Wys tans plasings met die etiket tweede dood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket tweede dood. Wys alle plasings

Dinsdag 05 Mei 2020

Wat gebeur met die mens wanneer hy doodgaan?

Siende almal doodgaan (Ps. 89:48) is hierdie sekerlik 'n onderwerp waaroor daar gesels moet word.
Wat presies gebeur met die mens wanneer hy doodgaan? Nie alles wat vir ons vertel word oor die dood is noodwendig die waarheid nie, en wat iemand glo oor "die dood" is baiemaal 'n aanduiding van watter geloof dit is waaraan hy behoort bv., daar is die wat glo in reïnkarnasie, ander glo dat jy in 'n engel of 'n ster verander, en sommige glo daar is niks na die dood nie, of glo dat die mens dan geheel ophou bestaan....
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die mens se siening oor die dood "vriend" is i.p.v. "vyand", dan kan hierdie leuen veroorsaak dat so iemand vir ewig wegval bv., somtyds word die dood voorgestel soos 'n tipe wedergeboorte i.p.v. om dit te sien soos 'n tyd van "oordeel".  Deels kan dood seker as "natuurlik" gesien word siende almal doodgaan en verganklik is, maar die dood is ook iets waarvoor mense "gereed" moet wees want elke mens word nadat sy uiterlike gesterwe het, geoordeel  (Heb 9:27 - "En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel").

Om te verstaan wat presies met die mens gebeur wanneer hy doodgaan, moet ons darem iets weet vd mens! Ten eerste moet ons onderskei tussen "natuurlike mense" en "geestelike mense" want die oordeel sal verskillend wees vir hierdie twee groepe. "Saad" bepaal wat se soort plant opkom, en wat se soort vrugte dit dra:
"Natuurlike mense" (die gebore uit Adam se saad) is verganklike mense en dra "vrugte vir die dood". Wanneer die mens sterwe word hy alreeds geoordeel bv., gelowiges en ongelowiges gaan na verskillende "plekke" wanneer hulle doodgaan (Luk. 16 ens.) - hierdie kan alreeds gesien word soos "oordeel".  In die geval van  "natuurlike mense" wag hulle gees dan op die "tweede dood", maar geestelike mense wag op "die opstanding" (en sal bv. nie deur die tweede dood gaan nie). Dus, daar vind alreeds 'n tipe oordeel plaas wanneer iemand doodgaan, maar ons moet verstaan dat daar ook verskillende ander "oordele" nog voorlê bv., die "ewige oordeel" (wat saam met die wit troon oordeel gaan geskied) vind op 'n ander tyd plaas as bv. die "regterstoel van Christus"(Rom. 14:10) (wat te doen het met oordeel van gelowiges)(2 Tim. 4:1; 1 Pet. 4:5,17; 2 Pet. 2:1-3,9; 1 Pet. 1:15-17; Jak. 3:1; Hebr. 13:4; Hebr. 10:29,30 ens.).  Daar is ook ander oordele wat gaan plaasvind met Jesus se wederkoms (o.a. die val van Babilon en Armageddon). Die Skrif leer vir ons dat met Jesus Christus se wederkoms die oordeel sal begin by die huis van God. Gelowiges sal geoordeel word op vrug, werke, woord (en sal ook verskillende belonings ontvang), en l.w. dat sommige lote afgesny sal word (vgl. ook hierdie tema met begrippe soos "skape en bokke", "koring en onkruid", "skape en skape" en "koring en kaf").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"Geestelike mense" is soos mense wat "oor gebore" word en hierdie keer nie uit Adam se saad nie maar uit God se saad (die soort plant wat opkom is instaat om daardie soort vrug te dra wat vrug is tot ewige lewe)(dus nie verganklik nie, maar onverganklik) - maar natuurlik is dit nie hulle "uiterlike" wat vernuwe word met wedergeboorte nie (want dan sou hulle uiterlike glad nie sterf nie), maar dit is die "innerlike" wat vernuwe word (2 Kor. 4:16)(hulle ontvang die Heilige Gees - hulle "lewe" deur die asem vd Heilige Gees, en die Gees hou hulle in bewaring tot die dag van verlossing).  Hier sien ons dat ons ook moet onderskei tussen die UITERLIKE MENS en die INNERLIKE MENS (die mens van binne). Geestelike mense gaan wel nie deur die tweede dood nie want hulle "gees" is vernuwe, en hulle het ook die belofte van opstanding eendag in 'n nuwe uiterlike (onverganklike) liggaam! (dus sal hulle uiterlike ook eendag vernuwe word).


Ons ween nou wanneer 'n geliefde doodgaan, maar anders as die goddelose het gelowiges hoop om mekaar eendag weer te sien (m.a.w., wanneer hulle opgewek word-1 Pet. 1:3; Joh. 5:29; Dan. 12:2,3; Hand. 24:15...). Op dieselfde wyse het die dissipels se droefheid in blydskap verander met Jesus se opstanding uit die dode (Joh. 16:20-22; Rom. 6:9). Gelowiges het die wete dat hulle mekaar wel sal sien na die dood en het nie net hierdie hoop nie maar ook die hoop om mekaar weer te sien in die opstanding eendag.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


"Geestelike mense" (wedergeborenes) sal nie vergeet word in die graf nie maar het die belofte dat hulle die dood sal oorwin (verwysend na die wat "vashou" en hulle klere bewaar) - dieselfde kan nie gesê word van die wat nie glo nie.  Wanneer iemand sterf (verwysend na die uiterlike mens wat doodgaan) is dit 'n reg wat weggeneem word want elkeen wat sterwe kan nie lewe op die aarde nie, maar daar is iets groters waarvoor die mens nog meer moet vrees - en dit is nie wanneer net die liggaam (verwysend na die uiterlike mens) verderwe word nie maar wanneer beide die liggaam en siel (verwysind ook na die innerlike mens - die mens se gees) verderwe kan word (Matt. 10:28)(genoem "tweede dood", of "die oordeel vd hel").

Die dood is soos 'n VYAND en ons is veronderstel om dit te vrees! (Matt. 10:28). Jy kan bv. nie vir enige iemand vertel dat hy na die dood met sy geliefdes gaan verenig nie want die waarheid is dat gelowiges en ongelowiges na verskillende plekke gaan. Jy kan ook nie vir 'n ongelowige leer dat "dood" bloot natuurlik is en slegs 'n oorgang na die volgende lewe en hy dit glad nie hoef te vrees nie..., want die waarheid is dat almal alreeds 'n oordeel ontvang wanneer hulle doodgaan. Die dood is beslis iets wat moet gevrees word as iemand nie wedergebore is en "met Christus beklee" is nie, en selfs "geestelike mense" wat nie in die Here bly nie, moet dit vrees. Verder is die plek waarna ongelowiges gaan ook 'n plek van pyniging (kyk gelykenis van die ryk man en Lasarus), en die oordeel vd hel (die poel van vuur) 'n oordeel wat natuurlike mense en die wat gesien word as onregverdig of ongelowig, definitief nie gaan vryspring nie! Ja, die loon vd sonde is DIE DOOD, en as iemand nie afwassing kry van sondes nie dan is sy uiteinde "die dood". Elke natuurlike mens moet verstaan dat dit nie net hulle uiterlike is wat sterf nie maar dat hulle a.g.v. sonde en ongeloof bestem is vir ewige oordeel, en dus bestem is vir "die tweede dood" (poel van vuur);  tensy hulle hul  tot die Here bekeer en glo in die Een wat die mag het om hulle vry te koop van die dood! Daar is geen saligheid na die dood nie (1 Kor. 15:26,55) - saligheid moet verkry word voor iemand doodgaan (voor die uiterlike mens sterwe).  Elke mens het nodig om verlos (vrygekoop) te word uit die mag vd doderyk (Hos. 13:14), want as hy nie hierdie verlossing (redding/saligheid) kry nie, dan is hy nog oppad na dit waarvoor natuurlike mense (gebore uit die saad van Adam) bestem is, nl. "die ewige oordeel" (die tweede dood)(die oordeel vd hel).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Sondag 05 April 2020

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie?

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie maar wanneer hy sy laaste asem uitblaas (1 Kon. 17:17; Job 3:11; Gen. 25:8)- ...en dan stop die hart.  Ons weet goed dat solank iemand ASEM het die hart weer aan die gang gemaak kan word, maar sou die asem die liggaam (of meer presies "uiterlike mens") verlaat is dit nie meer moontlik nie en hy moet dan eers die asem terugkry voor sy hart weer aan die gang kan kom. 'n Goeie vb. hiervan is die van die twee toekomstige getuies in Openb. 11:11 - (Openb. 11:11 - "En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het"). Wanneer iemand die asem uitblaas, verlaat die "siel" ("siel" 'n woord wat somtyds gebruik word van die innerlike mens - die mens van binne) die liggaam. Ons sien 'n vb. hiervan in 1 Kon. 17 waar Elia tot die Here bid en vra dat 'n kind se siel in hom terugkeer (1 Kon. 17:21,22).

Asem verander iemand in 'n lewende siel (Gen. 2:7) en dus, sonder asem kan niemand op aarde lewe nie. In ander woorde, "geen dode se siel kan terugkeer sonder ASEM nie", of niemand kan 'n "lewende siel" wees sonder asem nie. Die hart is nie dit wat bepaal of iemand doodgaan of nie maar "asem" is dit (alhoewel die hart wys of iemand nog in die lewe is of nie).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Elke dag bid ons "dankie Here vir 'n nuwe dag" en tereg!, want elke dag is nog 'n dag wat aan die mens geleen word. Die gebore in verganklikheid en sonde verdien nie om te lewe op aarde nie, maar God is barmhartig en uit genade gee Hy aan elkeen asem en 'n kans om te lewe op aarde (asook terloops 'n kans om vir ewig te lewe!). Elkeen se "asem" is in Sy hande, nie in ons hande nie (Job 34:14,15 - "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer"). In ander woorde, hetsy iemand Hom dien of nie dien nie, hy is afhanklik van die Here!, want sonder die asem wat God gee kan niemand lewe nie. (1Sa 2:6 - "Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom")(Rom. 14:9).

Maar Sy genade is baie groter as dit want dit is nie net lewensjare wat aan elkeen geskenk word nie, maar Hy gee ook aan elke mens die kans om vir ewig op aarde te lewe - natuurlik verwysend na die wat Sy voorwaardes nakom, bv. om te glo in Jesus Christus. Vir iemand om vir ewig te kan lewe, moet hy logies gesproke opgewek word siende almal doodgaan, maar niemand kan eendag opwekking tot lewe verkry as hy nie glo in die Een wat die mag het om hom op te wek nie.  Bv., Jesus Christus is die een wat hierdie "opwekking" sal doen (Joh. 6:39-44);  dus, as iemand nie in Hom glo nie, hoe sal hy dan opgewek kan word? En niemand kan hierdie opwekking verkry as hulle sondes nie afgewas is nie, en hierdie afwassing kan nie verkry word deur enige bloedoffer nie. En niemand wie se innerlike vrugte dra vir die dood, kan tog lewe verwag nie!  Slegs die wat die Heilige Gees of die krag vd Heilige Gees ontvang, is instaat om vrug te kan dra tot ewige lewe - en die Een wat hierdie Gees gee is weer-eens, Jesus Christus! M.a.w., niemand kan weergebore word as hy nie glo in die Een wat instaat is om sy sondes weg te was (en aan hom die Heilige Gees te gee nie). So ja!, GELOOF IN JESUS CHRISTUS is dit wat nodig is om eendag vir ewig te kan lewe. Daar is dus 'n groep mense wat (d.m.v. geloof) uitgekies word op hierdie aarde om eendag weer op te staan en vir ewig te lewe. Hulle sal weer "asem" kry...(Eseg. 37:5 - "So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word"). Almal gaan wel dood (verwysend na die uiterlike mens) en almal verdien om deur die tweede dood (oordeel vd hel) te gaan (verwysend na die innerlike mens), maar in Jesus Christus gee die Here elkeen die geleentheid om weer eendag opstanding te verkry (Joh. 5:28) asook vir ewig te lewe en hierdie mense sal die tweede dood (Openb. 2:11; 20:6,14; 21:8) vryspring.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------