Wys tans plasings met die etiket vrug tot ewige lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vrug tot ewige lewe. Wys alle plasings

Woensdag 20 Mei 2020

Hoe siekte vrug affekteer

Wanneer Jesus Christus terugkom sal elke Christen (saad-plant-boom) se vrug geoes word.  Maar in hoedanige toestand sal elkeen se vrug wees?, en sal daar enige vrug wees om geoes te word? (Mark. 4:26-29; Matt. 13:30-43).  "Geestelike mense" (weergeborenes) is veronderstel om "vrug te dra tot ewige lewe" (maw vrug wat vir hulle die ewige lewe oes)(Joh. 4:36; Rom. 6:22), maar nie almal dra vrug nie, en nie alle vrug is gesond en bruikbaar nie.  En nie alle "plante" skiet eens wortel!, of bereik die stadiums van groei en vrug nie;  en somtyds word vrug verstik deur ander dinge soos dorings...
In die gelykenis vd Saaier word hierdie nogal goed verduidelik, en ons kan daaruit leer dat
Christene in 3 groepe verdeel word, nl.
(1) die wat die woord aanneem, maar geen wortel skiet nie;
(2) die wat die woord aanneem, wel wortel skiet, asook groei en vrug dra, maar weer hulle vrug verloor of onvrugbaar word;
(3) en die wat die woord aanneem, wortel skiet, groei, vrug dra, en die vrug behou en/of meer vrug dra.

Wanneer vrug geoes word word bepaal watter vrug behou, en watter uitgegooi word. Wanneer Jesus terugkom sal iets soortgelyk gebeur wanneer Hy Sy dorsvloer skoonmaak, en daar sal skeiding gemaak word tussen "koring en onkruid" (ware en valse) en "koring en kaf" (die met vrug, en die sonder vrug).
Mat 13:30 - " Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur".
- Luk 3:17 - " Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Nie alle vrug is bruikbaar nie, en nie alle dele van 'n vrug nie. As 'n vrug bv. gewond is het dit baiemaal tot gevolg dat groot dele vd vrug uitgesny en verlore gaan.  Slegte vrug word net eenvoudig weggegooi! En somtyds is daar niks om te oes nie omdat dorings die plant verstik, of 'n plant het baie van sy vrug verloor omdat dit siek is.  Hierdie word ook in die Skrif in beeldspraak gebruik van Christene.

Siende elke Christen veronderstel is om te groei en vrug te dra, kan die toestand van hulle vrug ook op hierdie manier verduidelik word.  Sekere gelowiges word bv. somtyds na verwys as "siek" (en ons moet verstaan wat hiermee bedoel word).  As 'n Christen "siek" of ongesteld is sal dit beslis sy vrug beïnvloed. 'n Siek plant kan steeds vrug dra, ja, maar siekte het 'n invloed op vrug wat tot gevolg het dat groot dele vd vrug dalk weggesny en verlore gaan, en in uiterste gevalle kan "siekte" selfs die dood van 'n plant veroorsaak!  Of bv. veroorsaak dat die wortel vrot (wat somtyds gered kan word, en somtyds nie).  Hierdie is belangrik om te onthou wanneer daar na "siek" gelowiges verwys word.  Wanneer 'n Christen siek is (m.a.w., a.g.v. sonde) beteken dit nie dat hy nie meer vrug kan dra nie, maar hy mag in die proses baie van sy vrug verloor, en in uiterste gevalle kan sy "siekte" veroorsaak dat die wortel begin vrot, of kan moontlik "doodgaan".  "Siek" Christene is op hierdie gevaarlike plek en as hulle nie "medisyne" neem nie, kan dit onvrugbaarheid, of selfs die dood tot gevolg hê. Somtyds word 'n siekte genees (Jak. 5:19);  en somtyds lei dit tot die dood (Joh. 11:4).  Op dieselfde wyse word "siek" Christene somtyds genees, en somtyds nie! - somtyds lei dit tot die dood... Vgl. hierdie gerus met die tema van "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei - 1 Joh. 5:16,17; Jak. 1:15; Rom. 6:16). Slegs sondes waarvan iemand hom bekeer, kan vergewe word. As 'n Christen kies om in sonde te stap wat tot die dood lei, kan hy nie verwag om "lewe" daaruit te oes nie.

Ander beeldspraak wat ook gebruik word is die van "gewondes".  'n Gelowige wat gesien word as "gewond" kan ook groot dele van sy vrug verloor, of selfs onvrugbaar word! (sou hy hom steeds nie bekeer na sy wonding nie) - om dit heeltemal te verstaan moet ons natuurlik ook weet waarna die begrip "gewondes" verwys in die Skrif.  Gelowiges wat voorgestel word as "gewond" verwys nie net na die wat in sonde stap sonder om hulle daarvan te bekeer (soos "siekes") nie, maar meer presies na "siekes" wat deur die Here getugtig word omdat hulle nie wil hoor nie, met die doel om hulle te beweeg tot bekering. "Gewondes" kan miskien ook vgl. word met die tema van "blindes" in die Skrif (die wat lou is, "vergeet", hulle harte en sinne verhard ens.- het blind geword en kan nie meer "sien" nie)(het "salf" nodig). Elke Christen wat in sonde stap waarvan hy hom nie bekeer nie (bv. leunaars, diewe, dronkaards, kwaadsprekers, hoereerders, onbarmhartiges ens.) staan die gevaar om so "gewond" te word... (m.a.w om deur die Here getugtig te word). Gewondes verwys nie na gelowiges wat geen vrug dra nie, want dan sou hulle nie eens kans kry nie! (Joh 15:2; Matt. 3:10). Dit is 'n seer proses waarin diesulkes beslis vrug (wat hulle alreeds dra) verloor, ja, maar die snoei en skoonmaak is goed vir hulle (Openb. 3:19). 'n Gewonde kry 'n kans om reg te maak!, en hy moenie kwaad word omdat hy getugtig word nie, want al manier hoe hy van sy wond genees kan word (m.a.w. die manier hoe hy onder die tugtiging kan uitkom) is deur hom te bekeer (van die sonde). Die tugtiging is belangrik want dit is beter vir so iemand om dele van sy vrug te verloor as om sy lewe te verloor. Sou hy egter steeds na die tugtiging hom nog nie bekeer nie en bv. sy hart verhard, staan hy beslis in gevaar om heeltemal onvrugbaar te word en sal opeindig soos iemand "sonder vrug" - (Joh. 15:2 - "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2020/04/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html

Sondag 05 April 2020

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie?

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie maar wanneer hy sy laaste asem uitblaas (1 Kon. 17:17; Job 3:11; Gen. 25:8)- ...en dan stop die hart.  Ons weet goed dat solank iemand ASEM het die hart weer aan die gang gemaak kan word, maar sou die asem die liggaam (of meer presies "uiterlike mens") verlaat is dit nie meer moontlik nie en hy moet dan eers die asem terugkry voor sy hart weer aan die gang kan kom. 'n Goeie vb. hiervan is die van die twee toekomstige getuies in Openb. 11:11 - (Openb. 11:11 - "En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het"). Wanneer iemand die asem uitblaas, verlaat die "siel" ("siel" 'n woord wat somtyds gebruik word van die innerlike mens - die mens van binne) die liggaam. Ons sien 'n vb. hiervan in 1 Kon. 17 waar Elia tot die Here bid en vra dat 'n kind se siel in hom terugkeer (1 Kon. 17:21,22).

Asem verander iemand in 'n lewende siel (Gen. 2:7) en dus, sonder asem kan niemand op aarde lewe nie. In ander woorde, "geen dode se siel kan terugkeer sonder ASEM nie", of niemand kan 'n "lewende siel" wees sonder asem nie. Die hart is nie dit wat bepaal of iemand doodgaan of nie maar "asem" is dit (alhoewel die hart wys of iemand nog in die lewe is of nie).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Elke dag bid ons "dankie Here vir 'n nuwe dag" en tereg!, want elke dag is nog 'n dag wat aan die mens geleen word. Die gebore in verganklikheid en sonde verdien nie om te lewe op aarde nie, maar God is barmhartig en uit genade gee Hy aan elkeen asem en 'n kans om te lewe op aarde (asook terloops 'n kans om vir ewig te lewe!). Elkeen se "asem" is in Sy hande, nie in ons hande nie (Job 34:14,15 - "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer"). In ander woorde, hetsy iemand Hom dien of nie dien nie, hy is afhanklik van die Here!, want sonder die asem wat God gee kan niemand lewe nie. (1Sa 2:6 - "Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom")(Rom. 14:9).

Maar Sy genade is baie groter as dit want dit is nie net lewensjare wat aan elkeen geskenk word nie, maar Hy gee ook aan elke mens die kans om vir ewig op aarde te lewe - natuurlik verwysend na die wat Sy voorwaardes nakom, bv. om te glo in Jesus Christus. Vir iemand om vir ewig te kan lewe, moet hy logies gesproke opgewek word siende almal doodgaan, maar niemand kan eendag opwekking tot lewe verkry as hy nie glo in die Een wat die mag het om hom op te wek nie.  Bv., Jesus Christus is die een wat hierdie "opwekking" sal doen (Joh. 6:39-44);  dus, as iemand nie in Hom glo nie, hoe sal hy dan opgewek kan word? En niemand kan hierdie opwekking verkry as hulle sondes nie afgewas is nie, en hierdie afwassing kan nie verkry word deur enige bloedoffer nie. En niemand wie se innerlike vrugte dra vir die dood, kan tog lewe verwag nie!  Slegs die wat die Heilige Gees of die krag vd Heilige Gees ontvang, is instaat om vrug te kan dra tot ewige lewe - en die Een wat hierdie Gees gee is weer-eens, Jesus Christus! M.a.w., niemand kan weergebore word as hy nie glo in die Een wat instaat is om sy sondes weg te was (en aan hom die Heilige Gees te gee nie). So ja!, GELOOF IN JESUS CHRISTUS is dit wat nodig is om eendag vir ewig te kan lewe. Daar is dus 'n groep mense wat (d.m.v. geloof) uitgekies word op hierdie aarde om eendag weer op te staan en vir ewig te lewe. Hulle sal weer "asem" kry...(Eseg. 37:5 - "So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word"). Almal gaan wel dood (verwysend na die uiterlike mens) en almal verdien om deur die tweede dood (oordeel vd hel) te gaan (verwysend na die innerlike mens), maar in Jesus Christus gee die Here elkeen die geleentheid om weer eendag opstanding te verkry (Joh. 5:28) asook vir ewig te lewe en hierdie mense sal die tweede dood (Openb. 2:11; 20:6,14; 21:8) vryspring.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------