------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die belofte van 'n "opstanding" was lank reeds tevore deur die profete voorspel (Jes. 26:19). Jesus het self ook getuig van hierdie opstanding en verskeie male verwys na hoe Hy die wat in Hom glo, sal opwek in die laaste dag! (Joh. 11:25; 6:44...).
_________________________________________________________________________________
GEDAGTE:
In die OPSTANDING sal Christus lewend maak wie Hy wil (Joh. 5:21-30; Openb. 1:18), want die Vader het die oordeel aan Hom oorgegee (Joh. 5:22) - Hy het die sleutels van die doderyk en van die dood (Openb. 1:18). Jesus het self verklaar dat nie almal sal opstaan tot lewe nie. Hy het gese dat die wat goed gedoen het sal opstaan tot lewe, maar die wat kwaad gedoen het, sal opstaan tot veroordeling. Die wat nie in Hom glo nie, sal nie deur Hom opgewek word tot lewe nie. Daar is bepaalde voorwaardes wat moet nagekom word voor iemand die hoop op hierdie saligheid verkry. Christus Jesus is die opstanding en die lewe! (Joh. 11:25) - wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe... Hierdie "opstanding tot lewe" is dus iets wat spesifiek aan die kinders van die Here belowe word en is daarom 'n baie belangrike deel van Evangelie-prediking. Die dissipels het baie vervolging verduur juis omdat hulle die opstanding verkondig het, en dit is ook juis om daardie rede wat baie nie die evangelie aangeneem het nie want hulle het die prediking van opstanding gesien soos dwaasheid (Hand. 4:2; 17:18,32; 24:15; 26:23; 1 Kor. 15:12...). As Christus nie opgestaan het uit die dode nie, dan maak ons geloof nie baie sin nie, want hoe kan jy jou hoop plaas op iemand wat jou moet opwek uit die dode as hyself nie lewendig is nie? En hoe kan jy hoop in 'n opstanding tot lewe as jy nie glo in die Een wat jou gaan opwek nie? Die wat die opstanding tot lewe ontvang (die ewige lewe ontvang), oor hulle het die tweede dood geen mag nie. (...Die term "tweede dood" is 'n term wat gebruik word vir "ewige oordeel" - Openb. 20:14 - wanneer die dood en doderyk in die poel van vuur gewerp word...). Net soos die Vader die dode opwek en lewend maak (Joh. 5:21), so het Christus die mag oor die dood verkry om die wat aan Hom behoort op te wek tot lewe (1 Kor. 15:21-23), en Hy sal lewend maak WIE HY WIL (Joh. 5:21). Die oordeel is in Sy hand oorgegee. En natuurlik "ELKEEN IN SY EIE ORDE" - in orde was Christus die eersteling uit die dode (Hand. 2:31), daarna die wat aan Hom behoort by Sy koms... (1 Kor. 15:23).
(Rom 14:9) Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.
_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/01/die-evangelie.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/opsomming-die-opstanding-wegraping.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/01/die-evangelie.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/opsomming-die-opstanding-wegraping.html
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.