Vrydag 30 Mei 2014

Wat is jou getuienis?


Goddelose mense is murmureerders, die wat klae oor hulle lot en volgens eie begeerlikhede wandel - hulle monde spreek trotse woorde en hulle vlei ander ter wille van voordeel... dit is hoe hulle beskryf word in Jud 1:16.  Maar die ongeluk is dat baie Christene se getuienis nie veel anders lyk nie.  Hulle sien hulleself nie as "goddeloses" nie, tog is hulle woorde en dade nie verskillend van die goddeloses nie. Dit is nie altyd so duidelik wie regtig die "volgelinge van Jesus Christus" is nie!   

As jy vandag vir mense in die publiek  moes vra om te verduidelik wat hulle verstaan onder die term van "CHRISTEN", sou min regtig die regte antwoord ken. In een geval waar iemand uitgegaan het op straat om mense te ondervra oor wat hulle verstaan van "'n Christen", was die oormeerderheid se antwoord dat 'n Christen iemand is wat "in God glo".  Die tweede meeste se mening was dat dit verwys na die wat "goed (probeer) lewe". As jy egter in die jaar 40 n.C. vir mense in die publiek dieselfde vraag sou vra, sou die reaksie heelwat verskillend wees.   Daar is 'n rede hoekom Christene "Christene" genoem is!  In die eerste plek het dit spesifiek verwys na die wat "volgelinge was van Jesus Christus".  Die woord "Christen" kom in 3 verse in die Bybel voor, nl. Hand.11:26, Hand. 26:28 en in 1Pet  4:16. Die dissipels van Christus was vir die eerste keer in Antiochíë (Hand. 11:26) "Christene" genoem -  die woord "Christen" is die Griekse woord, "kris-tee-an-os" wat beteken, "volgeling van Jesus Christus". Om 'n "volgeling te wees van Jesus Christus", beteken ten minste dat iemand Hom volg,
Hom dien,
Sy leringe navolg en dit verkondig, 
nie skaam is vir Hom nie en 
dat iemand Hom gehoorsaam is!   So iemand ervaar 'n NUWE LEWE waarin hy nie meer die sonde of sy eie wil of wette dien nie, maar die Here self dien!   Die wereld sukkel om 'n Christen te definieer, bloot omdat min Christene regtig die getuienis van 'n Christen dra!  Hulle klink deesdae soos die wereld, verstaan en dink soos die wereld, en tree selfs op soos die wereld!  Alhoewel "fellowship" met mede-Christene belangrik is, en dit belangrik is om jou Bybel gereeld te lees, is dit nie wat dit beteken om 'n Christen te wees nie!  Baie Christene vandag sien Christenskap as 'n klub waaraan jy behoort.  Hulle dink omdat hulle eens 'n gebed opgese het waarin hulle Jesus Christus as hulle Verlosser aanvaar het, dit hulle deel maak van die klub;  of omdat hulle aan 'n Christelike kerk grootgeword het, dit hulle deelmaak van die klub!  Maar om die naam van CHRISTEN te dra, beteken eintlik dat jy regtig 'n volgeling is van Hom - dit beteken dat jy Hom volg, Hom dien, Sy leringe navolg, die waarheid verkondig, jou nie skaam vir Hom nie, en Hom GEHOORSAAM.  
==================================================


GEDAGTE:

Dit is interessant om te merk hoeveel ure ons kan sit en saam kuier en heeltyd iets he om oor te gesels, maar hoe min van daardie tyd ons gebruik om te getuig en om te deel wat die Here vir ons leer/doen.  Die Here het uit baie Christene se geselskap verdwyn...    Die gelowiges van die eerste gemeentes, was duidelik sigbaar as volgelinge van Jesus en daarom so genoem;  inteendeel, deur die Christen se getuienis behoort ander die Persoon van die Here Jesus Christus te leer ken. So 'n Christen se woorde en dade is daagliks 'n getuienis as iemand wat 'n "volgeling is van Jesus Christus".

Wat is jou getuienis?  
Kan iemand deur na jou te kyk, verstaan wat die woord Christen beteken?
==================================================


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.