge op 'n geestelike manier. Hulle wysheid kom van bo (die Here se woord is vir hulle wysheid en hulle luister dus na die wat uit die Gees praat, en herken dus gewoonlik wie anders ook die Heilige Gees in hulle het ...- 1 Joh. 4:6). Hierdie (waar iemand se wysheid vandaan kom) is die groot verskil tussen natuurlike en geestelike mense, en die manier hoe mense glo/"sien"/verstaan is dus o.a. 'n manier om te bepaal of iemand die Heilige Gees het of nie (en of iemand praat uit die Gees of nie). 

Mense in wie die Heilige Gees is dink en sien gewoonlik dieselfde, en glo terloops in Jesus se woorde! (want die Gees gaan nie iets anders preek as wat Jesus gepreek het nie, en die Gees herinner ons ook aan Jesus se woorde...-Joh. 14:26). Die Heilige Gees word o.a. "die Gees van WAARHEID" (Hy praat/leer die waarheid) genoem, en die wat Hom ontvang is onder Sy lering en leiding (1 Joh. 2:20,27). Weergeborenes word gesien soos "gesalfdes" - hulle het die SALWING VD HEILIGE GEES (1Jn 2:20 - "En julle het die salwing van die Heilige en weet alles");  wat deels beteken dat hulle afgesonder is om die waarheid te ken, en ook beteken dat hulle afgesonder is vir 'n spesifieke doel...; is bv. afgesonder vir die Here... (afgesonder om deel te wees vd volk van eersgeborenes, is deel van die wat die Here dien, ontvang gawes, bedieninge en werke soos die Heilige Gees aan hulle uitdeel...,ens.). 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Deesdae word 'n "ander evangelie" verkondig, 'n evangelie waarin kinders van die koninkryk nie altyd die EVANGELIE VD KONINKRYK geleer word nie, of hulle word 'n verdraaide evangelie geleer. 

In die EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK lê Jesus veral klem op die geestelike want wette word  terloops in die N.T. op 'n veel uitnemender manier vervul; bv., in die N.T. (onder die wet van vryheid/wette vir vryes) het wette 'n sterker betekenis omdat ons siening wyer is (ons verstaan beter want ons het die Heilige Gees en het Jesus se leringe).  Bv., egbreuk gaan nie net oor die fisiese daad nie, maar selfs wanneer iemand daardie daad in sy hart pleeg word dit al gesien soos egbreuk... (Matt. 5:27,28). Daar word bv. van Christene verwag om ook hulle gedagtes te verander (2 Kor. 10:5). Dit wat jou gewete onrein maak gaan nie oor wat jy inneem, eet, higeine ens. nie, maar sonde maak mens onrein - dit wat uit jou hart kom - bv. slegte gedagtes/begeertes, lastertaal ens. (Matt. 15:118-20). Dus, alhoewel die wet anders lyk, is dit eintlik ditto wet wat op 'n veel uitnemender manier vervul word volgens Jesus se leringe en die leiding vd Heilige Gees - die "wet van vryheid" is 'N WET vir vryes. Die Christen is onder hierdie wet, wat beteken hy moet toesien dat hy wegbly van dit wat hom onrein maak, moet gedagtes verander, barmhartig wees, goeie bedink, ens. As jy dan nou "vry is van jou slaafskap onder sonde", dan moet jy tog nou soos iemand lewe wat vry is daarvan! 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Sekere wette onder die wet van Moses is steeds geldig, en ander word anders vervul (want "die wet" is nie ontbind nie - die Here se gebooie is steeds belangrik, Matt. 5:17-19).
Watter wette het nie verander nie?:
- wette teen sonde (bv. mag nie lieg nie, ens.), en 
- sekere ander wette wat dieselfde vervul word in die N.T. (bv. wette soos "mag nie bloed eet nie"). 
Watter wette word anders vervul?:
- sekere wette oor wat is rein en wat nie (bv. wette rondom kos, of hoe om rein te word van sonde);
- sekere wette oor wat is heilig en wat nie (bv. wat afgesonder is, bv. die weergeborene se liggaam is soos 'n tempel) . In elke bedeling is daar 'n wet, en in elkeen word die reëls neergelê. Bv., dit wil voorkom of die mens oorspronklik nie vleis geëet nie, maar na Noag se ark was hulle spesifiek toegelaat om ook vleis te eet. Net so, onder die wet van Moses was daar baie wette rondom wat die volk mag geeet het en wat nie, maar in die N.T. is ons nie onder al daardie wette nie;  maar dit beteken nie dat die wet van wat ons mag eet en wat nie, verval het nie!;  nee, daar is steeds wette rondom wat ons mag eet en wat nie, maar dit word ander vervul...;  bv., ons kan enige iets eet wat met danksegging en gebed ontvang word, maar word steeds belet om sekere goed te eet, bv. afgodsoffers, bloed, of iets te eet by 'n samekoms waar die voedsel tot aanstoot is van 'n broeder..., ens. Dus sien ons hoe reëls verander in verskillende bedelinge, alhoewel wette teen sonde nooit verander nie. Wat gesien is as sonde in die O.T., word steeds as sonde gesien in die N.T... 

'n Manier hoe hierdie somtyds beter verstaan kan word is deur te kyk na die begrip "wette", en te onderskei tussen 
- "wette teen sonde" (wat nooit verander nie)
- "vervulde wette(wette wat "anders vervul word in verskillende bedelings, bv. wette wat in die N.T. op 'n uitnemender manier vervul word as in die oue - die wet het nie verval nie maar word op 'n ander manier vervul), en 
- "mensgemaakte wette(wat baiemaal meer te doen het met kultuur, bv. die hoofbedekking, handewas voor ete, ens.). In die geval van mensgemaakte wette is dit nie dinge wat die Here noodwendig van ons VERWAG NIE, maar ook niks verkeerd as dit gehou word nie!,;  maar ons moet verstaan dat die onderhouding van mensgemaakte wette geen invloed het op 'n persoon se saligheid nie. Mensgemaakte wette gaan tot niet, maar die Here se wette gaan nooit tot niet nie (alhoewel dit somtyds verskillend vervul word in verskillende bedelings, en dit dus dan kan lyk of dit tot niet gegaan het, maar dit het nie - dit word net anders vervul). Wette teen sonde moet dus nie verwar word met wat vervulde wette kan wees nie...

Woensdag 03 Augustus 2022

Is die Christen onder 'n wet? (1)

Wat is 'n Land/Koninkryk sonder wette of riglyne?  In 'n land waar daar geen wet is nie kan mense doen wat hulle wil, en aan ander mense doen wat hulle wil! - en hulle sal nie kan gestop word, of daarvoor geoordeel word nie... Ons verstaan maar alte goed die belangrikheid van wette, maar hoe is dit moontlik dat sommige dink dat in die Koninkryk van God wette nie belangrik is nie?, of dink dat die kinders vd Koninkryk onder geen wet is nie?  Elke koninkryk het 'n wettestelsel waarvolgens die wat aan daardie koninkryk behoort, geoordeel word, en die koninkryk van God is nie anders nie... Vir 'n groot deel van die Ou Testament was kinders van die Koninkryk (van God) onder "die wet" (van Moses)(en is deur dit beoordeel). In die Nuwe Testament is kinders vd Koninkryk nie meer onder die wet van Moses nie, ja, en kan dus nie daarvolgens beoordeel word nie, maar dit beteken nie dat die Christen onder geen wet is nie - in die koninkryk van God is daar 'n goeie wettestelsel, en Jesus en Sy dissipels het hierdie wette neergelê in die "evangelie vd koninkryk" (Matt. 4:23; 24:24; Hand. 8:12). Ook elkeen wat in Jesus Christus glo, word gevul met die Heilige Gees en Sy wette word op hulle harte geskrywe. Weergeborenes weet goed wat is reg en verkeerd en wat die Here verwag, en die Heilige Gees (die Gees van waarheid) sal nie iets anders leer as wat Jesus geleer het nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Christene is onder die "WET VAN VRYHEID" ('n wet vir "vryes")(Jak. 1:25; 2:12). Sommige dink dat "vryheid" beteken ons kan doen wat ons wil en glo wat ons wil, maar l.w. dat die wat vry is, duur gekoop is! Christene is vry, ja, maar dit beteken nie dat hulle vry is van alle wet nie, want vryheid gaan nie net oor waarvan jy vry is (bv. vry vd wet van Moses, of vry van slaafskap onder sonde) nie, maar ook oor hoe jy vrygekom het... Bv., omdat Christene vrygekoop is deur Jesus Christus, behoort hulle nou aan Hom (is vry, maar 'n slaaf van Christus-1Kor. 7:22; Rom. 7:4 - hulle dien nie meer die wet nie / dien nie meer die sonde nie, maar dien Jesus Christus) - "vryheid" gaan dus nie net oor "waarvan" jy vry is (en asof jy nou onder niemand is nie!), maar vryes is onder die wet van die Een deur wie hulle vrygekoop is - hulle behoort nou aan Hom - is onder Jesus Christus / is onder die Heilige Gees (deur wie Hy teenwoordig is), en "vryes" sal eendag deur Sy wet geoordeel word (Jak. 2:12,13 -  "Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur DIE WET VAN VRYHEID geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel"). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die Christen dink hy is onder geen wet nie kan so 'n verkeerde siening tot gevolg hê dat hy wetteloos begin lewe - en ons sien hierdie vandag in sommige kerke gebeur.  Dit is ook die groot rede waarom party kerke hulle eie wette begin opmaak, want wanneer jy glo dat jy onder geen wet is nie en sien dat jy eintlik een nodig het, dan moet jy wet maak. Dit is gevaarlik wanneer Christelike kerke die waarheid ignoreer (bloot omdat hulle glo hulle is onder geen wet nie - asof hulle nie 'n meester en koning het nie) en dan self begin besluit wat is reg en verkeerd. Vele leerstellings in die kerk is vandag mensgemaak en in stryd met "die wet van vryheid". Sommige Christene word selfs kwaad en sien dit as "oordeel" as daar gehoorsaamheid van hulle verwag word, en glo nie dat enige sonde wat 'n Christen doen tot die dood kan lei nie (al leer die Skrif iets anders). Die waarheid is dat baie Christene vandag glo in 'n "ander evangelie" - een waar mense kan doen wat hulle wil, glo wat hulle wil, doen aan ander wat hulle wil..., en hulle glo dat hulle onvoorwaardelik vergewe sal word en nie daarvoor geoordeel sal word nie (??) - wat 'n snaakse evangelie! Wie wil aan so 'n koninkryk behoort? Wat van die een wat in daardie koninkryk onderdruk word? - niemand sal hom kan help nie. Wie wil deel wees van 'n koninkryk waar geen wet is nie, waar mense steel en lieg en bedrieg, doen en glo wat hulle wil, selfs onbarmhartig optree, en daar niks van hulle verwag word, hulle onvoorwaardelik vergewe word, en hulle geensins geoordeel sal word nie? Ongelukkig is dit die tipe evangelie wat deesdae deur sommige Christene verkondig word - so 'n denkwyse is niks anders as krimineel nie. In 'n koninkryk waar beslis wette is maar mense optree asof hulle onder geen wet is nie, is daar geen vrees vir die Wetgewer nie.  Hierdie soort evangelie wat deesdae verkondig word (van doen en glo wat jy wil en maak nie saak wat jy doen, jy sal onvoorwaardelik vergewe word daarvoor, en geen sonde wat jy doen kan tot die dood lei nie) is 'n evangelie/boodskap wat eerder kriminele grootmaak as wat dit 'n goeie boodskap is vir kriminele wat wil verander!

God is 'n God van orde, nie wanorde nie. Hy is regverdig, nie onregverdig nie. Die ware evangelie leer dat alle mense geoordeel sal word, en hierdie oordeel "begin by die huis van God"...! (1 Pet. 4:17). In die ware evangelie het die Here die reëls neergelê op wat is reg en wat is verkeerd. In die ware evangelie is daar 'n Wetgewer ja, en Hy moet gevrees word. In die ware evangelie word daar van Christene verwag om die Here te gehoorsaam - om vas te hou aan Sy woorde en vir Hom te lewe. (Luk 6:46 - "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Die begrip "wet van vryheid" kan o.a. na verwys word as "wet van geloof" (Rom. 3:27), wat verwys na hoe die mens geregverdig word deur die geloof (sonder die werke vd wet). Dit is inderdaad so dat ons nie geregverdig word deur werke nie (Rom. 8), maar l.w. dat die Skrif ook verklaar dat ons nie alleen deur geloof geregverdig word nie! (maar ook deur werke...)(Jak. 2:24). Alhoewel iemand geregverdig word deur GELOOF, is GELOOF SONDER WERKE DOOD (die Christen het gebooie, ja... - anders gestel, geloof word bewys deur werke/gehoorsaamheid). Ons doen nie werke om saligheid te verkry nie, maar omdat ons saligheid het. Die "die wet van vryheid" is vir "vryes" - m.a.w. is 'n wet van die wat ONDER Jesus Christus is:
- IS ONDER DIE WET VAN CHRISTUS (is aan Jesus Christus gehoorsaam)(1 Kor. 9:21; Joh. 8:36; Rom. 8:2) ;
- IS ONDER DIE WET VD GEES (is aan die Gees gehoorsaam)(Rom. 7:6; 8:1-4; Gal. 5:18; Rom. 8:1-11; Joh. 6:63).  

Jesus het baie gepraat oor "wat van ons verwag word" en Christene sal beslis geoordeel word volgens die woorde wat Hy gespreek het (Joh. 12:48) - in daardie opsig is Sy woorde soos 'n wet vir die wat in Hom glo (Rom. 2:12; Jak. 2:12-14). Alles goed en wel om te bely jy glo in Jesus, ja, maar verstaan dat dit beslis beteken jy sal ook geoordeel word volgens Sy woorde/wet (want jy GLO in Hom!). Christene is onder die wet van Christus (1 Kor. 9:21) - Hy is hulle hoof/Koning - hulle behoort aan Hom (moet Hom dus gehoorsaam).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------ -----------------