Dinsdag 22 Augustus 2017

Wat doen jy met die "besittings" wat die Here aan jou toevertrou?

In Matt. 25:35,36 verduidelik die Here Jesus dat "om barmhartig" te wees beteken dat ons kos gee vir die wat honger is, iets te drinke vir die wat dors het, herberg gee vir die vreemdeling, klere vir die een wat naak is, besoek die een wat siek is en in die gevangenis...  In konteks kan hierdie gelykenis vgl. word met die gelykenis in die verse vooraf (Matt. 25:14-30) van DIE MAN WAT OP REIS GAAN EN SY DIENSKNEGTE ROEP EN AAN HULLE SY BESITTINGS TOEVERTROU.  Wat ons uit hierdie gelykenis leer is dat Christus (die "man wat op reis" gegaan het) Sy besittings aan Sy diensknegte toevertrou - en Hy deel vir elkeen "besittings" uit... "Besittings" verwys nie noodwendig net na letterlike besittings nie, maar ons leer uit ander skrifte dat dit ook kan verwys na werke of gawes of geld ens. Die vraag is nou hoe elkeen met hierdie "besittings" te werk gaan?, want wanneer Christus TERUGKOM (wanneer "die man op reis" terugkom), dan sal elke dienskneg geoordeel word op wat hy met dit gedoen het wat die Here aan hom toevertrou het...  Maak nie saak hoe min iemand ontvang, of hoe baie hy ontvang nie, die vraag is: "wat doen hy met dit wat hy ontvang"? (Luk. 19:12-27).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Vgl. dit gerus met ander skrifte oor hierdie onderwerp, bv. Gal. 6:9,10 waarin ons beveel word om aan alle mense goed te doen, gelowiges sowel ongelowiges (maar eerste aan die gelowiges)...(http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/03/wat-moet-die-christen-se-persepsie-wees.html). Kyk ook Christus se woorde in: Luk 6:36 - "Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is" - in konteks het Hy hier bedoel dat ons goed moet wees vir alle mense, selfs ons vyande.  L.w. dat dit wat die Here aan Sy diensknegte toevertrou, steeds aan Hom behoort, en jy as dienskneg moet dit "reg gebruik", bv. o.a. aanwend vir barmhartigheid.  Sommige verstaan dit verkeerd en dink dat as die Here vir hulle seën met "besittings", bv. 'n spesifieke gawe van die Gees gee, dit is omdat hulle belangriker is as ander mense (??) en gebruik dan die gawe volgens eie wil en vir eie eer (Matt. 7:22).  Ander word geseën met geld en reken dat hulle meer geld ontvang omdat dit hulle eerder toekom as vir iemand anders (??), en hou al die geld vir hulleself en leef in rykdom terwyl ander broers en susters sukkel om te oorleef (Matt. 6:24). Ander word geseën met die vermoë om spesifieke werke te doen,  maar kyk neer op die wat dit nie kan doen nie (1 Kor. 1:26-29; Ef. 4:1-4). Ander word geseën met baie besittings, maar hou hulle oë toe vir die in nood en vergader meer en meer "skatte"... (Luk. 12:15-21; Jak. 5:3).  Elkeen van ons moet ag gee op Jesus se woorde en verstaan dat hierdie 'n belangrike saak is vir Hom. Natuurlik beteken dit nou nie dat ons mekaar loop en voorskryf wat ons dink elkeen veronderstel is om met sy geld of besittings of werk of gawes te doen nie! (Matt. 14:1-8), want elkeen moet self die Here raadpleeg en doen wat hy ookal weet die Gees hom lei om te doen.  As ons gehoorsaam is aan die Gees, dan sal ons outomaties barmhartigheid doen sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen. En as ons verstaan dat dit wat die Here aan ons toevertrou steeds aan Hom behoort en nie aan ons nie, dan sal ons ag gee op die stem van die Gees. Toe deur die Heilige Gees te kenne gegee is dat 'n hongersnood oppad is, het die dissipels besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon (Hand. 11:29). Toe die Gees vir sekere gelowiges uitwys dat die daaglikse versorging vd weduwees in die gemeente oorgesien is, is daar manne gekies (vol vd Heilige Gees en wysheid) om hierdie bediening te vervul.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wil jy iets vir die Here doen? - (Mat 25:40b - "......... vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen").Ons verstaan miskien hierdie goed wanneer dit kom by barmhartigheid t.o.v. fisiese dinge soos kos gee vir die maag, maar verstaan ons dat "om barmhartig te wees" uit gehoorsaamheid aan die Gees nie net gaan oor die fisiese nie, maar ook oor die geestelike? (m.a.w. jy ONTVANG kwytskelding, maar gaan jy ook ander kwytskeld?).
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Die gelowige se "werke" (m.a.w., wat hy doen met die "besittings" wat aan hom toevertrou is) moet gesien word as 'n teken van geloof en moet geskied uit gehoorsaamheid aan die Here.  As iemand bely dat hy geloof het maar sy werke getuig van iets anders, dan kan so 'n geloof hom nie red nie - Jak. 2:14-16 - "Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?  As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?". Die eerste Christene het op 'n stadium alles gemeenskaplik besit, eiendomme en besittings verkoop en die opbrings tussen almal verdeel... (Hand. 2:44,45; 4:35) - hierdie drastiese optrede was in opdrag van die Gees (Hand. 5:3), en dit beteken nie dat dit altyd op hierdie manier gedoen was nie want wat hulle ookal doen met dit wat hulle ontvang, sou moes wees soos die Gees hulle lei, nie wat hulle WIL doen nie, maar wat DIE GEES WIL doen.  Hulle het die belangrikheid van barmhartigheid verstaan en verstaan dat dit geskied uit GEHOORSAAMHEID AAN DIE GEES (wat Hy ookal wil doen, en hoe Hy dit wil doen). Dit is 'n fout as ons dink dat die Here ons seën om te doen wat ons wil met dit wat Hy aan ons toevertrou - so 'n dienskneg se manier van dink is verkeerd en hy dink dat dit wat die Here aan hom gee, aan hom behoort, maar die waarheid is: "dit behoort aan die Here"! (Luk 17:33 - "Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou")http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/07/wat-jy-opgee-in-hierdie-lewe-sal-jy-wen.html.


Die eerste Christene het duidelik verstaan dat alles wat hulle het nie werklik HULLE EIE is nie, maar eintlik aan die Here behoort - en hulle is aangestel en geseën met hierdie "besittings" met die doel om dit te gebruik om Sy wil uit te voer.  Vgl. dit gerus met Luk 16:12 - "En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?". As ons nie getrou was IN DIE HERE SE GOED nie, hoe sal ons eendag ons eie kry?
_________________________________________________________________________________

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.