Saterdag 30 Januarie 2016

Wie is almal "kinders van die Koninkryk"?


Jesus het die term "Kinders van die koninkryk" spesifiek gebruik vir (1)  die "goeie saad" (Matt. 13:37,38)(en hierdie saad word ook deur Hom gesaai), maar Hy het ook die term gebruik in konteks met (2) die wat (in die vlees) kinders van Abraham, Isak en Jakob is  (Matt. 8:11,12)(kyk ook Eks. 19:6, Hand. 3:25). 


- die wat KINDERS VAN ABRAHAM is in die vlees, is die wat gebore is uit die geslag van Abraham, Isak, Jakob...);

- die wat KINDERS VAN ABRAHAM is in die gees, is die Christene - uit enige nasie en taal (Gal. 3:26-29).  

"KINDERS VAN ABRAHAM" is immers "kinders van die geloof" (Gal. 3:7)(EN GOD IS HULLE VADER), maar as 'n kind van Abraham nie glo nie, dan word hy geestelik nie regtig gesien as 'n "kind van Abraham" nie! (Joh. 8:39-41)(en so iemand het dan eerder die duiwel as vader - Joh. 8:44). Kyk wat het Jesus vir die ongelowige "kinders van Abraham" gese:  -Joh 8:47 ("Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie"). Dit is dus duidelik dat alhoewel 'n kind van Abraham (hetsy vleeslik of geestelik), dit slegs die KINDERS VAN GELOOF is wat sal ingaan in die konikryk!  Beide die Joodse volk en alle Christene (Jood en heiden tesame), word gesien as "kinders van die koninkryk", maar GELOOF sal bewys of iemand regtig deel is van die nageslag van Abraham...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
NA WIE VERWYS "DIE JOODSE VOLK"?  
Alhoewel die woord "Jode" algemeen verwys na al die kinders van Abraham in die vlees (in die geslag Abraham, Isak, Jakob of Israel, 12 stamme...), was dit nie altyd verwysend na die hele volk nie, maar meerendeels na die "uit die stam van Juda" (Hebreeus: 'yeh-hoo-dee'). En al is dit tegnies verkeerd, is die term "Jode" wel later gebruik vir die hele volk, en ook vandag;  en lyk dit of dit ook in die eerste gemeentes algemeen gebruik was vir al die kinders van Abraham in die vlees. Die oospronklike woord wat gebruik is vir "Jode", was Hebreërs - dit is ook nog 'n manier hoe Paulus na homself verwys in Fil. 3:5.  Die eerste keer wat die woord "Hebreër" gebruik is, was in Gen. 14:13 van Abraham - "Eberite".
So daar word na die volk verwys op verskillende maniere:
-  as "Hebreërs" (omdat kinders van Abraham)
-  as "Israeliete" (omdat kinders van Jakob)
-  of as "Jode".  Na die dood van koning Salomo het die nasie in twee koninkryke verdeel, nl. "die koninkryk van Juda" (die suidelike 2 stamme), en "die koninkryk van Israel" (die noordelike 10 stamme)(1 Kon. 12; 2 Kron. 10). Op daardie stadium kon die term "Jode" dus verwys het na enige iemand uit die stamme van die "koninkryk van Juda" (m.a.w. stam van Benjamin of stam van Juda)(en natuurlik ook uit die stam van Levi, asook dele van ander stamme wat oor koninkryk versprei was).  Ook in Esra 2:5,6 en 4:1-12 is 'n voorbeeld van waar die term Jode verwys na "die uit die stam van Juda", asook die "uit die stam van Benjamin". 


In omtrent 722 v.C. was die "10 koninkryke" (koninkryk van Israel) weggevoer deur die Assiriers, en hulle is versprei oor die aarde.  Die "koninkryk van Juda" het dus oorgebly in die land, en daar was oor die algemeen na hulle verwys as Jode. In skrifte soos 2 Kon. 16:1 verwys die term "Jode" dus slegs na die stam van Juda, maar dit is duidelik dat alhoewel die term "Jode" oorspronklik gebruik was vir die gebore uit die stam van Juda, die term wel later gebruik was as verwysend na die 12 stamme van Israel. (http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/03/waarna-verwys-die-term-jode.html).
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Alhoewel die gesegde "eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God" geensins skriftuurlik is nie, is dit tog nie heeltemal verkeerd nie; maar dit geld slegs in geval waar iemand ook die voorwaardes van geloof nakom! Hierdie gesegde word baiemaal verkeerd gebruik deur Christene wat terugval in sonde en sonder vrees nalaat om hulle te bekeer omdat hulle glo dat maak nie saak wat hulle doen nie, hulle nooit hulle saligheid kan verloor nie;  tog is dit in teenstelling met wat die Skrif leer en wat Jesus geleer het!   Kyk ons bv. na die wat kinders van Abraham is in die vlees (en dan spesifiek in die geslaglyn van Abraham, Isak, Jakob...)(die wat gesien is as die kinders van die koninkryk),  dan moet ons ook kennis neem van Jesus se woorde dat baie van hulle uitgedryf sal word! (Matt. 8:12). Baie natuurlike takke is afgebreek as gevolg van ongeloof, maar ons wat nou ingeeent word, moet nie hoogmoedig wees nie, want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, dan sal Hy beslis ook nie vir ons spaar as ons ongelowig is nie... (Rom 11:21). Ons moet verstaan dat gehoorsaamheid en "om die wil van die Vader te doen" juis bewys dat ons glo.  As 'n Christen weer homself of die sonde begin dien, dan is hy nie besig om die Here te dien nie!  M.a.w., dan glo hy nie. Die persoon wat tot geloof kom en deur die Christelike doop gaan, is wel nou DEEL VAN GOD SE VOLK en word gesien as "kinders van die koninkryk", maar die wat geen of nie die nodige vrug dra nie, sal ook uitgekap word - net soos gebeur met baie van die natuurlike takke weens ongeloof...;  alhoewel, net soos ons 'n kans gekry het, sal ook hulle, as hulle nie in die ongeloof bly nie, weer ingeënt word... - Rom. 11:23).  

_________________________________________________________________________________
http://kortbybelopsommings.blogspot.co.nz/2014/10/wie-is-die-kinders-van-die-koninkryk.html

Sondag 24 Januarie 2016

Wanneer is iemand regtig volwasse?

In die samelewing word iemand gewoonlik as 'n volwassene gesien wanneer hy/sy 'n sekere ouderdom bereik het.  Ons weet egter dat sekere mense gouer volwassenheid bereik as ander en weet dat dit nie alleen deur ouderdom bepaal word nie.  Die vraag is egter wat dit dan nou eintlik is wat bepaal wanneer iemand volwasse is of nie?  M.a.w., WAT IS DIE VERSKIL TUSSEN 'N KIND EN 'N VOLWASSENE?  In die samelewing speel kennis 'n groot rol om dit te bepaal.  Kinders wat skool voltooi kry bv. beter werke in die grootmenslewe en word ook meer deur die samelewing vertrou as die wat vroeer uit die skool gaan.  Kinders sukkel om verder te gaan leer as hulle nie skool voltooi het nie en diesulkes bevind hulle dan in 'n grootmenslewe waarvoor hulle nie noodwendig al gereed is nie. Ouers vrees ook dat as hulle kinders vroeg uit die skool gaan, hulle verkeerde besluite sal neem en maklik na verkeerde mense kan luister omdat hulle nog nie goed kan onderskei tussen goed en kwaad nie. KENNIS speel dus 'n groot rol en die met meer kennis word gesien as meer volwasse. Maar WYSHEID speel ook 'n baie groot rol.  Kinders wat vroeer "wys" is, word makliker vertrou en posisies gegee wat ander kinders nie noodwendig toekom nie.

Die manier hoe die samelewing volwassenheid beskryf, is nie veel verskillend van die manier hoe die Skrif "kinders of volwassenheid in die geloof" beskryf nie.  Die skrif maak ook 'n duidelike onderskeid tussen die wat nog KINDERS is in die geloof, en die wat soos VOLWASSENES gesien word.  Inteendeel, daar word selfs ook gepraat van "babas" en "jongmanne"! Elkeen van hierdie groepe in die Christendom kan deeglik beskryf word en is herkenbaar net soos in die samelewing.  Die vgl. word ook gemaak van hoe babas en kinders in die geloof eerder met melk gevoed moet word, en dat vaste spys is vir die volwassenes (Hebr. 5:13; 1 Kor. 3:2)(natuurlik geestelik bedoel).  Jongmanne word beskryf as "sterk" en die wat die "bose oorwin het en die woord van God bly in hulle" (1 Joh. 2:14).  Hierdie is alles beeldspraak om, net soos in die samelewing, te beskryf hoe die Christen (geestelik) groei.
________________________________________________________________________________
Kom ons kyk wat die Skrif ons leer oor hoe 'n KIND IN DIE GELOOF beskryf word:
(Eph 4:13,14)(Hebr. 5:14)
- (1) hulle word maklik soos golwe geslinger en
(2) word heen en weer gedryf deur elke wind van lering (deur die bedrieëry van die mense deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring)
- (3) het nog nie volkome tot die eenheid van die geloof gekom nie
- (4) het nog nie volkome tot die eenheid van die kennis van die Seun van God gekom nie
- (5) hulle besit nog nie geestesvermoens (deur die gewoonte geoefen) om goed van kwaad te onderskei nie.

NET SOOS DIE BELANGRIKHEID VAN KENNIS EN WYSHEID IN DIE SAMELEWING, IS DIT BELANGRIK IN DIE GEESTELIKE GROEI-PROSES VAN DIE CHRISTEN.  Pasgebore kindertjies het melk nodig  -  in beeldspraak verwys "melk" na die WOORD (1 Pet. 2:2).  Elke baba in die geloof het die WOORD nodig om te groei. Die wat egter nog melk gebruik is nog onervare in die woord van geregtigheid (Hebr. 5:13), maar hulle verlang daarna soos 'n baba melk soek. Christene wat terugval in sonde (soos die wat afgunstig is en kwaadspreek van ander ens.) begeer nie meer om geleer te word deur die woord nie - in 1 Pet. 2 word diesulkes beveel om die sondes af te le en weer te verlang na hierdie onvervalste melk, nl. die woord. Wanneer ons ag gee op die woord, op die waarheid, dan kan ons groei. Hierdie is ook iets waaroor Jesus gedurig gepraat het oor hoe ons moet HOOR (in die sin van hoe ons moet ag gee daarop). 

Die wat "kinders" is in die geloof se sondes is vergewe, ja, en hulle ken die Vader (1 Joh. 2:12-14), maar het nog baie insig nodig. Hulle is soos kinders (wat maklik verkeerde besluite neem, val vir groepsdruk, en as hulle iemand vertrou glo hulle enige iets wat hulle hoor).  Net soos ouers maar te bewus is van die gevaar as hulle kinders op 'n jong ouderdom die huis verlaat, net so moet ons bedag wees op die "kinders" in die geloof wat maklik kan val vir valse leerstellings wanneer hulle onder groepsdruk verkeer en hulle vertroue in 'n verkeerde plaas omdat hulle nog sukkel om te onderskei tussen goed en kwaad.  "Kinders" in die geloof het nog die leiding van 'n volwassene nodig sodat hulle nie verkeerde besluite neem nie, en des te meer die leiding van die Heilige Gees. As "kinders in die geloof" kan leer om te vas, sal hulle die wysheid en kennis van die Here ontvang wat hulle nodig het en meer ingestel wees op wat die Gees vir hulle se. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Om "soos 'n kind" te wees word deels as positief beskryf in die Skrif, maar dit word ook somtyds as negatief gesien, want dit gaan eerder oor die tipe vergelyking wat gemaak word.  Jesus het bv. vir ons geleer "om soos kindertjies te word" (Matt. 18:3-7), maar wat Hy hiermee bedoel het is nie dat ons nooit tot geestelike volwassenheid moet groei nie, maar dat ons onself moet VERNEDER soos kindertjies. Inteendeel, dit is hierdie element (nederigheid) wat kortkom in baie van ons hoekom ons nooit groei tot volwassenes in Christus nie!  Kinders wat dink hulle weet alles, leer niks.

Die doel van die apostels, profete, evangeliste, herders en leraars was om die heiliges toe te rus vir dienswerk SODAT HULLE NIE MEER KINDERS SOU WEES NIE...(Ef. 4:12-14).  In 'n mate bly ons almal kinders wat nooit ophou leer nie, maar wat die verskil maak tussen 'n kind en 'n volwassene is dat die volwassene hom nie sommer deur enige iemand laat leer of lei nie omdat hy oor die vermoens beskik om te kan onderskei tussen goed en kwaad; die kind aan die ander kant laat hom deur enige iemand lei vir wie hy vertrou of wat hom in die gehoor streel.  Alle Christene, hetsy nog kinders in die geloof, of volwassenes,  moet hulleself verneder voor die Here en Sy wysheid en kennis begeer. Jesus het vir ons hierdie waarhede kom deel, maar as ons nie ag gee daarop nie (en gevoed word deur die woord nie), dan sal ons nie groei nie.  En Hy het vir ons die Gees gegee - ware wysheid en kennis is nie regtig iets wat met ouderdom kom nie, maar iets wat van die Gees kom! (Job 32:8,9).  Wanneer Christene begin dink dat hulle nie meer Bybelstudie of lering nodig het nie en wysheid soos dwaasheid begin sien, dan gaan hulle ook nie veel verder in hulle geloof groei nie! 'n Kind het insig nodig - hy moet nog "geleer" word.  Op dieselfde wyse het die wat nog kinders in die geloof is, insig nodig.  As hulle nie wil leer nie, dan kan hulle nie groei tot volwassenheid nie.  Kinders van die Here moet hulle daagliks verneder voor die Here sodat hulle nie miskien soos moeilike tieners uitdraai nie. Tieners is geneig om te dink dat hulle al volwasse is, maar maak nog die foute van 'n kind, (soos om vir groepsdruk te val en as hulle iemand vertrou glo hulle enige iets wat hulle hoor).  Die wat nog kinders in die geloof is val juis maklik in hierdie selfde strik want hulle word heen en weer gedryf deur elke wind van lering en besit nog nie geestesvermoens om goed van kwaad te onderskei nie.  (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/11/hoekom-skei-die-here-nie-nou-al-die.html)

Donderdag 31 Desember 2015

Waarvoor is jy geroep?

In hierdie dagstukkie gaan ons veral kyk na "lot" in geval van IDENTITEIT, m.a.w., waarvoor is elkeen GEROEP? Is hy bv. geroep as slaaf of as vryman? Is hy geroep as man of as vrou? Hierdie is die dinge wat identiteit beskrywe.   Paulus praat o.a. ook hiervan in 1 Kor. 7, van hoe Christene moet bly in die roeping waarvoor hulle geroep is (1 Kor. 7:20), m.a.w. om nie ontevrede te wees in dit waarvoor hulle geroep is nie.  As jy geroep is as 'n slaaf (m.a.w. waar omstandighede 'n rol speel), moet jy jou nie kwel daaroor nie, maar as jy natuurlik kan vrykom daarvan, is dit ook jou lot en moet jy gebruik maak van die geleentheid om vry te raak (1 Kor. 7:21).  Is iemand egter as ‘n besnedene geroep (iets wat meer "identiteit" beskrywe)— hy moet die besnydenis nie laat verander nie. Is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny nie (1Kor. 7:18)...    Waar lot nie slegs te doen het met omstandighede nie, maar eerder identiteit beskrywe, moet elkeen sy lot aanvaar en nie begeer om daarvan los te kom nie. Is jy geroep as 'n Jood of as 'n besnedene, dan moet jy dit nie laat verander nie. Is jy geroep as man, dan moet jy dit nie laat verander nie. Is jy geroep as vrou, dan moet jy dit nie laat verander nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
IDENTITEIT word nie slegs gevorm deur wat se soort werk iemand doen of oor watter talente hy beskik nie, maar word veral gevorm DEUR DIT WAARTOE IEMAND GEROEP IS.  Is jy geroep as eersteling of jonger seun?  Is jy geroep as 'n priester of 'n profeet?  Dit is die dinge wat iemand se identiteit eerder beskryf het in die Ou Testament.  Simson was spesifiek GEROEP om 'n nasireër te wees en geroep om Israel te verlos uit die hand van die Filistyne, en natuurlik saam met daardie "identiteit" het die Here hom vaardig gemaak (deur Sy Gees) om dit te kon doen (Rig. 14:6,19; 15:14). Besáleël en Ohóliab was geroep om die artikels vir die tabernakel te maak, en die Here het hulle ook bekwaam gemaak (deur Sy Gees) vir die werk (Eks. 31:1-6).
Dawid was geroep om koning te wees.  Moses was geroep om die volk uit Egipte te lei deur die woestyn. Joshua was geroep om die volk in die beloofde land in te lei.  Elia was geroep om 'n profeet te wees.  Jakob, alhoewel nie oorspronklik die eersgeborene seun nie, was geroep om 'n eersgeborene te wees en die voorvader van die 12 stamme van Israel.  HIERDIE DINGE WAS HULLE "LOT", en dit is die dinge wat hulle IDENTITEIT BESKRYF HET. En kyk ons na elkeen van hierdie mense, Simson, Dawid, Moses, Joshua, Elia, Jakob, Besáleël en Ohóliab...... is dit almal mense wat die Gees van God op hulle gehad het! Die volk Israel was bv. GEROEP AS GOD SE VOLK en daarom het Hy ook Sy Gees in hulle midde gegee.

As hulle nie hulle lot aanvaar het nie, was hulle as ongehoorsames bestempel. Die wat deel was van die volk maar nie Sy voorwaardes nagekom het nie en nie die Here se wil gesoek het nie, was die wat nie hulle lot aanvaar het nie en was as die ongehoorsames bestempel.  Die wat afgode aanbid het en hulle vertroue geplaas het in heidense praktyke, was as ongelowig bestempel.  Die gesindheid van die regverdige is anders as die van die ongehoorsame. Die regverdige aanvaar sy lot, die ongehoorsame nie.   Dit is bv. waarvoor Johannes die doper geroep was, om o.a. "die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges" terug te bring (Luk 1:17), l.w. "om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei". Die Skrif verklaar dat die ongehoorsames nie sal ingaan in die Here se rus nie  - Hebr. 3:18  -  en Hebr. 3 word juis begin met die woorde: "Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping......." (Hebr. 3:1).  Hy gaan verder en verduidelik hoe ons nie ons harte moet verhard soos sekeres van die volk in die woestyn nie, want as gevolg van sonde en ongeloof het baie van hulle nie in Sy rus ingegaan nie (Hebr. 3:17-19).  Hierdie mense het nie "HULLE LOT" AANVAAR NIE. Toe die Here hulle omstandighede verander van slaaf na vryman, en hulle die geleentheid aangegryp het, moes hulle hul nuwe lot aanvaar het, maar in plaas daarvan wou hulle liewer weer langs die vleispotte van Egipte sit en het heeltyd gemurmureer en kla. (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/04/wanneer-jy-die-here-se-wil-doen-beteken.html ). Die wat kinders van die Here word, word op dieselfde wyse vrygekoop van die slawerny van sonde.  In die Nuwe Testament word elke kind van God (nie net sekeres nie) geroep soos "konings en priesters" (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/06/n-heilige-priesterdom-n-volk-as-eiendom.html ), OM VRUG TE DRA (Joh. 15:16).  Daarom ontvang elke ware kind van God die Gees van God en maak die Here hulle bekwaam vir spesifieke werke of bedienings waartoe Hy hulle bestem het en werk Sy gawes deur hulle soos nodig omdat hulle in Sy diens is.  Christene word gesien soos eersgeborenes, 'n priesterlike volk in Sy diens! (Hebr. 12:22,23; 1 Pet. 2:9,10). Nie in ons eie diens nie, maar ons identiteit word beskryf in die hierdie lot - ons is in Sy diens.  Ons is 'n priesterdom, 'n heilige volk en 'n volk as eiendom verkry - ONS BEHOORT AAN DIE HERE.  Laat ons nou nie soos baie van die volk in die woestyn nalaat om ons lot te aanvaar en a.g.v. sonde of ongeloof afgesny word nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Die Christen se identiteit word nie beskryf deur slegs watter soort werk hy doen of oor watter talente hy beskik nie, maar dit word beskryf deur sy ROEPING as eersgeborene, koning en priester vir die Here. Hy word gevul deur die Gees van God en bekwaam gemaak vir werk. Hy het hierdie keuse gemaak om 'n vryman te wees van die Here, m.a.w. GEROEP AS VRYMAN, en 'n SLAAF VAN CHRISTUS. (1 Kor. 7:20-23 - " Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie").  Die Christen se lot is om die wil van die Here te doen, nie sy eie wil nie.  Sy lot is om die Here se kennis te bewaar en 'n boodskapper vir die Here te wees.  Baiemaal is sommige egter eerder boodskappers vir sielkunde of ander heidense praktyke en wereldse kennis en laat hulle eersgeboortereg pligte na waarin hulle boodskappers vir die Here moet wees. Ook baiemaal is sommige eerder besig om die kennis te verdraai as om dit te bewaar. 

Net soos die pligte van die eersgeborenes onder die volk van God aan die Leviete gegee is (Num. 3:41-51), net so is die pligte van die priesterdom nou aan elke ware kind van God gegee. Maar ons wat nou die pligte van die eersgeborenes verkry het moet versigtig wees, want dit is a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof dat die eersgeborenes onder die volk hulle eersgeboortereg verloor het en dit toe aan die Levietiese stam gegee is. Net so moet die Christen as deel van die volk van eersgeborenes nie verval in sonde en ongeloof en dink dat hy nie sy eersgeboortereg kan verloor nie.. 

ONS MOET AG GEE OP ONS ROEPING! (1 Pet. 2:9-25).


------------------------------------------------------------------------------------------------------------

(2Co 2:15)  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;
(2Co 2:16)  vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?
(2Co 2:17)  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

2Co_3:5  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 
2Co_3:6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 

Col_1:12  en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig— 



 

Vrydag 20 November 2015

Die derde tempel

Waar die woord "tempel" in die Skrif gebruik word verwys dit nie oral na
"die tempel van God" nie (Matt. 4:4...),
maar kan ook andersins verwys na 'n "afgodstempel" (1 Kor. 8:10)(G1493),
of na 'n "geestelike tempel" (1 Kor. 3:16). Dit is dus belangrik dat ons gaan kyk na die konteks van skrifte waarin die woord "tempel" gebruik word, asook na die Griekse of Hebreeuse betekenisse daarvan. Verder beskryf die woord tempel in sekere skrifte meer die HEILIGHEID (G2411) daarvan, en ander skrifte verwys daarna as 'n WONING (G3624) of is beskrywend van 'n spesifieke PLEK VAN AANBIDDING (G3485).

In Openb. 11:1,2 en 2 Thess. 2:4 beskryf dit meerendeels 'n "plek van aanbidding".  Meeste geleerdes is van mening dat hierdie twee skrifte verwys na 'n fisiese tempel in die laaste dae, maar ander is weer van mening dat dit eerder verwys na 'n geestelike tempel omdat waar daar oor die fiesiese 2de tempel gepraat word in sekere skrifte (Matt. 4:5, 12:5, 21:12 ens.), 'n ander Griekse woord gebruik word vir "tempel" as in hierdie twee skrifte (Openb. 11:1 en 2 Thess. 2:4):  -Bv., in skrifte oor die 2 de fisiese tempel word meeste van die tyd G2411 gebruik (alhoewel nie altyd nie!), maar in beide Openb. 11 en 2 Thess. 2 word G3485 gebruik (wat dieselfde woord is wat gebruik word in skrifte waar die liggaam soos 'n tempel voorgestel word - Matt. 26:61; 27:40; Mark. 14:58; 15:29; Joh. 2:19,21; 1 Kor. 3:16,17; 6:19; 2 Kor. 6:16; Ef. 2:21).  TOG, sou ons 'n deeglike studie maak, is dit interessant om te sien dat G3485 nie slegs gebruik word in Skrifte waar verwys word na 'n "geestelike tempel" nie, maar ook gebruik word in skrifte waar verwys word na 'n "fisiese tempel"!, bv. Mark. 15:28; Matt. 23:16,17,21,35; Luk. 1:9,21,22.  Sou ons dus veronderstel dat G3485 slegs 'n geestelike verwysing het (soos sommige beweer), dan is dit nie Skriftuurlik korrek nie! En lees ons Openb. 11:1,2 in konteks, is dit duidelik dat dit na 'n fisiese tempel verwys wat in die heilige stad (Jerusalem) sal wees (v.2);  ook dat dit daar beskryf word soos " 'n plek van aanbidding " (11:1).

_________________________________________________________________________________
(1)  Daar is geen skrif wat in soveel woorde verklaar dat 'n derde tempel opgerig sal word voor Jesus Christus terugkom nie, maar daar is wel verskeie skrifte wat daarop dui.  Dit is bv. ook duidelik dat Openb. 11:1,2 verwys na 'n tempel in 'n tydperk voor die wederkoms (kyk ook Mal. 3:1,2).  Openb. 11:2 verklaar ook verder dat hierdie tempel in die heilige stad (Jerusalem) sal wees;
(2)  Die tempel wat beskryf word in Eseg. 40 verwys egter na 'n tempel in 'n tydperk na die wederkoms ("volgende eeu").  Dit verwys dus na die tydperk van Christus Jesus se 1000 jaar Ryk en volgens O.T. profesiee word hierdie tempel voorgestel soos Christus se "troon" (of paleis)(Eseg. 43).  In Sag. 6;12-15 word dit uitgebeeld hoe die Messias ("'n Man wie se naam is Spruit") 'n tempel sal laat bou in die tydperk waarin Hy die land herstel het en die volk veilig laat woon...;
(3)  Daar is ook 'n tempel in die hemel! (Openb. 11:19; 14:17 ens.);
(4)  Maar daar sal geen tempel wees in die nuwe hemel en aarde (Openb. 21) nie, want die nuwe stad Jerusalem wat dan sal neerdaal uit die hemel op die aarde, word gesien as die "tabernakel van God" (Openb. 21:22)(die woord tempel word ook gebruik vir "tabernakel").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Jesus het aansielik baie tyd in die (2de) tempel spandeer en lering gegee.  Op 'n stadium het Hy almal uitgejaag wat geld gemaak het in die tempel en die volgende gese:  (Mar 11:17 - "...Is daar nie geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak").  Die bedoeling was inderdaad dat die tempel van God ook 'N HUIS VAN GEBED is, "vir alle nasies" (vir enige iemand uit enige nasie wat glo) - nie vir die wat afgode aanbid en ongelowig is nie, maar vir die wat glo en is nie beperk tot die Joodse volk nie.  Verseker het die Here nie bedoel dat enige iemand van enige geloof in Sy tempel kan kom bid tot hulle afgode nie, want Hy is 'n jaloerse God en kan nie afgodsdiens (in Sy tempel) verdra nie!  (en is terloops ook een van die redes waarom Hy die Joodse volk gestraf het - omdat hulle afgodsdiens toegelaat het en dit selfs in Sy tempel beoefen het... (Eseg.;  2 Kon. 21 ens.).  -------------------Terwyl daar groot planne vandag gemaak word vir die bou van die 3 de tempel en al die artikels wat ingaan ook reeds voltooi is, is die feit dat die tempel gesien moet word as 'n HUIS VAN GEBED VIR ALLE NASIES een van die motiverings wat veral in toesprake voorkom en gebruik word om mense positief te kry oor die bou van 'n derde tempel   -   wat wel nie verkeerd is nie, maar ons moet verstaan wat die Here met die woorde "huis van gebed vir alle nasies" bedoel het en dat dit geen afgodsaanbidding insluit nie.  Wat inteendeel kommerwekkend is van die (fisiese) 3 de tempel waarvan ons lees in Openb. 11:1,2, is dat die voorhof buitekant die tempel aan die heidene gegee sal word (en hulle sal die stad 42 maande lank vertrap)...
_________________________________________________________________________________


GEDAGTE:


Christene, of die liggaam van die Christen, word huidiglik gesien as 'n "tempel" omdat die Heilige Gees in hulle woon (Joh. 14:17; Ef. 3:17...). Enige iemand uit enige nasie kan nou deel word van DIE VOLK VAN GOD (kinders van die koninkryk) en het toegang tot die tempel van God (nie net die Jode nie). Paulus praat hiervan in Ef. 2:14, van hoe Jesus Christus die middelmuur afgebreek het... 

In die geval van die wat die Gees van God het, verwys dit na 'n "geestelike tempel". Maar ons moet verstaan dat dit slegs verwys na die wat hulle BEKEER en GLO!; dit verwys nie na ongelowiges nie! Die bou van 'n fisiese tempel van God is egter nie so belangrik vir die wat die Gees van God het nie, maar dit beteken nie dat sou daar 'n fisiese tempel van God gebou word, dit nie heilig is nie!  Die tempel (en vroeer "tabernakel") was ook genoem "die huis van God" omdat dit soos 'n woning was vir die Here om "onder Sy volk te woon".  Dus, wanneer mense "die Christelike kerkgebou" die huis van God noem, dan verwys hulle gewoonlik na die feit dat God by hulle is. 'n Kerkgebou is egter nie opsigself "heilig" nie, want dit is nie gebou en ingestel volgens die instruksies wat die Here gegee het vir 'n "tempel van God" nie (tog is dit afgesonder omdat Christene daar bymekaarkom). 

Wat die geestelike tempel dus aanbetref, is dit heilig (afgesonder vir die Here) omdat die Gees van God daar teenwoordig is (Rom. 11:16);  alhoewel nie alle Christene in hulle lewenswandel heilig is nie... 1 Pet. 1:15, en elke Christen is op 'n pad van godsaligheid.  Die fisiese tempel was bv. ook afgesonder en heilig (soos die geestelike tempel), maar was verskeie male ontheilig deur sondes en afgodsaanbidding, en dit het gewoonlik tot gevolg gehad dat die tempel verwoes is en die volk gestraf is.  Op dieselfde wyse kan Christene wat nie ag gee op die godsaligheid nie, nie verwag dat hulle nie daarvoor geoordeel sal word nie! 

 (1Co 3:16)  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
(1Co 3:17)  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

_________________________________________________________________________________

Maandag 19 Oktober 2015

Gaan die Opstanding en die Wegraping op dieselfde tyd gebeur?

Die opstanding is verseker een van die grootste gebeurtenisse waarna Christene uitsien oor al die eeue. En terwyl ons die huidige liggaam sien soos 'n vyand, sal die verheerlikte liggaam anders wees, en 'n liggaam wat "die dood oorwin" het! (Psa 37:29 - "Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon"). God is sowaar nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes! Almal sal weer herlewe (opstaan uit die dode - "make alive, give life - G2227 )(regverdiges sowel onregverdiges), maar nie almal sal opstaan TOT LEWE nie! Dit is net die regverdiges wat sal opstaan tot lewe;  die ander sal opstaan tot veroordeling.------------------------------------------------------------------------------------------------------------Daar vind verskillende opstandings plaas oor die eeue en almal herlewe ook nie op dieselfde tyd nie:
(1) DIE EERSTE OPSTANDING:  Daar was 'n opstanding net nadat Jesus opgestaan het uit die dood, toe baie liggame van ontslape heiliges ook uit die grafte uitgegaan het en in die strate van Jerusalem ingegaan en aan baie verskyn het (Matt. 27:50-53). Daar sal ook 'n opstanding plaasvind wanneer Jesus Christus terugkom (m.a.w. met aanvang van Sy 1000-jaar Ryk)(Rom. 6:5-7; 1 Kor. 15:12-58; 1 Pet. 1:3-6; Hebr. 6:2).  Hierdie word gesien as die "eerste opstanding", en die wat in hierdie opstanding opstaan tot lewe, oor hulle het die tweede dood geen mag nie (Joh. 5:24; Openb. 20:6). Christus Jesus was die eersteling in hierdie opstanding - aan Hom is die oordeel oorgegee en Hy sal besluit wie Hy gaan opwek tot lewe en wie nie.
(2) VOLGENDE SAL HERLEWE?: - daar sal ook 'n "opstanding" wees nadat Christus se 1000-jaar Ryk voleindig is (Openb. 20) - by die Wit troon oordeel.

Waar egter spesifiek van "DIE OPSTANDING" gepraat word in die Skrif, verwys dit gewoonlik na die opstanding wat sal plaasvind met Jesus Christus se wederkoms. Tog sal nie almal wat dan gaan opstaan, opstaan TOT LEWE nie; dit is dus duidelik dat die woord "opstanding" nie oral verwys na die wat "opstaan tot lewe nie", maar meer verwysend is na 'n spesifieke opstanding van dooies, in 'n spesifieke "eeu" (m.a.w. die opstanding wat plaasvind met Jesus Christus se wederkoms, die opstanding waarna Jesus verwys het wat sal plaasvind in "die laaste dag")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Alhoewel "die Opstanding" en "die Wegraping" twee verskillende gebeurtenisse is (en die opstanding die wegraping voorafgaan), gaan dit in beide gevalle oor om nuwe liggame te kry. Die doel van "die wegraping" is bv. nie om die Groot Verdrukking vry te spring soos baie leer nie, maar volg eintlik na "die opstanding"! 
-Die opstanding verwys na die wat in Christus gesterf het en opgewek word en nuwe liggame ontvang, maar 
-Die wegraping verwys na daardie gelowiges wat nog in die lewe is wanneer Christus terugkom, en in 'n oogwink verander word en ook nuwe liggame ontvang (1 Kor. 15:51,52).  

In beide gevalle verkry hulle nuwe liggame, en die woorde "die opstanding" of dit wat 'n "wegraping" beskryf, gaan meer spesifiek oor die wat OPSTAAN TOT LEWE. Die woord "wegraping" kom terloops nie in die Bybel voor nie, alhoewel die woord "weggevoer" in 1 Thess. 4:17 ("caught up") in die Grieks die woord "har-pad-so" is, wat beteken: "catch (away/up); pluck; pull; take (by force)". Baie Christene kwyn weg wanneer hulle die woord "wegraping" hoor omdat daar soveel verskille is oor die "tyd van die wegraping". Sommige glo in 'n pre-trib wegraping, maar ons moet verstaan dat daardie leringe veral gebou is op afleidings en predikers wat pre-trib wegraping verkondig sukkel om dit te verduidelik weens 'n tekort aan skrif! (1) Heelwat verse word ook uit konteks geneem om hierdie lering te staaf, o.a. 2 Pet. 2:9 wat verklaar dat "die Here weet hoe om die godsaliges uit VERSOEKING te verlos", en dan word die woord versoeking vgl. met die Groot Verdrukking.  Die waarheid is egter dat IN KONTEKS die woord "versoeking" daar verwys na "bewaring van die dag van oordeel" (Hy kom om te oordeel!); dit verwys nie na die Groot verdrukking nie. (2) Ander begrippe wat ook uit konteks geneem word om hierdie verdraaide leerstelling van pre-trib te verkondig, is Matt. 24:22 wat verklaar dat "as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie, maar TER WILLE VAN DIE UITVERKORENES sal daardie dae verkort word".  Wat hierdie Skrif eintlik vir ons leer is nie dat die uitverkorenes uit die weg geruim sal word voor die Groot Verdrukking nie, maar eerder dat hulle nog op die aarde sal wees in daardie dae!, en dat dit die rede is waarom die dae verkort sal word. (3) Iets anders wat ook verkeerd verstaan word is Jesus se woorde "meer werd as baie mossies" (Luk. 12:7; Matt. 10:31), en sommige gebruik dit om te probeer bewys dat dit nie God se wil is dat Christene deur verdrukking gaan nie, maar behalwe dat so 'n stelling geheel en al bots met wat Christus geleer het (Matt. 13:21; Joh. 16:33...), gaan hierdie skrif IN KONTEKS oor "vervolging" en "verdrukking", ook saam met "om te getuig".  Wat Hy eintlik vir ons leer is dat ons nie bevrees moet wees nie - hoekom nie?  Nee, nie soos sommige leer, dat Hy "ons sal verlos van verdrukking" nie, maar eerder dat die gelowige baie werd is vir die Vader en dat die DEUR WIE HULLE VERDRUK WORD, geoordeel sal word  (Matt. 10:26: - "daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie"). As die gelowige dus ter wille van sy geloof verdruk en vervolg word, en selfs doodgemaak word, sal dit wat die ander persoon aan die gelowige doen, aan die lig kom - die Christen (wat verdruk word) sal "nie op die aarde val sonder die Vader nie" (m.a.w. "sonder dat Hy weet nie", en dit sal uiteindelik aan die lig gestel word). DIT IS DUS DUIDELIK DAT DIE DOEL VAN DIE WEGRAPING VERSEKER NIE GAAN OOR "OM VERDRUKKING VRY TE SPRING" NIE!
---------------------------------------------------------------------------------------------
Jesus Christus het verskeie male vertel hoe Hy die wat in Hom glo sal opwek IN DIE LAASTE DAG (Joh. 6:39,40; 44; 54; 12:48).  Die woord wat gebruik word in die Grieks vir "laaste dag" is die woord "eschatos" (es'-khat-os):  ("A superlative probably from G2192 (in the sense of contiguity); farthest, final (of place or time): - ends of, last, latter end, lowest, uttermost" dit is bv. ook dieselfde woord wat gebruik word in Joh. 7:37 waar verwys word na die "laaste" of groot dag van die fees).  Dit is dus duidelik dat "laaste" beslis verwys na "laaste"!  Ook Martha het verstaan dat die opstanding sal plaasvind in die LAASTE DAG: (Joh_11:24  Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag).(Joh_6:40  En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag).  Paulus maak dit duidelik dat ons (in die "wegraping") die ontslapenes nie voor sal wees nie, maar dat hulle eerste sal opstaan voor die wegraping plaasvind (1 Thess. 4:13-17).  As die opstanding dan "in die laaste dag" plaasvind, is dit duidelik dat die wegraping ook nie voor die laaste dag sal plaasvind nie. 1 Kor. 15:52 verklaar dat die wegraping sal plaasvind onder die 7 de seel, met die LAASTE basuin (vgl. dit gerus met die 7 basuine in Openbaring, en l.w. dat Christus se wederkoms ook beskryf word onder die 7 de seel;  die Groot Verdrukking word egter beskryf onder die 5 de seel...). 
_________________________________________________________________

GEDAGTE:


Wanneer presies die wat in Christus gesterf het gaan opstaan, is egter duidelik dat dit gaan gebeur iewers voor die  wegraping  - sekere skrifte wys daarop dat die opstanding "op die laaste dag" gaan gebeur (Joh. 11:24; Joh. 6:40; 6:54; 6:39). (Mat 24:30,31 - "En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn (WEDERKOMS), en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan") - DIE WAT IN CHRISTUS GESTERF HET, SAL OPSTAAN (opstanding), EN DIE WAT IN DIE LEWE OOR IS, SAL VERANDER WORD ("wegraping")". Dit is onwaarskynlik dat die opstanding lank voor die wegraping sal plaasvind;  inteendeel, dit wil eerder lyk of die Skrif hierdie twee gebeurtenisse naby opmekaar beskryf (met die opstanding eerste en daarna die wegraping).  

Vrydag 16 Oktober 2015

Die godsaligheid

Die begrip "godsaligheid" verwys wel na die HOOP op saligheid, maar eerder na hoe ons in 'n wedloop is sodat ons hierdie saligheid sekerlik kan behaal! Dit beteken nie dat ons saligheid verkry deur werke nie, maar eerder dat werke gaan oor "DIENSBAARHEID AAN DIE HERE" en 'n bewys is dat ons glo.  Wanneer Paulus die stelling maak dat ons ons moet oefen in die godsaligheid, dan is dit in konteks met hoe hy sy liggaam sien soos 'n vyand teen wie hy te staan kom.  En nee, hy bedoel nie dat ons meer oefening moet doen en net sekere kosse moet eet nie (wat terloops gesien word as "werke"!), maar hy bedoel dat ons die godsaligheid liewer moet najaag. Om meer ag te gee op die godsaligheid as op hierdie dinge, beteken bv. nie dat die liggaamlike oefening van geen nut is nie, maar beteken dat dit tot weinig nut is teenoor die godsaligheid wat veel belangriker is! (1 Tim. 4:8).  

Dus, let op die konteks van 1 Tim. 4, dat dit gaan oor "fabels" waarin mense glo waarin hulle verbied word om te trou en gebied word dat hulle hul moet onthou van voedsel wat God geskape het... Hulle het gedink dat die Here van hulle verwag om hierdie "werke" te doen, maar wat Hy eintlik van hulle verwag het is om eerder die godsaligheid na te jaag, m.a.w. om sonde in hulle lewens neer te le, om die duiwel en versoekinge tee te staan en gedagtes te vernuwe tot gehoorsaamheid aan ChristusWat help dit iemand bring sy liggaam fisies in gereedheid en lyk pragtig en gesond, maar hy kasty nie sy liggaam om dit diensbaar te maak vir die Here nie?   Wat help dit hy maak sy liggaam diensbaar aan allerhande wette, maar hy kasty dit nie om versoekinge te weerstaan, of gedagtes te verander tot gehoorsaamheid aan Christus nie?
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
OM DIE GODSALIGHEID NA TE JAAG GAAN OOR DIENSBAARHEID AAN DIE HERE
(geloof en gehoorsaamheid),
-  en gaan veral daaroor dat ons nie ons hoop moet plaas in ander dinge nie, maar in die Here (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/oefen-jou-in-die-godsaligheid.html);
-  en dit gaan daaroor dat ons die duiwel en versoekinge moet weerstaan (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/weerstaan-die-duiwel-2.html) (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/versoeking-2.html).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In 1 Tim. 2 word bv. ook van vrouens verwag om meer aandag te gee aan die godsvrug (wat behels, beskeidenheid, ingetoenheid, goeie werke) as aan die uiterlike. Die persoon wat nie die Here dien nie, is meer ingestel op die uiterlike en op wat ander mense van hulle dink; maar die persoon wat wel die Here dien, is meer ingestel op die innerlike en op wat die Here van hulle dink.  Elke gelowige is geroep om vrug te dra, maar nie vrug uit eie wil nie, maar uit diensbaarheid aan die Here, volgens Sy wil.  'n Gelowige wat "meer besig is met die lewe as met die Here", sal dit moeilik vind om die wil van die Here te doen omdat hy meer gefokus is op sy eie sieninge en wil.  (Mat 10:39 - "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Dit is duidelik volgens 1 Kor. 9 dat nie almal in die wedloop die prys gaan behaal nie, en dat ons so moet hardloop en seker maak dat ons dit sekerlik behaal.  In die gedeelte vergelyk hy Christene (wat gedoop is en deel het aan die liggaam van Christus) met die volk in die woestyn (beeldspraak, "gedoop in wolk en see en geestelike spys geeet en geestelike drank gedrink uit die rots") - hy gee ons 'n WAARSKUWING en herinner die kerk daaraan dat baie van daardie mense nie ingegaan het in die beloofde land nie omdat hulle ongehoorsaam en ongelowig was... Op dieselfde wyse moet Christene (wat gedoop is en die nagmaal gebruik...) wat nie ag gee op die pad van godsaligheid nie, nie dink dat hulle eendag die OPSTANDING TOT LEWE sal ontvang en ingaan in die koninkryk van God as hulle so ongehoorsaam en ongelowig is nie! 

In 1 Kor. 9 noem Paulus ook spesifieke voorbeelde van hoe ons moet ag gee op die pad van godsaligheid, bv.:
dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie; 
en wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie;
en laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie,
en laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie,
en moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie........


------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Donderdag 15 Oktober 2015

Die saligheids-boodskap en die belangrikheid van DIE OPSTANDING

Wanneer die evangelie gedeel word verwag ons ten minste dat die hoorders verstaan waaroor die evangelie gaan en ook dat die antwoord gegee word op watter voorwaardes iemand moet nakom om saligheid te ontvang. (1)  Ten eerste moet die hoop op saligheid gepreek word, en (2) Tweedens moet vir hulle vertel word wat die voorwaardes is wat nagekom moet word om hierdie saligheid te ontvang (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/01/evangelie-verkondiging.html)Baie Christene kwyn weg van evangelie-prediking omdat hulle nie altyd weet hoe om hierdie dinge aan mense te verduidelik nie. Somtyds neem iemand juis nie die evangelie aan nie omdat hy nie regtig verstaan waaroor dit gaan nie! Ons moet self verstaan waaroor die evangelie gaan voor ons dit aan ander kan preek.  Dit baat bv. nie altyd wanneer daar slegs ge-evangeliseer word dat hulle in Hom moet glo en dat Hy vir hulle sondes gesterf het nie, want daar moet ook aan hulle verduidelik word wat dit beteken om in Hom te glo en hoekom hulle in Hom moet glo of hoekom Hy vir hulle sondes gesterf het.  As ons nalaat om sekere waarhede te verkondig soos die feit dat ons eendag deur Hom geoordeel sal word en dat Hy die mag het om sondes te vergewe asook die mag het om ons te laat opstaan tot lewe eendag, dan kan ons nie verwag dat die hoorder verstaan waaroor die evangelie gaan nie.  ------------------------------------------------------------------------------------------------------------Die ander rede waarom Christene somtyds vermy om die evangelie te deel, is omdat die waarheid deur baie gesien word soos dwaasheid. Hulle is m.a.w. skaam om oor die OPSTANDING te praat, want dit klink soos dwaasheid vir baie. Ons kan nie hierdie belangrike details soos Christus se opstanding uit die dode, die belofte van die Heilige Gees, ons HOOP OP OPSTANDING deur Hom, die komende oordeel of die feit dat daar geen saligheid is in enige iemand anders nie ens. weglaat uit evangelie-prediking omdat ons skaam is daarvoor nie! (Rom. 1:16).  Evangelie-prediking moet ten minste vir mense die waarheid gee en hulle laat verstaan wie Christus Jesus regtig is en hoekom Sy opstanding uit die dode so belangrik was. Christene bly baiemaal stil omdat hulle nie verdrukking wil ly ter wille van die waarheid nie (1 Pet. 4:16; 2 Tim. 1:8,12; 2:15) (Mark. 8:38 - "Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele").  En sommige dink dat die manier hoe hulle hierdie verdrukking a.g.v. die waarheid kan vryspring, is om die evangelie-boodskap te verdraai sodat dit meer aanloklik is, net soos baie detail in advertensies verdraai word om die koper sover te beweeg om dit te koop.  Paulus het egter streng gewaarsku teen sulke mense (Rom 16:17,18). Om mense op so 'n manier te beweeg om die evangelie aan te neem, is soos om iemand om te koop. Sommige kom wel op so 'n manier "tot bekering", maar het 'n valse hoop of het nie sekerheid nie omdat hulle in die eerste plek nie die saligheidsboodskap werklik verstaan het nie; en dan wanneer hulle later van die waarheid van komende oordeel of die belangrikheid van gehoorsaamheid aan die Here ens. hoor, neem hulle dit nie ernstig op nie... 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die belofte van 'n "opstanding" was lank reeds tevore deur die profete voorspel (Jes. 26:19). Jesus het self ook getuig van hierdie opstanding en verskeie male verwys na hoe Hy die wat in Hom glo, sal opwek in die laaste dag! (Joh. 11:25; 6:44...).
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:

In die OPSTANDING sal Christus lewend maak wie Hy wil (Joh. 5:21-30; Openb. 1:18), want die Vader het die oordeel aan Hom oorgegee (Joh. 5:22) - Hy het die sleutels van die doderyk en van die dood (Openb. 1:18).  Jesus het self verklaar dat nie almal sal opstaan tot lewe nie.  Hy het gese dat die wat goed gedoen het sal opstaan tot lewe, maar die wat kwaad gedoen het, sal opstaan tot veroordeling.  Die wat nie in Hom glo nie, sal nie deur Hom opgewek word tot lewe nie. Daar is bepaalde voorwaardes wat moet nagekom word voor iemand die hoop op hierdie saligheid verkry. Christus Jesus is die opstanding en die lewe! (Joh. 11:25) - wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe... Hierdie "opstanding tot lewe" is dus iets wat spesifiek aan die kinders van die Here belowe word en is daarom 'n baie belangrike deel van Evangelie-prediking.  Die dissipels het baie vervolging verduur juis omdat hulle die opstanding verkondig het, en dit is ook juis om daardie rede wat baie nie die evangelie aangeneem het nie want hulle het die prediking van opstanding gesien soos dwaasheid (Hand. 4:2; 17:18,32; 24:15; 26:23; 1 Kor. 15:12...).  As Christus nie opgestaan het uit die dode nie, dan maak ons geloof nie baie sin nie, want hoe kan jy jou hoop plaas op iemand wat jou moet opwek uit die dode as hyself nie lewendig is nie?  En hoe kan jy hoop in 'n opstanding tot lewe as jy nie glo in die Een wat jou gaan opwek nie? Die wat die opstanding tot lewe ontvang (die ewige lewe ontvang), oor hulle het die tweede dood geen mag nie. (...Die term "tweede dood" is 'n term wat gebruik word vir "ewige oordeel"  - Openb. 20:14 - wanneer die dood en doderyk in die poel van vuur gewerp word...). Net soos die Vader die dode opwek en lewend maak (Joh. 5:21), so het Christus die mag oor die dood verkry om die wat aan Hom behoort op te wek tot lewe (1 Kor. 15:21-23), en Hy sal lewend maak WIE HY WIL (Joh. 5:21). Die oordeel is in Sy hand oorgegee. En natuurlik "ELKEEN IN SY EIE ORDE"  - in orde was Christus die eersteling uit die dode (Hand. 2:31), daarna die wat aan Hom behoort by Sy koms... (1 Kor. 15:23). 

(Rom 14:9)  Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.