Wys tans plasings met die etiket sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sonde. Wys alle plasings

Maandag 24 Oktober 2016

Onderskei tussen wat is REIN en wat is ONREIN

Die woord REIN verwys na "skoon ( /gewas)".
Die woord ONREIN verwys na "besoedel".
Die woorde onrein en rein word nie altyd gebruik in die konteks van "sondig" of nie sondig nie, maar beskryf somtyds slegs 'n toestand, of andersins is dit gekoppel aan wette.  In die geval van "wette", moet ons ook onderskei tussen wat is wette van die Here (en Sy wette in die N.T.), en wat is mensgemaakte wette.
_________________________________________________________________________________
- (1)  WETTE wat deur die Here gegee word (oor wat is rein en wat is onrein) gaan beslis oor wat Hy as rein of as onrein verklaar. En kan terloops anders vervul word in verskillende tydperke oor "tyd" afhangende van wat die Here wil. Om dit beter te verduidelik, verwys sommige Christelike kerke hierna as "bedelings".  Nie dat die Here se wette ooit tot niet gaan nie!, maar dat dit anders vervul word in verskillende "tydperke", bv.: In die tydperk voor "Noag se ark", wil dit lyk of die mens nie toegelaat was om enige vleis te eet nie (Gen. 1:29), tog in die tydperk nadat die ark gestrand het was hulle toegelaat om vleis te eet (Gen. 9:3)... In elke tydperk is dit belangrik om te onderskei tussen wat is rein en wat nie (Lev. 10:10), en wat Hy rein gemaak het, mag ons nie onheilig ag nie (Hand. 11:9). Die vraag is nou egter oor watter wette rondom rein en onrein vir die Christen gegee is in die N.T.? In die geval van WETTE WAT DEUR DIE HERE GEGEE WORD wat nie gehoorsaam word nie,  asook die geval met SONDES (waarin iemand stap), word elkeen wat ongehoorsaam is aan hierdie wette, of homself verontreinig deur sonde, gesien as onrein.  (En in geval van wette wat deur die Here gegee word moet ons onthou dat ons "dienaars is van 'n Nuwe Testament"!).


- MENSGEMAAKTE WETTE is wereldse wysheid (Jak. 3:15,16; Kol. 2:8,20-23; 1 Kor. 3:18,19). Dit moet nie gesien word soos "wette van die Here" nie. - Waar die onderwerpe van rein/onrein gaan oor mensgemaakte wette, is dit NIE dinge waardeur die Christen homself kan VERONTREINIG NIE.  Bv., die Jode het geglo dat iemand onrein word wanneer hy met ongewaste hande eet, tog het Jesus iets anders geleer en gese dat om met ongewaste hande te eet, jou nie ONREIN maak nie (Matt. 15:20).  Hy het wette soos hierdie "gebooie van mense" genoem (Matt. 15:9). Paulus verwys ook na hierdie soort leringe as " 'n skyn van wysheid" wat in "eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie" (Kol. 2:20-23). Tog, sou iemand afdwaal v/d waarheid en sy hoop plaas in hierdie dooie werke (Hebr. 9:14), dan sal dit tot gevolg he dat sy GEWETE BESOEDEL (onrein) word! (Hebr. 9:14; Tit. 1:14,15).  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
(2) In die geval van waar rein/onrein 'N TOESTAND BESKRYF:
Somtyds beskryf die woorde rein en onrein slegs 'n toestand, soos bv. in die O.T. was 'n vrou wat 'n kind baar vir 'n sekere tydperk "onrein".  Om "onrein" te wees kan ook verwys na iemand met 'n siekte (Mark. 1:40...), of verwys na iemand se maagdelike toestand (Openb. 14:4; 1 Kor. 7:28-32)....  Wanneer iemand BESOEDEL is met een of ander "gees" (Mark. 1:23...) beskryf dit ook 'n toestand.  In die geval van 'n man wat  trou, en homself dus "besoedel" met sy vrou (en dus maagdelik nie rein nie), word hy nie gesien as onrein omdat hy sondig nie!, maar die onreinheid hier beskryf slegs sy maagdelike toestand;   m.a.w. dit beskryf sy behae in sy vrou en die huwelik waarin hulle geheilig (afgesonder is) vir mekaar - hulle huwelik kan m.a.w. gesien word as REIN (maar hulle is maagdelik besoedel).  Maar as dit sonde is wat behaag word, soos in die geval van buite-egtelike gemeenskap of hoerery, dan beskryf die woord ONREIN nie slegs 'n toestand nie, maar die "gevolg van sonde".  Die persoon wat onrein is a.g.v. sonde, het REINIGING nodig, maar die persoon wat maagdelik nie rein is nie a.g.v. die feit dat hy in 'n heilige huwelik is, het nie reiniging nodig vir sy "onreinheid" nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
- (3) SONDE:
-  SONDE waardeur 'n mens onrein word kan nooit anders vervul word in verskillende tydperke nie - sonde bly altyd sonde.  Dit kan nie gister verkeerd wees en vandag reg wees nie (en kon nie gister jou onrein maak maar vandag nie dieselfde effek he nie!)  -  SONDE het altyd die gevolg dat iemand verontreinig word daardeur (Rom. 6:6).
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE: 



"Rein" en "onrein" verwys nie net na dit wat rein of onrein verklaar is nie, maar ook na dit wat onrein "word" soos in die geval van waar iets of iemand VERONTREINIG word.  Bv., as iets onrein aangeraak of geeet is in die O.T. kon dit veroorsaak dat die persoon wat dit aanraak of eet, ook onrein word...(Lev. 5,7...).  Om dieselfde rede het die Joodse volk, as afgesonderde (heilige) volk vir die Here, geglo dat dit hulle nie geoorloof is om saam met heidene te eet en in hulle huise in te gaan nie (Hand. 10:28), want die heidene (en hulle huise) was ONREIN en dit sou veroorsaak dat hulle hulself verontreinig.  In die visioen aan Petrus het die Here egter aan hom verduidelik (Hand. 10) dat (in die N.T.) GEEN MENS onheilig of onrein genoem mag word nie;  - MAAR NIE in die sin van dat almal rein is van sonde en heilig is vir die Here nie!, maar spesifiek in die konteks van dat dit nie slegs een volk is wat geroep word nie, maar die Here roep mense uit enige nasie om vir Hom kinders te wees (dan Hy "heilig" hulle en maak hulle rein) - natuurlik spesifiek die wat Hom vrees en geregtigheid doen... (Hand. 10:35). Dit beteken dus dat, net soos in die geval van kos, alles vir die Christen rein is! m.a.w., hy kan homself nie verontreinig deur in die heiden se huis te kom of saam met hom te eet nie, want in daardie sin is die heiden "rein";  behalwe in die geval van waar daar in hulle afgodsoffers gedeel word, of die eet van bloed of dit wat verwurg is...-Hand. 15:20;  of waar daar gedeel word in hulle sonde! - 2 Kor. 6:17  -  in sulke gevalle sal die Christen definitief daardeur verontreinig word
_________________________________________________________________________________

http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/10/rein-onrein-verontreinigingreinig.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/03/uit-genade-gered-3.html

Woensdag 16 Maart 2016

Sonde is nie 'n fisiese siekte

Daar is baie soorte siektes, maar ook baie sondes wat siektes genoem word wat nie regtig siekte is nie bv., iemand wat in 'n gewoonte is om te steel of hoereer of om in een of ander sonde te stap, word baiemaal voorgestel as iemand "met 'n siekte". Maar dit is ook nie heeltemal verkeerd om SONDAARS te sien as "ongesteld" nie, want net soos die een met 'n fisiese siekte die geneesheer nodig het, so het die sondaar Die Geneesheer (Jesus Christus) nodig!  Jesus het self die beeldspraak gebruik van hoe die sondaar "genesing" nodig het in Mark. 9:12, maar die antwoord wat Hy gegee het was natuurlik nie die wereldse antwoorde soos medisyne of ander geloofspraktyke  nie, maar eerder "bekering";  en let wel dat Hy Sy prediking begin het met die woorde: "BEKEER JULLE". 
--------------------------------------------------------------------------------------------
Ons moet onderskei tussen 'n fisiese siekte (wat natuurlike medisyne nodig het, en terloops natuurlik ook deur die Here genees kan word) en die beeldspraak wat in Mark. 9 gebruik word. Sonde is nie 'n fisiese siekte nie, maar die persoon wat in sonde verkeer, is "siek" op 'n ander manier. As ons glo dat "sonde" slegs fisiese siekte is, dan sal ons nooit die nodigheid sien van bekering nie (en sal so iemand terloops ook nooit gesond word nie!). 

'n Fisiese siekte is anders bv., " 'n gestremde kind het nie veel beheer oor sy reaksies nie...", maar die persoon wat in sonde stap het wel BEHEER OOR SY REAKSIES!  "Sondes" is nie siektes van die liggaam nie (maar kan wel somtyds siekte van die liggaam veroorsaak!).  Baie is "ongesteld" a.g.v. sondes, maar in plaas van om hulle te bekeer daarvan, gaan soek hulle allerhande wereldse antwoorde. Selfs Christene val in hierdie strik.  'n Christen wat bv. verbitterd is en in die gewoonte om kwaad te spreek van ander, gaan gedurig neerslagtig en ongelukkig voel. Medisyne of die navolg van afgodspraktyke gaan beslis nie hiervoor help nie! - wat so 'n Christen moet doen, is om hom te bekeer van verbittering en kwaadspreek.

Die wereld het nie die antwoord op "geestelike siekte"( a.g.v. sondes) nie! Die antwoord wat die Bybel vir ons gee op hierdie soort siektes,  is "bekeer julle". Medisyne is bedoel vir siektes van die liggaam, nie "siektes" van die hart nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wanneer Jesus verwys het na dit wat die mens onrein maak, het Hy juis verwys na dit wat in die hart aangaan en dan "uit die mond" kom of "iemand sondig omdat sy hart verkeerd is" (m.a.w. dit gaan oor die booshede wat "van hom uitgaan"). Heelwat Christene is vandag onder die miskonsepsie dat almal wat siek is "onrein" is. Sommige van die Fariseers en skrifgeleerdes het ook so geglo (Matt. 15) bv., hulle het geglo "dat wanneer iemand eet met ongewaste hande, dit hulle onrein maak", maar alhoewel so 'n gebaar iemand fisies kan siek maak, moet dit nie verwar word met die onreinheid van die hart nie. Andersins is daar weer heelwat Christene wat vandag glo dat almal wat siek is, dit is a.g.v. sonde of selfs dat hulle bose geeste in hulle het, maar ons moet natuurlik verstaan dat alhoewel sonde iemand fisies kan siek maak, en sommige wel gebind word deur siekte a.g.v. bose geeste, dit natuurlik nie altyd die geval is nie.

Die "onreinheid" waarvan Jesus gepraat het, verwys nie na dit wat die liggaam fisies kan siek maak soos om met ongewaste hande te eet nie, maar na WAT IN DIE HART AANGAAN, en dit is hierdie onreinheid wat gaan saakmaak wanneer ons almal eendag geoordeel word.  Dit gaan dus nie oor "wat van buite af in die mens ingaan" (Matt. 7:15) of "wat in die mond ingaan" (Mark. 7:15) nie, maar oor wat UITGAAN uit die mens.  DIE VRAAG WAT DUS GEVRA MOET WORD IS WAT IN IEMAND SE HART AANGAAN?  (Tit 1:15 - "Alle dinge is REIN vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel").

_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Net soos die wat liggaamlik "siek" is, so word die wat in sonde stap, gesien as "ongesteld".  Hulle het die Geneesheer nodig, maar kan nie genesing van die Here ontvang as hulle hul nie BEKEER nie. 'n Christen wat bv. hoereer agter ander afgodspraktyke aan of stap in aanhoudende sondes sonder om te bekeer daarvan, word gesien as ONGESTELD - so 'n Christen se hart is verkeerd.  Daar word maklik gese dat alles is geoorloof vir die Christen omdat hy alreeds REIN is deur die woord, maar die waarheid is dat almal wat nie in die Here bly nie, weer onrein kan word!  Jesus praat hieroor in Joh. 15:3-7.  Die wat REIN IS, maar nie in Hom bly nie, sal nie vrug dra nie, en die wat nie vrug dra nie, sal uitgewerp word. Die wat (geestelik) ongesteld is het die Geneesheer nodig, maar hoe sal hulle tot bekering kom as hulle nie "hoor" nie?  Jesus het vir ons die voorbeeld gestel en het nie geskroom om tyd te spandeer met die wat "ongesteld" is nie, maar wat baie mis is dat Hy vir hulle DIE WAARHEID gedeel het (terwyl Hy met hulle tyd spandeer het). Hy het hulle nie onvoorwaardelik vergewe nie, maar eerder vir hulle vertel wat hulle moet doen om vergifnis te ontvang. Die liefde wat Hy getoon het was nie om hulle sonde te aanvaar of regverdig nie, maar Hy het hulle eerder opgeroep tot bekering en vir hulle die voorwaardes gestel van wat hulle moet doen om te kan ingaan in Sy koninkryk. Die voorbeeld wat Jesus Christus, ons Geneesheer, vir ons gestel het is baie anders as wat vandag geleer word dat liefde en vergifnis onvoorwaardelik is...?  
Laat die wat die Geneesheer nodig het, hulle tot Hom bekeer!

(Mat 5:8)  Salig is die wat REIN van hart is, want hulle sal God sien.
_________________________________________________________________________________

http://kortbybelopsommings.blogspot.co.nz/2014/10/eerste-beginsels-van-die-prediking.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/02/wat-is-die-sonde-tot-die-dood.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html