Wys tans plasings met die etiket vertroue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vertroue. Wys alle plasings

Dinsdag 10 Junie 2025

Hare op die tande hê

Ons voorouers was slim mense.  Hulle het verstaan die belangrikheid van wysheidspreuke en hoe dit kinders se persepsie vd lewe beïnvloed.  Een so 'n Afrikaanse spreekwoord is die van "hare op die tande hê" wat verwys na iemand met deursettingsvermoë. Die spreekwoord "hare op die tande" kom van 'n groep gevreesde Switserse huursoldate met woeste snorre (wat hulle lippe grotendeels verberg het) - dit het behoorlik gelyk of hulle "hare op die tande het".  Hierdie soldate was bekend as kranige, onverskrokke krygers wat vir niemand gestuit het nie. Iemand met "hare op die tande" verwys na iemand wat sy man kan staan, selfs durf wat ander nie durf nie!
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Christene moet ook somtyds "hare op die tande hê" en onverskrokke wees t.o.v. die waarheid. Hulle stap in geloof en is soos mense met 'n misie!, wat kranig voortgaan tot hulle hul doel bereik... Ten spyte van wat ander glo, sien, of doen, moet die Christen moed hê om vas te hou aan die Here se woorde en waarheid (al is dit te midde van verdrukking), moed hê om barmhartig te wees (al word hulle onbarmhartig hanteer), moed hê om reg te doen (al doen almal rondom hom verkeerd), moed hê om die evangelie te verkondig (al word dit verdraai of is dit nie logies vir ander nie), moed hê om die Here te bly vertrou (al hou mede-gelowiges op om dit te doen). Hierdie soortvan "uithou" en "aanhou" is nie altyd maklik nie, want in vandag se lewe word jy sommer as hardkoppig bestempel sou jy staan op jou geloof. Jy word bespot, somtyds leuens oor jou versprei, lelik van jou gepraat... Hierdie is alles ook dinge wat Jesus en Sy dissipels ervaar het - hulle is goeie vb.e van mense wat hulle "man kon staan"!, want hulle was onverskrokke t.o.v. die waarheid en het soos dapper soldate in geloof gedurf wat ander nie durf nie. Te midde van somtyds blinde (kerk)leiers of mense wat hulle rug op die Here en die geloof gedraai het, het Jesus die waarheid aanhou spreek. Selfs baie van die Fariseërs en Skrifgeleerdes (leiers van hulle tyd) het baiemaal van Hom verskil en eerder menslike gebooie verkondig as die waarheid, maar Jesus het nie geskroom om uit te wys wat werklik die waarheid is nie. Hy het gehoorsaam gebly aan die Vader en kranig Sy doel bereik, ten spyte van verdrukking en leuens wat oor Hom versprei is. Hulle was gemeen, het Hom bespot, het Hom voorgestel as vals, en het Hom selfs doodgemaak!, maar Jesus het uitgehou en aangehou (en Sy doel bereik) - Hy het oorwin. As ons ook oorwinnaars wil wees, moet ons dieselfde soort houding toon deur aan te hou en vas te hou aan die geloof.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

Jesus het baie gepraat oor die belangrikheid van uithou (vashou/aanhou/oorwin), en om dit te kan doen moet ons baiemaal hare op die tande hê. Hierdie is nie bloot 'n opsie nie, maar dit word eintlik van elke Christen verwag! Maar natuurlik gaan dit oor waaraan ons vashou... (bv. wat lering aanbetref, evangelie, die belydenis en die hoop...-Tit. 1:9; Hebr. 4:14; 10:23; 1 Kor. 11:2; 15:1,2), want as Christene vashou aan valse leerstellings of die evangelie of leringe verdraai om te glo wat hulle wil en sondes te regverdig, is hulle nie besig om "VAS TE HOU" (aan die Here/waarheid/evangelie) nie (Openb. 2:14,15). Baiemaal volg Christene blinde leiers of hou vas aan wat hulle kerk leer, maar as daardie leringe nie die waarheid is nie kan hulle "vashou" nie vir hulle vrug oplewer nie. Dit is belangrik om "reg te sien" (in ander woorde, om soos die Here te sien). Ons sien baiemaal hierdie afspeel tussen Christene, waar verskillende groepe nie met mekaar saamstem nie... - hierdie is wat gebeur wanneer een groep nie ag gee op die waarheid en Jesus se woorde nie (maw, beide groepe is Christene, maar die een groep hou vas aan Jesus se woorde en die ander nie). Ons moet seker maak dat dit waaraan ons so vreeslik VASHOU inderdaad die waarheid en die opregte evangelie is!; bv., ons moet onsself afvra of dit wat ons glo of wat ons kerk leer, inderdaad is wat Jesus geleer het? 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Sondag 27 Augustus 2017

How word ek 'n VRIEND van Jesus Christus?

Abraham was 'n VRIEND van God genoem omdat hy in God geGLO het (Jak. 2:23).

Wanneer jy in iets glo, dan het jy vertroue daarin.  As jy bv. glo in 'n spesifieke produk (vertroue daarin), dan wil jy dit nie net self gebruik nie maar ook vir ander mense daarvan vertel.  Maar as jy KENNIS het van 'n produk maar geen vertroue het daarin nie, dan gaan jy dit nie noodwendig gebruik nie en sal ook nie vir ander mense daarvan vertel nie, want jy is nog onseker oor die produk (m.a.w., jy glo nie noodwendig daarin nie). Sou jy bedreig voel deur daardie produk, sal jy definitief ander daarteen waarsku! Jou optrede wys m.a.w. of jy in die produk GLO of nie. Dieselfde gebeur met vriendskappe - ware vriendskap word gekenmerk deur vertroue. Die ware Christen wil nie stilbly oor die Here, oor Sy waarheid en die evangelie nie, want hy VERTROU die Here - hy weet wat die Here vir Hom beteken en hy wil graag vir ander ook van die Here vertel. As jy 'n VRIEND is van Christus Jesus, dan sal jy jou nie skaam vir Hom nie (want jy het vertroue in Hom). 
"Kennisse" is egter anders, want hulle weet nie noodwendig of hulle mekaar kan vertrou nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------Jesus het Sy dissispels VRIENDE genoem, want vriende deel hulle planne met mekaar (Joh 15:15). Dit is baiemaal die ding wat wys wie regtig vriende is van mekaar, want as jy iemand nie vertrou nie, dan sal jy nie jou planne met hom deel nie... Vriende deel hulle planne met mekaar want hulle weet dat hulle woorde nie teen hulle gebruik sal word nie, en hulle vertrou mekaar met hulle planne.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Vriende luister ook graag na mekaar se woorde en kan vir ure gesels, of net tevrede wees die een in die ander se teenwoordigheid. Hulle uitkyk op die lewe is ook gewoonlik baie dieselfde.  Johannes die Doper, wat ook Jesus se VRIEND genoem is, het graag na Hom staan en luister:  (Joh 3:29 - "Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom........") - asof hy tevrede was met "wat hy hoor". Sy ore wou dit ontvang.  Jy kan sien WIE waarlik VRIENDE is, want dit is hulle wat graag met mekaar tyd spandeer en graag met mekaar saamstem...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Iets anders wat in die Bybel uitgelig word oor vriendskap is die "nederigheid" wat tussen vriende heers; die manier hoe hulle begeer om mekaar tevrede te stel:
- Jesus Christus het ook hierdie tipe vriendskap uitgebeeld tussen Hom en die wat in Hom glo: (Joh 15:14 - "Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel"). In ons onderdanigheid aan Hom wys ons dat ons Hom "as Vriend" wil tevrede stel en vertroue het in Sy oordeel.
- Op dieselfde wyse (as Sy "vriende") is Hy goed vir ons en verhoor ons gebede (alhoewel Hy somtyds ter wille van ons dit nie verhoor nie!)(1Jn 5:14 - "En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil").
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verder het Christus Sy lewe vir ons afgelê, 'n bewys van Sy liefde vir ons: (Joh 15:13 - "Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee)".  Anders as vyande, is vriende bereid om hulle lewens te verloor vir mekaar, maar vyande het hulle eie lewens meer lief.  Dit was duidelik wie Jesus se vyande was - dit is hulle wat teen Hom raad gehou het (Matt. 27:1) en ander mense teen Hom gewaarsku het  - dit het gewys dat hulle Hom glad nie vertrou nie!  Hulle wou liewer vriende van die keiser wees, as vriende van Jesus (Joh. 19:12,15). Wie jy kies as vriende, wys wie dit is vir wie jy vertrou (Jak. 4:4).
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:



Vriende eer mekaar, maar waar een homself hoër ag en meester wil wees oor die ander, is daar nie vertroue nie, want die een wat homself verhoog is skaam vir die ander.  Jy sal nie jou planne maklik met 'n hoogmoedige "vriend" deel nie  Jy kan nie vertrou dat so iemand sy lewe vir jou sal aflê nie, want hy dink dat sy lewe belangriker is as joune! Jy't ook nie vrymoedigheid om hom enige iets te vra nie, want hy glo dat iets hom liewer toekom as vir jou!  Hy is dus verhewe bo jou en sien jou soos die dienskneg. 

Maar as hy inderdaad "die meester" is maar nederig, dan weet jy jy kan hom vertrou.  Meesters en diensknegte kan slegs vriende word wanneer daar vertroue is tussen hulle, en die manier om iemand se vertroue te wen, is deur nederig te wees (Luk. 14:10,11) As jy dan nou die Here en Meester, Jesus Christus (wat self vir ons die vb. gestel het van wat dit is om jouself te verneder-Joh. 13:14-17; Matt. 20:26-28...) as Vriend wil KEN, dan moet jy ten eerste jouself VERNEDER voor Hom. Hy het dit alreeds vir jou gedoen!, en het Homself verneder deur mens te word om tyd met ons te spandeer en Sy lewe vir ons te gee.  Hierdeur het Hy gewys dat jy Hom kan vertrou en dat Hy jou vriend wil wees! As jy Sy VRIEND wil wees, dan moet jy ook jouself verneder voor Hom.  Jou vriendskap met Hom sal ook gou bewys word deur jou begeerte om tyd met Hom te spandeer en hoeveel jy met Hom saamstem. Maar as jy as Christen dink dat jy weet beter as Hy en jou vir Hom skaam, jou eie leerstellings hoër ag as Sy waarheid, m.a.w. Hom bedrieg of Sy waarheid verdraai (Jer. 9:5) en nie bereid is om jou lewe te verloor ter wille van Hom niedan maak jy jouself reg vir 'n val (Matt. 23:12) -  wat dan ook 'n bewys is dat jy Hom nie VERTROU nie, ten spyte daarvan dat Hy alreeds Sy vriendskap aan jou bewys het... 

Hoe sien jy die Here Jesus Christus?  
Sien jy Hom as Vriend?
- Jou bereidheid om jou lewe op te gee (lewe verloor) ter wille van Hom, wys of jy Hom sien as VRIEND.
- Jou onderdanigheid aan Hom en aan Sy woorde, wys of jy Hom sien as VRIEND.
- Jou begeerte om tyd met Hom te spandeer, wys of jy Hom sien as VRIEND.

Jou geloof en vertroue in Christus Jesus sal bewys of jy 'n VRIEND is van Hom. 
_________________________________________________________________________________
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2016/06/vriend-of-vyand.html

Sondag 27 April 2014

Wanneer jy die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...

Baie Christene ly a.g.v. die feit dat hulle nie die wil van die Here doen nie.  Tog is die persoon wat wel die wil van die Here doen, nie gevrywaar van moeilikheid nie!  Sommige mense sukkel om hierdie twee begrippe te onderskei en kan nie verstaan hoekom 'n opregte kind van die Here ook somtyds ly nie. Job se vriende het dit ook nie verstaan nie...   


Die pad wat ons moet stap om te ontvang wat die Here ons belowe of in stoor het, is nie altyd maklik nie!   

 Dawid was bv. gesalf as koning lank voor hy koning geword het, maar moes o.a. op 'n stadium vlug vir sy lewe omdat koning Saul  jaloers was op hom....
Die magtige profeet, Samuel, het ook nie 'n maklike pad gehad nie en is ter wille van hierdie bediening, op 'n jong ouderdom van sy gesin verwyder...
Die Here het vir Josef gewys in drome hoe hy oor sy broeders sou "regeer"- hiervoor is hy sleggese, verkoop as 'n slaaf, later in die tronk gegooi weens valse getuienis teen hom, ens....

Die dissipels het dit ook nie maklik gehad nie - hulle moes deur baie verdrukkinge gaan, somtyds honger gaan slaap, is in die gevangenis gegooi  en sleggese.... 


Daar is heelwat ander soortgelyke situasies in die skrif.  Toe die Here vir Moses terugstuur na Egipte om die volk te verlos uit die hand van die Farao, was dit moeilike tye vir die volk: 

-Dit is bv. interessant om te merk dat die Farao strenger op hulle geraak het en hulle harder moes werk voor hulle uit die land uit is (Eks. 6:5-23)

-Dit is ook moontlik dat hulle die eerste twee plae self ervaar het, siende God eers met die derde plaag spesifiek onderskeid gemaak het tussen Egipte en die Israeliete (Eks. 8:22,23). 

-Hulle was presies gehoorsaam aan die Here en het die pad geneem wat Hy vir hulle aangewys het, maar bevind hulleself toe vasgekeer met die Farao en sy leermag op hulle hakke. Vir drie dae lank het hulle getrek van die Rietsee sonder water, en toe hulle by Mara kom, is die water bitter!  

-Waar hulle knus in hulle huise gebly het in Egipte met volop vleis, het hulle hul nou bevind in 'n situasie met geen brood en vleis nie........en so kan ons aangaan.  Die feit is, die Israeliete het hierdie situasie nie goed hanteer nie! In plaas van hulle oe te hou op die Here en hulle vertroue in Hom te plaas, lees ons hoe hulle gedurig gekla en gemurmureer het, ontevrede was en Moses en Aaron kwalik geneem het vir die situasie waarin hulle was



Hulle "wonderwerk in wording", was toe nie so maklik nie!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Waarin die volk gefaal het, keer op keer, was om na te laat om die Here aan te roep en vir 'n uitkoms te vra - nee, hulle het liewer loop en kla en bevrees geraak en Moses en Aaron skuld gegee vir hulle omstandighede! Hulle het hul bevind op 'n plek waar hulle geen sekuriteite gehad het nie, maar in plaas van om op die Here te vertrou, het hulle verkies om liewer soos slawe te werk (met wereldse sekuriteite), as om gehoorsaam te wees aan die Here en op Hom te vertrou! (Eks. 14:11,12).  

Die Here stroop ons ook somtyds van alle "sekuriteite" sodat ons op Hom kan vertrou.  Wanneer iemand die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...  So het Hy dieselfde gedoen met die volk - daar was bv. 'n korter pad vanaf Egipte na Kanaan, maar Hy wou hulle nie met daardie pad stuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle a.g.v. hulle onvertroue maar net weer sou teruggaan na Egipte die oomblik as dit nie so goedgaan nie! -(Eks. 13:17,18) - daarom het Hy hulle in 'n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om Hom aan te roep en te vertrou nie.  OP DIESELFDE WYSE STUUR DIE HERE ONS SOMTYDS IN 'N DOODLOOPSTRAAT IN SODAT ONS ABSOLUUT OP HOM KAN VERTROU! Hy snoei ons sodat ons meer vrug kan dra; sodat ons kan leer om Hom te vertrou en op Hom te wag! 

Moses het egter die geloof gehad en die Here telkens geraadpleeg en was tevrede met Sy manier van doen.  Hy het homself onderwerp aan die Here en het nie geskrik vir moeilikheid nie, want die Here was telkens sy uitkoms!  Hy het nie moeilikheid gesien as 'n probleem nie, want sy hoop was in die Here en hy het staatgemaak op die Here se uitkoms en het homself onderwerp aan die Here se wil. 
Moses het GELOOF gehad...
Om geloof te he, beteken nie net o.a. dat ons die wil van die Here doen nie, maar dat ons ook tevrede is met Sy wil, en vashou aan Hom in tyd van moeilikheid.
 -------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE VIR DIE WEEK:


Het ons ook daardie "geloof" wat Moses gehad het?  Wat doen ons wanneer dit lyk of dinge teen ons draai? Tree ons op soos sekeres van die volk gedoen het, deur te kla en op te gee, of vertrou ons eerder die Here? 

(Pred. 11:4)  "Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie".

--------------------------------------------------------------------------------