Wys tans plasings met die etiket wil van die Here. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wil van die Here. Wys alle plasings

Dinsdag 07 April 2020

Vas is 'n manier om die innerlike mens te voed

Wanneer ons vas is dit wel so dat ons geen kos (per mond) inneem nie ja, maar die doel van vas is nie om glad nie te eet nie maar gaan oor wat jy eet  m.a.w. "om vir die innerlike KOS te gee". Wanneer ons kos eet wat vergaan voed ons die uiterlike mens. Wanneer ons kos eet met ewigheidswaarde, voed ons die innerlike mens. Die Christen is m.a.w. besig om sy innerlike kos te gee wanneer hy vas of bid. Jesus het hierdie goed verstaan en ook gewys hoe belangrik vas en/of gebed is;  o.a., terwyl Hy besig was om te vas en die duiwel hom versoek het om te eet, het Hy die volgende opmerking gemaak: (Luk 4:4) - "Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God"). Die mens het wel kos en water nodig om aan die lewe te bly (verwysend na die uiterlike mens), maar volgens Jesus se woorde hier is dit duidelik dat kos (wat vergaan) nie genoeg is om iemand aan die lewe te hou nie! Ons moet verstaan dat net soos ons uiterlike vergaan sonder kos en water, net so vergaan die innerlike as dit nie (die regte soort) kos en water kry nie. Wat help dit jy voed jou uiterlike mens en gee selfs mooi aandag aan wat jy eet deur gesond te probeer eet en genoeg water in te neem sodat jy langer lewe..., maar die innerlike mens word nagelaat? Ons kwel ons maklik oor die lewe, en werk hard vir dit wat vergaan (wat ons eet en wat ons drink, of wat ons aantrek), maar Jesus het vir ons geleer dat die lewe meer is as hierdie dinge! (Mark. 6:25).

Net soos die uiterlike mens het die innerlike mens ook kos nodig, maar hierdie soort "kos" verwys nie na die voedsel wat vergaan nie. Uit sommige van Jesus se leringe kan ons 'n paar dinge leer oor wat presies hierdie "kos" na verwys, bv.:
- (Luk. 4:4) -  "woord van God"
- (Joh. 4:34).- "om die wil vd Vader te doen".
M.a.w., die woorde van God of om Sy wil te doen,  kan dus soos "kos" (vir die innerlike mens) gesien word (Mat 5:6 - "Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word"). Vgl. dit met Joh. 4:32-34 waar Jesus voedsel nie net vgl. met "die wil vd Vader doen" nie, maar dit ook vgl. met "om Sy werk te volbring" - (Joh 4:32-24 - "Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring?  Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring"). Wanneer 'n Christen honger na hierdie dinge, bv. om die wil vd Here te doen en die werk wat die Here vir hom gee, uit te voer, dan is dit soos om TE  EET - (Joh 4:32 - "Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Net soos in die geval met "vas" is gebed en bybelstudie ook maniere waarop ons die innerlike voed. Wanneer 'n Christen bid is hy besig om die Here te soek en na Sy wil te soek.  Jesus Christus is self soos Brood vir die Christen (Joh 6:33-35 - "Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie"). Sonder hierdie "Brood" sal iemand se innerlike honger bly.  En wanneer die Christen Bybelstudie doen is hy besig om te EET (kos te gee vir die innerlike), want hy is dan besig met die woorde van God;  en net so is "om die wil vd Here te doen" (en Sy werk te volbring) soos kos vir die innerlike (Luk. 6:45,46).

Die mens lewe omdat hy asem het, maar sonder kos en water sal hy doodgaan. Op dieselfde wyse is dit belangrik om vir die innerlike mens kos en water te gee, want alhoewel die Christen se innerlike LEWE deur die asem van die Heilige Gees kan hy nie verwag om in die lewe te bly as sy innerlike geen kos (en water) kry nie - en hoe sal hy dan instaat wees om te groei en vrug dra? (Kol. 1:9,10; Joh. 4:34-37; 15:4-8; Rom. 6:22). "Groei en vrug dra" is 'n bewys van wie se innerlike kos en water kry (bv. die wat volhard) en wie nie (bv. die wat honger en dorsly en dan wegval), en wie verkeerd eet (bv. die wat hulle vrug verloor).
Wat "groei en vrug" aanbetref kan Christene in 3 groepe verdeel word (sien Gelykenis vd Saaier):
-  groep 1:  die wat hoor en aanneem, maar nie wortel skiet nie (hulle glo net vir 'n tyd - hulle vergeet);
-  groep 2:  die wat hoor, aanneem en geen of selfs begin vrug dra, maar hulle groei tussen die dorings (die dorings verstik hulle vrug - kan nie vrug dra nie, of  word onvrubaar - hulle glo nog, maar die sorge vd wereld, verleiding vd rykdom, genietinge vd lewe en ander begeerlikhede verstik hulle vrug);
- groep 3:  die wat hoor, aanneem, verstaan en vrug dra, en volhard om vrug te dra (hulle hou die woord in 'n edele en goeie hart).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------


Dinsdag 29 April 2014

Wat het logika daarmee te doen?

In vandag se lewe word enige besluit gekoppel aan "hoe logies dit is".  Die wereld OORDEEL mense bv. op hulle sienings en op wat hulle as LOGIES bestempel.  Mense word ook geoordeel op "kennis" bv. "om reg te eet";  tog verander hierdie "kennis" jaar na jaar en iets wat vandag 'n feit is, is nie meer more so nie, maar almal glo dit vandag!  Mense neem hierdie wereldse kennis aan, omdat dit vir hulle "logies" klink! A.g.v. dieselfde rede begin sommige Christene deelneem aan wereldse praktyke, soos oosterse meditasie en joga, omdat dit vir hulle "logies" klink!  Die skrif noem hierdie soort wysheid, "wereldse wysheid".  Die Here se wysheid is anders as "wereldse wysheid".(Kol 2:20-23) (1Ti 4:1-8). 

Dit klink bv. nie logies dat dit die sonde van die mens is wat die aarde ontheilig nie - mense wil liewer hoor dat dit slegs te wyte is aan een of ander logiese verklaring, as wat hulle wil glo dat die land treur a.g.v. die mens se sonde!  Massas diere gaan dood, wilde diere, voels, visse..., kyk maar na alles wat met aarde gebeur - hoe meer sonde in die land, hoe meer gaan die land treur! (Hos. 4:2,3)(Num. 35:33,34)(2 Sam. 21)(Ps. 106:38)Eseg. 9:9)... Maar alhoewel dit 'n skriftuurlike feit is, is daar selfs baie Christene wat hierdie nie as "logies" gaan bestempel nie!
-------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Deur die eeue het die groot manne van God,  hulle egter min gesteur aan "logika".  Die besluite wat hulle geneem het, was gekoppel aan die Here se wysheid, aan Sy wil, nie volgens wat hulle self gedink het, of wat vir hulle logies was nie:
- Dit was bv. nie logies dat Moses 'n volk in die wildernis inlei, waar hulle almal moontlik kon sterf nie!  (Inteendeel, baie van die volk het ook nie gedink dit is logies nie:- Eks. 14:12- "Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe").
-  Dit was nie logies dat Dawid die groot Goliat aangevat het nie... 
-  Dit was nie logies dat die volk die land Kanaan kon inneem met reuse en al nie...
-  Dit was nie logies dat Abraham sy familie verlaat om na 'n vreemde land te gaan nie...
-  Dit was nie logies dat Noag 'n ark gebou het terwyl daar geen teken instoor was van 'n vloed nie...
-  Dit was nie logies dat Stefanus die waarheid op mense afgedwing het terwyl hy geweet het hulle gaan hom stenig nie! 
-  Dit was nie logies dat Paulus in 'n stad vol afgodsbeelde gaan staan en preek het nie!
...........en so kan ons aangaan...

Die feit is, as ons net dit gaan doen wat logies is, dan gaan dit oor hoe "ons dit sien", en nie oor hoe "die Here dit sien" nie.  Moses het die Vader VERTROU, ten spyte van logika.  So ook Dawid, Josua, Abraham, Noag, Stefanus, Paulus...... Om eerder die Here se wil te doen as om te doen wat logies is, kos GELOOF!  Deur gehoorsaam te wees aan die Here en na Sy wil te soek, het hierdie ou "manne van God" gewys dat hulle geloof het en die wysheid van die Here verkies bo logika, maak nie saak wat ander mense gese het en hoe ander die situasie "gesien" het nie.  (Spr. 21:3- "Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers").- Dit moet gaan oor GEHOORSAAMHEID, nie oor om te doen soos ons goeddink nie!  Dit maak dus sin dat Jesus die gelykenis van die onverdienstelike DIENSKNEG vertel het toe die dissipels vir Hom vra, "gee ons meer geloof" (Luk. 17:5-10). Die Christen vir wie die Here se wysheid belangrik is, is soos 'n DIENSKNEG - hy soek DIE WIL VAN DIE HERE, en wil dit doen.  "Logika" is nie vir hom so belangrik nie, maar eerder wat die wil van die Here is.   Die Christen van vandag lyk ook maar baie soos die "volk in die woestyn" - dit gaan oor die manier hoe ons verstaan en "sien".  In die brief aan die gemeente van Laodicense (Openb. 3:14-22), praat Jesus van hierdie "blindheid" en beveel hulle aan "om salf van Hom te koop vir hulle oe sodat hulle kan sien". So "sien" baie Christene "soos die wereld sien":  hulle begeer rykdom, en die lewe het begin gaan oor "bymekaarmaak" (dinge waarteen Jesus ons spesifiek gewaarsku het);  dit gaan oor status, eer, voorspoed, seen, wereldse kennis...ens. 

 "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind". (Matt. 10:39; 16:25)
-------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:
     DIE CHRISTEN MET DIE "DIENSKNEG  MENTALITEIT", STEUR HOM MIN AAN "WAT LOGIES IS"! - wat vir hom belangrik is,  is die "WIL VAN DIE HERE"!
-(Mat 7:21)  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

-(Mat 12:50)  Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.

-(Joh 5:30)  Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.
=======================================================================
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/08/wies-nou-eintlik-deur-die-gees-gelei.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/07/tot-die-sonde-vol-is.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/01/bloedskuld-4.html

Maandag 28 April 2014

Waar 'n gelowige die Here versoek, wys hy dat hy nie regtig die Here liefhet nie!

In die eerste gemeentes was die gelowiges gewaarsku dat hulle nie dieselfde moes doen soos die volk in die woestyn, wat vir God versoek het nie  -(1 Kor. 10:1-12; Hebr. 3:7-13; Eks. 17:2,7; Num. 14:22,23; Deut. 6:16).  (L.w. dat in hierdie skrifte die betekenis van die woord "versoek", is "om te toets" ("to test" or "try")). Merk ook dat hierdie nie net 'n bevel was vir kinders van die koninkryk nie, maar wel 'n WAARSKUWING!   


(Heb 3:8)  verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,
(Heb 3:9)  waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.
(Heb 3:10)  Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie,
(Heb 3:11)  sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.

EN KYK OOK:

(1Kor. 10:5)  Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.
..............(1Kor. 10:11)  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
(1Kor. 10:12)  Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
---------------------------------------------------------------------------------------------

Baie gelowiges glo dat Jode outomaties gered is omdat hulle kinders van Abraham is, maar die waarheid is dat "geloof" altyd 'n voorwaarde was!  WAAR 'N "GELOWIGE" DIE HERE VERSOEK, WYS DIT DAT HY NIE REGTIG GELOOF HET NIE! Dit is duidelik dat nie almal wat hulleself noem, "kinders van Abraham", in Sy rus sal ingaan nie! (Hebr. 3:11), want Geloof is o.a.:  - om Hom lief te he!  In gebroke huishoudings sien ons min van ware liefde, waar familiede veronderstel is om geduldig te wees met mekaar, lydsaamheid het, vriendelik is met mekaar, nie eie belang soek nie, nie opgeblase nie, nie verbitterd raak nie....(1 Kor. 13).. Wanneer daar geen vertroue is tussen mense nie, dan heers daar 'n soort van onvriendelikheid en ongeduldigheid tussen hulle - hulle neem mekaar kwalik vir letterlik enige iets en  raak  maklik  verbitterd  - iemand wat nie sy metgesel regtig liefhet nie, soek net sy eie belang!  WANNEER CHRISTENE NIE DIE HERE VERTROU NIE, RAAK HULLE OOK ONGEDULDIG MET HOM, is SELFGESENTREERD (soek hulle eie wil, nie die Here se wil nie), raak SELFS VERBITTERD en OPGEBLASE....... (soos die volk in die woestyn).
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Sommige van die volk in die woestyn was so 'n vb van gelowiges wat nie regtig die Here liefgehad het nie -  daarom het hulle die Here versoek:

 (hulle het Hom verag,  na Sy stem nie geluister nie, in sonde gestap, was wederstrewig (Ps. 78:17, 56) - ontevrede, kla, verbitterd, begerig (Ps. 78:18; 106:14)...vra volgens hulle eie wil, praat teen die Here (Ps. 78:19) - het nie vertrou op Sy hulp nie (Ps. 78:22); Sy werke vergeet (Ps. 106:13), nie Sy getuienis gehou nie (Ps. 78:56); was afvallig en het afgodsdiens beoefen (Ps. 78:57,58); afgunstig teenoor die wat tevrede was...en nie gewag op die Here nie (Ps. 106:13)(Ps. 95:11-))  Sommige van hulle het o.a. woorde gebruik soos "is die Here in ons midde of nie?" -die oomblik wat dinge nie so goed verloop het nie, het hulle God bevraagteken en Hom getoets ...asof die Here nie vir hulle sal sorg nie, en nie 'n uitkoms sal gee nie!   OP DIESELFDE WYSE TOETS BAIE GELOWIGES DIE HERE, EN WYS DAT HULLE NIE REGTIG VIR HOM LIEF IS NIE!  HULLE KIES OM SY WIL TE DOEN, MAAR DIE OOMBLIK WANNEER DINGE NIE SO GOED VERLOOP NIE, DAN KOM HULLE IN OPSTAND TEEN HOM!  HULLE IS ONTEVREDE, RAAK VERBITTERD, LUISTER NIE MEER NA SY STEM NIE, DOEN WAT HULLE WIL, VERTROU NIE OP SY HULP NIE, HOU NIE SY GETUIENIS NIE, MAAR KLA GEDURIG EN IS SELFS AFGUNSTIG OP DIE WAT WEL VASHOU AAN HOM! Hierdie gelowiges is soos stout kinders... 'n Kind wat kwaad is oor hy nie kan kry wat hy wil he nie, of ontevrede met sy ouers, kom in opstand teen hulle - hy doen ook opsetlik verkeerd en kom in opstand teen hulle reels/wette. Hy versoek sy ouers deur hulle heeltyd te bevraagteken. Hy is selfgesentreerd en soek net sy eie belang.   Gelowiges wat soos stout kinders is, soek vir hulle 'n "evangelie wat werk!", en skep hulle eie wette en doen soos hulle goeddoen, net soos sekeres van die volk in die woestyn wat die goue kalf gemaak het en ongehoorsaam was aan die Here! Hulle was kwaad vir die Here, en het Hom nie vertrou nie. Baie predikers is besig om die Here van die preekstoel af te versoek deur mensgemaakte wette en leringe te preek wat gaan oor wat "die mens wil he", of "wil hoor"! So iemand is nie tevrede met die Here se wil nie, of met Sy waarheid nie, en nader Hom ook nie om hulp nie, maar skep vir hom 'n evangelie wat hom in sy gehoor streel (soos die goue kalf in die woestyn) - so toets hy die Here se liefde vir hom, maar self is hy nie vir Hom lief nie! Dit is ook om hierdie rede wat baie "die waarheid" wegwys en agter valse leraars aangaan. Hulle vertrou liewer 'n "goue kalf" ('n mensgemaakte evangelie) as om die Here te vertrou!; want as hulle die Here vertrou, dan gaan dit oor "Sy wil", nie oor hulle eie wil nie...

--------------------------------------------------------------------------------


Sondag 27 April 2014

Wanneer jy die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...

Baie Christene ly a.g.v. die feit dat hulle nie die wil van die Here doen nie.  Tog is die persoon wat wel die wil van die Here doen, nie gevrywaar van moeilikheid nie!  Sommige mense sukkel om hierdie twee begrippe te onderskei en kan nie verstaan hoekom 'n opregte kind van die Here ook somtyds ly nie. Job se vriende het dit ook nie verstaan nie...   


Die pad wat ons moet stap om te ontvang wat die Here ons belowe of in stoor het, is nie altyd maklik nie!   

 Dawid was bv. gesalf as koning lank voor hy koning geword het, maar moes o.a. op 'n stadium vlug vir sy lewe omdat koning Saul  jaloers was op hom....
Die magtige profeet, Samuel, het ook nie 'n maklike pad gehad nie en is ter wille van hierdie bediening, op 'n jong ouderdom van sy gesin verwyder...
Die Here het vir Josef gewys in drome hoe hy oor sy broeders sou "regeer"- hiervoor is hy sleggese, verkoop as 'n slaaf, later in die tronk gegooi weens valse getuienis teen hom, ens....

Die dissipels het dit ook nie maklik gehad nie - hulle moes deur baie verdrukkinge gaan, somtyds honger gaan slaap, is in die gevangenis gegooi  en sleggese.... 


Daar is heelwat ander soortgelyke situasies in die skrif.  Toe die Here vir Moses terugstuur na Egipte om die volk te verlos uit die hand van die Farao, was dit moeilike tye vir die volk: 

-Dit is bv. interessant om te merk dat die Farao strenger op hulle geraak het en hulle harder moes werk voor hulle uit die land uit is (Eks. 6:5-23)

-Dit is ook moontlik dat hulle die eerste twee plae self ervaar het, siende God eers met die derde plaag spesifiek onderskeid gemaak het tussen Egipte en die Israeliete (Eks. 8:22,23). 

-Hulle was presies gehoorsaam aan die Here en het die pad geneem wat Hy vir hulle aangewys het, maar bevind hulleself toe vasgekeer met die Farao en sy leermag op hulle hakke. Vir drie dae lank het hulle getrek van die Rietsee sonder water, en toe hulle by Mara kom, is die water bitter!  

-Waar hulle knus in hulle huise gebly het in Egipte met volop vleis, het hulle hul nou bevind in 'n situasie met geen brood en vleis nie........en so kan ons aangaan.  Die feit is, die Israeliete het hierdie situasie nie goed hanteer nie! In plaas van hulle oe te hou op die Here en hulle vertroue in Hom te plaas, lees ons hoe hulle gedurig gekla en gemurmureer het, ontevrede was en Moses en Aaron kwalik geneem het vir die situasie waarin hulle was



Hulle "wonderwerk in wording", was toe nie so maklik nie!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Waarin die volk gefaal het, keer op keer, was om na te laat om die Here aan te roep en vir 'n uitkoms te vra - nee, hulle het liewer loop en kla en bevrees geraak en Moses en Aaron skuld gegee vir hulle omstandighede! Hulle het hul bevind op 'n plek waar hulle geen sekuriteite gehad het nie, maar in plaas van om op die Here te vertrou, het hulle verkies om liewer soos slawe te werk (met wereldse sekuriteite), as om gehoorsaam te wees aan die Here en op Hom te vertrou! (Eks. 14:11,12).  

Die Here stroop ons ook somtyds van alle "sekuriteite" sodat ons op Hom kan vertrou.  Wanneer iemand die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...  So het Hy dieselfde gedoen met die volk - daar was bv. 'n korter pad vanaf Egipte na Kanaan, maar Hy wou hulle nie met daardie pad stuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle a.g.v. hulle onvertroue maar net weer sou teruggaan na Egipte die oomblik as dit nie so goedgaan nie! -(Eks. 13:17,18) - daarom het Hy hulle in 'n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om Hom aan te roep en te vertrou nie.  OP DIESELFDE WYSE STUUR DIE HERE ONS SOMTYDS IN 'N DOODLOOPSTRAAT IN SODAT ONS ABSOLUUT OP HOM KAN VERTROU! Hy snoei ons sodat ons meer vrug kan dra; sodat ons kan leer om Hom te vertrou en op Hom te wag! 

Moses het egter die geloof gehad en die Here telkens geraadpleeg en was tevrede met Sy manier van doen.  Hy het homself onderwerp aan die Here en het nie geskrik vir moeilikheid nie, want die Here was telkens sy uitkoms!  Hy het nie moeilikheid gesien as 'n probleem nie, want sy hoop was in die Here en hy het staatgemaak op die Here se uitkoms en het homself onderwerp aan die Here se wil. 
Moses het GELOOF gehad...
Om geloof te he, beteken nie net o.a. dat ons die wil van die Here doen nie, maar dat ons ook tevrede is met Sy wil, en vashou aan Hom in tyd van moeilikheid.
 -------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE VIR DIE WEEK:


Het ons ook daardie "geloof" wat Moses gehad het?  Wat doen ons wanneer dit lyk of dinge teen ons draai? Tree ons op soos sekeres van die volk gedoen het, deur te kla en op te gee, of vertrou ons eerder die Here? 

(Pred. 11:4)  "Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie".

--------------------------------------------------------------------------------