Wys tans plasings met die etiket gehoorsaam. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gehoorsaam. Wys alle plasings

Woensdag 23 Julie 2014

Die EVANGELIE van die Koninkryk

Soos ons maar te goed weet, beteken die woord "evangelie",  "goeie tyding of goeie boodskap".  
Wanneer ons dink aan die woord "evangelie", dan dink ons gewoonlik aan die "evangelie van Jesus Christus", m.a.w. die goeie boodskap oor die Here Jesus Christus, oor hoe Hy vir ons sondes gesterf het, en opgestaan het uit die dode - so die dood oorwin het, sodat ons ook eendag kan opstaan tot lewe...  Maar wat ons moet verstaan, is dat die woord "EVANGELIE" nie net verwysend is na die "evangelie van Jesus Christus" nie, maar ook verwysend is na "die evangelie van vrede", asook "DIE EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK".  Ons kan bv. nie regtig die evangelie van Jesus Christus ten volle verstaan as ons nie die evangelie van vrede en die evangelie v/d koninkryk in ag neem nie.  Die EVANGELIE wat Jesus gebring het, was deels gerig op "DIE GOEIE BOODSKAP oor DIE KONINKRYK VAN GOD". 
Waar Jesus die Christus bv. na Sy 40 dae vas, DIE EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK VAN GOD begin verkondig het in Galiléa, en Hy hulle beveel het om hulle te bekeer en DIE EVANGELIE TE GLO, was hierdie "evangelie" waarna Hy verwys het, of die boodskap wat Hy hier gebring het, (of die evangelie wat Hy wou he hulle moet GLO), nie oor hoe Hy sou sterf vir hulle sonde nie, maar dit het gegaan oor Sy koninkryk!  Dit was 'n "goeie boodskap" oor Sy koninkryk!  Die opdrag hier dus om "die evangelie te glo", het gegaan oor om "die evangelie oor die koninkryk van God" te glo.  Die evangelie gaan nie net daaroor dat ons moet glo in Jesus die Christus nie, maar ook oor dat ons die evangelie (die waarheid) moet glo oor "die koninkryk van God" - dit behels o.a. voorwaardes om deel te raak van, of hoe om in te gaan in die koninkryk en leringe oor die koninkryk van God. Baie wat hulleself "kinders van die koninkryk" noem,  sal uiteindelik nie ingaan in hierdie koninkryk nie, omdat hulle nie die evangelie oor die die koninkryk van God GLO nie! Iemand kan bv. bely dat Jesus die Christus sy Here is, maar dan moet hy ag gee op die evangelie wat Jesus gebring het: (Luk 6:46) "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?" (gaan lees gerus ook hierdie skrif in konteks)As iemand nie ag gee op die leringe oor die Here se koninkryk nie, dan "glo" hy dit nie!  Baie bely dat hulle die Here dien, maar hulle is Hom nie gehoorsaam nie;  hulle weet wat Sy leringe behels, maar hulle gee nie ag daarop nie - in so 'n geval bely hulle dat hulle glo Jesus is die Christus, maar hulle glo nie die WAARHEID wat Hy gebring het nie?  

-Jesus het bv. geleer dat sonder vrug niemand in die koninkryk van God kan ingaan nie (ook in verskeie gelykenisse vertel Hy hoe sommige afgesny sal word en uitgewerp sal word omdat hulle nie die voorwaardes nakom nie);   tog GLO baie Christene dit nie, en dink hulle nie dat daar enige manier is hoe hulle hulle saligheid kan verloor nie?  
-Jesus het bv. geleer dat ons verdrukking sal he net soos Hy;  tog GLO baie Christene dit nie en glo eerder dat die Here nooit sal toelaat dat Sy kinders deur verdrukking gaan nie?
-Jesus het bv. geleer dat ons Hom as Eerste Liefde moet ken en dit as voorwaarde voorgehou, en waarskuwings daarby as iemand dit nie nakom nie; tog GLO baie Christene dat Hy niks van hulle verwag nie, stel sorge en begeerlikhede en genietinge van die lewe bo Hom, en dink nie dat hulle hul vrug kan verloor daardeur nie?
-Jesus het bv. geleer dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word;  tog GLO baie Christene dit nie en probeer liewer "wenners" wees, in plaas van "diensknegte"?
MIN GELOWIGES GLO REGTIG IN JESUS SE LERINGE.  MIN GELOWIGES GLO DIE EVANGELIE WAT HY GEBRING HET! Wat Jesus bedoel het met "hoor", is dat ons regtig moet ag gee op Sy woorde!  Hy het baie gepraat oor die belangrikheid van "om te hoor"!  Die manier hoe iemand "hoor", is wat uiteindelik gaan bepaal wie regtig ingaan in die koninkryk;  wie vrug dra, en wie nie, en wie hulle vrug verloor;  wie barmhartig is, en wie nie;  wie die wil van die Vader doen, en wie nie...

In die eerste kerke is hierdie evangelie wat Jesus oor Sy koninkryk verkondig het, saam met die evangelie van Jesus Christus verkondig (Hand. 8:12). Ons moet ag gee op die WAARHEID wat Jesus vir ons gebring het:  
(Mar 1:14)  En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig
(Mar 1:15)  en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


In die gelykenisse, verhale en leringe wat Jesus gegee het oor die Koninkryk van God,
stel Hy voor dat die Koninkryk in so 'n mate begeer moet word, dat die mens bereid moet wees om alles op te gee daarvoor en dit bo wereldse dinge moet soek 
(Matt. 13:44,45)(Matt. 6:21)(Matt. 19:21,29)(Luk. 14:33)(Hebr. 10:34)(Luk. 18:23,24)(Hand. 2:44-47; 4:32-35)(Hebr. 11:24-26)(Fil. 3:7-9). 

 ---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Vrydag 30 Mei 2014

Wat is jou getuienis?


Goddelose mense is murmureerders, die wat klae oor hulle lot en volgens eie begeerlikhede wandel - hulle monde spreek trotse woorde en hulle vlei ander ter wille van voordeel... dit is hoe hulle beskryf word in Jud 1:16.  Maar die ongeluk is dat baie Christene se getuienis nie veel anders lyk nie.  Hulle sien hulleself nie as "goddeloses" nie, tog is hulle woorde en dade nie verskillend van die goddeloses nie. Dit is nie altyd so duidelik wie regtig die "volgelinge van Jesus Christus" is nie!   

As jy vandag vir mense in die publiek  moes vra om te verduidelik wat hulle verstaan onder die term van "CHRISTEN", sou min regtig die regte antwoord ken. In een geval waar iemand uitgegaan het op straat om mense te ondervra oor wat hulle verstaan van "'n Christen", was die oormeerderheid se antwoord dat 'n Christen iemand is wat "in God glo".  Die tweede meeste se mening was dat dit verwys na die wat "goed (probeer) lewe". As jy egter in die jaar 40 n.C. vir mense in die publiek dieselfde vraag sou vra, sou die reaksie heelwat verskillend wees.   Daar is 'n rede hoekom Christene "Christene" genoem is!  In die eerste plek het dit spesifiek verwys na die wat "volgelinge was van Jesus Christus".  Die woord "Christen" kom in 3 verse in die Bybel voor, nl. Hand.11:26, Hand. 26:28 en in 1Pet  4:16. Die dissipels van Christus was vir die eerste keer in Antiochíë (Hand. 11:26) "Christene" genoem -  die woord "Christen" is die Griekse woord, "kris-tee-an-os" wat beteken, "volgeling van Jesus Christus". Om 'n "volgeling te wees van Jesus Christus", beteken ten minste dat iemand Hom volg,
Hom dien,
Sy leringe navolg en dit verkondig, 
nie skaam is vir Hom nie en 
dat iemand Hom gehoorsaam is!   So iemand ervaar 'n NUWE LEWE waarin hy nie meer die sonde of sy eie wil of wette dien nie, maar die Here self dien!   Die wereld sukkel om 'n Christen te definieer, bloot omdat min Christene regtig die getuienis van 'n Christen dra!  Hulle klink deesdae soos die wereld, verstaan en dink soos die wereld, en tree selfs op soos die wereld!  Alhoewel "fellowship" met mede-Christene belangrik is, en dit belangrik is om jou Bybel gereeld te lees, is dit nie wat dit beteken om 'n Christen te wees nie!  Baie Christene vandag sien Christenskap as 'n klub waaraan jy behoort.  Hulle dink omdat hulle eens 'n gebed opgese het waarin hulle Jesus Christus as hulle Verlosser aanvaar het, dit hulle deel maak van die klub;  of omdat hulle aan 'n Christelike kerk grootgeword het, dit hulle deelmaak van die klub!  Maar om die naam van CHRISTEN te dra, beteken eintlik dat jy regtig 'n volgeling is van Hom - dit beteken dat jy Hom volg, Hom dien, Sy leringe navolg, die waarheid verkondig, jou nie skaam vir Hom nie, en Hom GEHOORSAAM.  
==================================================


GEDAGTE:

Dit is interessant om te merk hoeveel ure ons kan sit en saam kuier en heeltyd iets he om oor te gesels, maar hoe min van daardie tyd ons gebruik om te getuig en om te deel wat die Here vir ons leer/doen.  Die Here het uit baie Christene se geselskap verdwyn...    Die gelowiges van die eerste gemeentes, was duidelik sigbaar as volgelinge van Jesus en daarom so genoem;  inteendeel, deur die Christen se getuienis behoort ander die Persoon van die Here Jesus Christus te leer ken. So 'n Christen se woorde en dade is daagliks 'n getuienis as iemand wat 'n "volgeling is van Jesus Christus".

Wat is jou getuienis?  
Kan iemand deur na jou te kyk, verstaan wat die woord Christen beteken?
==================================================


Sondag 04 Mei 2014

Afgodsdiens in die Kerk!

In die O.T. was daar verskeie "VERBODE HEIDENSE PRAKTYKE" vir die volk van God.  Heidense praktyke het te doen met "sonde" en "afgodsdiens".  Die skrif verklaar o.a. dat iemand wat omgaan met hierdie praktyke, DIE HERE TERG! 

(dit word ook spesifiek gesê van "afgodery":   Deut. 32:21; 1 Kon. 16:13). 


Iemand wat afgodsdiens beoefen, is nie opreg met die Here nie! (Deut. 18:13). 

========================================================================

 Vandag is baie Christene nie opreg met die Here nie, besig met afgodery, en besig om die Here te terg ...  En terwyl ons dink dat afgodery iets is wat beoefen word daar ver deur mense wat nie van beter weet nie, is die waarheid dat afgodsdiens in baie kerke beoefen word! Ons moet verstaan wat afgodsdiens beteken, en dat dit nie net gaan oor beeldediens nie!  Die persoon wat hom tot afgodery wend, wys dat hy nie sy vertroue in die Here stel nie, maar sy eie wil vertrou!  Koning Saul was so 'n vb. van " 'n gelowige" wat afgodsdiens beoefen het - 
(in 1 Sam. 15:23 word sy EIESINNIGHEID vgl. met afgodery en beeldediens): 
(1Sa 15:23)  "Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. ...""Eiesinnigheid" gaan oor "hardkoppigheid", eie wil - baie Christene is vandag op dieselfde wyse hardkoppig besig met afgodsdiens (terwyl hulle bely dat hulle die Here dien! - hulle bely dat hulle "Sy wil doen", maar eintlik dien hulle hul eie wil);  alhoewel dit nie lyk soos beeldediens nie, word "eie wil" gesien as beeldediens, want so iemand dien nie (vertrou nie) die wil van die Here nie, maar dien sy eie wil (net soos koning Saul gedoen het). Hy doen soos hyself goeddink. GAAN LEES GERUS WEER DIE VERHAAL VAN KONING SAUL... In sy geval, het die Here selfs Sy Heilige Gees van hom weggeneem!  (1 Sam. 16:14).  Wat ook interessant is van Saul se verhaal, is hoe die Here ook verder geweier het om vir hom te antwoord op sy vrae!   (-Saul het homself toe begewe tot 'n waarsegster (en so nog verder gesondig))!  Baie gelowiges bevind hulself in hierdie plek waar hulle nie meer van die Here "hoor" nie! - hulle moet staatmaak op ander mense om die wil van die Here te hoor, omdat hulle of self nie in 'n verhouding met Hom is nie, of in gewoonte is om hulle eie wil te dien, en die Here daarom nie meer met hulle wil praat nie!  Vgl. dit met die "gelykenis van die saaier" http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/07/hoekom-voel-sommige-christene-dat-die.html. Om die Here te dien, beteken dat jy Sy wil dien (Sy wil vertrou...).
------------------------------------------------------------------- In  Titus 1:7 beteken die woord "eiesinnig" in die Grieks ook, "eie wil" of "arrogant, self-pleasing, self-willed". 
Waar iemand sy eie wil soek, bo die wil van die Here, is hy besig met afgodery! 


==================================================


GEDAGTE VIR DIE WEEK:

(1Sa 15:22)  "Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in GEHOORSAAMHEID AAN DIE STEM VAN DIE HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme".


========================================================================