Dinsdag 05 Mei 2020

Wat gebeur met die mens wanneer hy doodgaan?

Siende almal doodgaan (Ps. 89:48) is hierdie sekerlik 'n onderwerp waaroor daar gesels moet word.
Wat presies gebeur met die mens wanneer hy doodgaan? Nie alles wat vir ons vertel word oor die dood is noodwendig die waarheid nie, en wat iemand glo oor "die dood" is baiemaal 'n aanduiding van watter geloof dit is waaraan hy behoort bv., daar is die wat glo in reïnkarnasie, ander glo dat jy in 'n engel of 'n ster verander, en sommige glo daar is niks na die dood nie, of glo dat die mens dan geheel ophou bestaan....
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die mens se siening oor die dood "vriend" is i.p.v. "vyand", dan kan hierdie leuen veroorsaak dat so iemand vir ewig wegval bv., somtyds word die dood voorgestel soos 'n tipe wedergeboorte i.p.v. om dit te sien soos 'n tyd van "oordeel".  Deels kan dood seker as "natuurlik" gesien word siende almal doodgaan en verganklik is, maar die dood is ook iets waarvoor mense "gereed" moet wees want elke mens word nadat sy uiterlike gesterwe het, geoordeel  (Heb 9:27 - "En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel").

Om te verstaan wat presies met die mens gebeur wanneer hy doodgaan, moet ons darem iets weet vd mens! Ten eerste moet ons onderskei tussen "natuurlike mense" en "geestelike mense" want die oordeel sal verskillend wees vir hierdie twee groepe. "Saad" bepaal wat se soort plant opkom, en wat se soort vrugte dit dra:
"Natuurlike mense" (die gebore uit Adam se saad) is verganklike mense en dra "vrugte vir die dood". Wanneer die mens sterwe word hy alreeds geoordeel bv., gelowiges en ongelowiges gaan na verskillende "plekke" wanneer hulle doodgaan (Luk. 16 ens.) - hierdie kan alreeds gesien word soos "oordeel".  In die geval van  "natuurlike mense" wag hulle gees dan op die "tweede dood", maar geestelike mense wag op "die opstanding" (en sal bv. nie deur die tweede dood gaan nie). Dus, daar vind alreeds 'n tipe oordeel plaas wanneer iemand doodgaan, maar ons moet verstaan dat daar ook verskillende ander "oordele" nog voorlê bv., die "ewige oordeel" (wat saam met die wit troon oordeel gaan geskied) vind op 'n ander tyd plaas as bv. die "regterstoel van Christus"(Rom. 14:10) (wat te doen het met oordeel van gelowiges)(2 Tim. 4:1; 1 Pet. 4:5,17; 2 Pet. 2:1-3,9; 1 Pet. 1:15-17; Jak. 3:1; Hebr. 13:4; Hebr. 10:29,30 ens.).  Daar is ook ander oordele wat gaan plaasvind met Jesus se wederkoms (o.a. die val van Babilon en Armageddon). Die Skrif leer vir ons dat met Jesus Christus se wederkoms die oordeel sal begin by die huis van God. Gelowiges sal geoordeel word op vrug, werke, woord (en sal ook verskillende belonings ontvang), en l.w. dat sommige lote afgesny sal word (vgl. ook hierdie tema met begrippe soos "skape en bokke", "koring en onkruid", "skape en skape" en "koring en kaf").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"Geestelike mense" is soos mense wat "oor gebore" word en hierdie keer nie uit Adam se saad nie maar uit God se saad (die soort plant wat opkom is instaat om daardie soort vrug te dra wat vrug is tot ewige lewe)(dus nie verganklik nie, maar onverganklik) - maar natuurlik is dit nie hulle "uiterlike" wat vernuwe word met wedergeboorte nie (want dan sou hulle uiterlike glad nie sterf nie), maar dit is die "innerlike" wat vernuwe word (2 Kor. 4:16)(hulle ontvang die Heilige Gees - hulle "lewe" deur die asem vd Heilige Gees, en die Gees hou hulle in bewaring tot die dag van verlossing).  Hier sien ons dat ons ook moet onderskei tussen die UITERLIKE MENS en die INNERLIKE MENS (die mens van binne). Geestelike mense gaan wel nie deur die tweede dood nie want hulle "gees" is vernuwe, en hulle het ook die belofte van opstanding eendag in 'n nuwe uiterlike (onverganklike) liggaam! (dus sal hulle uiterlike ook eendag vernuwe word).


Ons ween nou wanneer 'n geliefde doodgaan, maar anders as die goddelose het gelowiges hoop om mekaar eendag weer te sien (m.a.w., wanneer hulle opgewek word-1 Pet. 1:3; Joh. 5:29; Dan. 12:2,3; Hand. 24:15...). Op dieselfde wyse het die dissipels se droefheid in blydskap verander met Jesus se opstanding uit die dode (Joh. 16:20-22; Rom. 6:9). Gelowiges het die wete dat hulle mekaar wel sal sien na die dood en het nie net hierdie hoop nie maar ook die hoop om mekaar weer te sien in die opstanding eendag.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


"Geestelike mense" (wedergeborenes) sal nie vergeet word in die graf nie maar het die belofte dat hulle die dood sal oorwin (verwysend na die wat "vashou" en hulle klere bewaar) - dieselfde kan nie gesê word van die wat nie glo nie.  Wanneer iemand sterf (verwysend na die uiterlike mens wat doodgaan) is dit 'n reg wat weggeneem word want elkeen wat sterwe kan nie lewe op die aarde nie, maar daar is iets groters waarvoor die mens nog meer moet vrees - en dit is nie wanneer net die liggaam (verwysend na die uiterlike mens) verderwe word nie maar wanneer beide die liggaam en siel (verwysind ook na die innerlike mens - die mens se gees) verderwe kan word (Matt. 10:28)(genoem "tweede dood", of "die oordeel vd hel").

Die dood is soos 'n VYAND en ons is veronderstel om dit te vrees! (Matt. 10:28). Jy kan bv. nie vir enige iemand vertel dat hy na die dood met sy geliefdes gaan verenig nie want die waarheid is dat gelowiges en ongelowiges na verskillende plekke gaan. Jy kan ook nie vir 'n ongelowige leer dat "dood" bloot natuurlik is en slegs 'n oorgang na die volgende lewe en hy dit glad nie hoef te vrees nie..., want die waarheid is dat almal alreeds 'n oordeel ontvang wanneer hulle doodgaan. Die dood is beslis iets wat moet gevrees word as iemand nie wedergebore is en "met Christus beklee" is nie, en selfs "geestelike mense" wat nie in die Here bly nie, moet dit vrees. Verder is die plek waarna ongelowiges gaan ook 'n plek van pyniging (kyk gelykenis van die ryk man en Lasarus), en die oordeel vd hel (die poel van vuur) 'n oordeel wat natuurlike mense en die wat gesien word as onregverdig of ongelowig, definitief nie gaan vryspring nie! Ja, die loon vd sonde is DIE DOOD, en as iemand nie afwassing kry van sondes nie dan is sy uiteinde "die dood". Elke natuurlike mens moet verstaan dat dit nie net hulle uiterlike is wat sterf nie maar dat hulle a.g.v. sonde en ongeloof bestem is vir ewige oordeel, en dus bestem is vir "die tweede dood" (poel van vuur);  tensy hulle hul  tot die Here bekeer en glo in die Een wat die mag het om hulle vry te koop van die dood! Daar is geen saligheid na die dood nie (1 Kor. 15:26,55) - saligheid moet verkry word voor iemand doodgaan (voor die uiterlike mens sterwe).  Elke mens het nodig om verlos (vrygekoop) te word uit die mag vd doderyk (Hos. 13:14), want as hy nie hierdie verlossing (redding/saligheid) kry nie, dan is hy nog oppad na dit waarvoor natuurlike mense (gebore uit die saad van Adam) bestem is, nl. "die ewige oordeel" (die tweede dood)(die oordeel vd hel).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Sondag 03 Mei 2020

Die mens in beeldspraak

DIE UITERLIKE MENS is uit stof gemaak (Gen. 2:7) en kan dus voorgestel word soos
- GROND (liggaam)(1 Kor. 15:37);
- waarin SAAD gesaai word (siel)(Mark. 4:26-28; 1 Pet. 2:23) - plant, boom;
- en dit het LIG nodig om te kan lewe (geesasem).

Hierdie beeldspraak word in vele skrifte in die ou en nuwe testament gebruik, en terloops nie net vd uiterlike mens nie maar ook van die innerlike. Bv., Jesus het self  hierdie soort beeldspraak gebruik (o.a. in die gelykenis vd saaier) en bv die wat in Hom glo voorgestel soos LOTE (wat moet vrug dra-Joh. 15:6), en Homself voorgestel as "die Wynstok" (Joh. 15:5). Ook in die O.T. sien ons hierdie tipe beeldspraak wat gebruik is vir die volk van God. Die mens word verder ook voorgestel soos SAAD wat in die wêreld gesaai word (Matt. 13:24-38) - en begrippe soos koring, onkruid en kaf word ook gebruik (Matt. 3:12; 13:25-40; Luk. 3:17) om verskillende mense voor te stel. Die tyd van Jesus se wederkoms word o.a. ook voorgestel met " 'n oes " (Mark. 4:26-29) - wat o.a. beteken dat dit die tyd is wanneer elkeen (elke "geestelike mens") se VRUG geoes word.  Dus kan elkeen voorgestel word soos saad wat in die wêreld gesaai word (liggaam - grond/saad) en het lig nodig om te kan groei (siel - saad/plant/boom)(en water en kos nodig om aan die lewe te bly) en dra uiteindelik vrug... (en wanneer die oes daar is sal elkeen se vrug geoes word).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die mens is dus soos 'n plant of boom (Luk. 6:44; 3:9; Matt. 7:19 ens.) wat groei en vrug dra en het kos en water nodig om aan die lewe te bly, en sonder "lig" (asem) sterwe hy (daarom gaan hy dood wanneer hy die laaste asem uitblaas...), maar hierdie geld nie net vir die UITERLIKE MENS nie, maar ook vir die INNERLIKE MENS. DIE INNERLIKE MENS is nie uit stof gemaak nie maar is GEES, en word in die mens se binneste geformeer (Sag. 12:1). Net soos die uiterlike mens nie kan lewe sonder lig/asem nie en hy lig nodig het vir groei, net so het die innerlike mens die asem vd Heilige Gees en die lig vd Woord nodig om lewe te kan hê en geestelik te groei. Op dieselfde wyse kan die siel en liggaam figuurlik voorgestel word, en word ook terloops so in die Skrif gedoen!

Die mens is tweeledig van aard, nl.
- die UITERLIKE MENS ("letterlik" / " 'n siel ")(2 Kor. 4:6,16), en
- die INNERLIKE MENS ("figuurlik" / 'n "gees" - gees in binne ste /die mens van binne)(2 Kor. 4:16; Rom. 7:22; Ef. 3:16);
en bestaan uit LIGGAAM, SIEL en GEES (dus nie net letterlik liggaam, siel en gees nie, maar ook figuurlik liggaam, siel en gees)(Thess. 5:23; Job 12:10; Jes. 26:9; Hebr. 4:12). Wanneer die mens sterwe en sy laaste asem uitblaas, is dit die uiterlike mens wat sterwe - dan gaan die (letterlike) asem terug boontoe na God wat dit gegee het; en die letterlike liggaam (vleis / bene..ens.) en letterlike siel (siel in bloed / hart / organe..., wat tot stilstand gekom het) keer terug na stof (waaruit dit gemaak is).
Die innerlike mens wag dan op:
- "die oordeel" (verwysend na die "natuurlike mens")(2 Pet. 2:3,4,9; 3:7; Hebr. 6:2);
- maar gelowiges wag op "die opstanding" (en sal dus nie in die oordeel kom nie)(verwysend na die "geestelike mens")(Matt. 22:28-31; Luk. 14:14; 20:35; Joh. 11:24,25; Hand. 17:32; 1 Kor. 15:12,13,42; Openb. 20:5).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:



_________________________________________________________________________________
https://warechristene.blogspot.com/2018/10/natuurlike-mens-geestelike-mens.html
https://warechristene.blogspot.com/2018/10/uiterlike-mens-innerlike-mens.html
https://warechristene.blogspot.com/2019/10/asem-vd-innerlike-mens.html
https://warechristene.blogspot.com/2019/10/die-geeste-van-alle-vlees.html
https://warechristene.blogspot.com/2014/07/die-oordeelewige-oordeel-3.html
https://warechristene.blogspot.com/2017/11/verheerliktegeestelikeonverganklike.html
http://warechristene.blogspot.com/p/blog-page.html

Saterdag 18 April 2020

Die Christelike kerk as NUWE MENS

Die begrip "nuwe mens" in die Skrif word nie net gebruik van iemand wat nuut word deur wedergeboorte en hom met die nuwe mens beklee (Ef. 4:24; Kol. 3:10) nie, maar word ook gebruik van die Christelike kerk (van Christene as 'n groep waarvan Jesus Christus die hoof is)(Ef. 2:11,15). As ons Israel, die Joodse volk (die gebore uit Abraham, Isak, Jakob, 12 stamme...) kon voorstel soos 'n mens (en word terloops voorgestel soos 'n vrou - Jes. 54:5), dan kan die Christen-volk gesien word soos 'n "nuwe mens" want hierdie "mens" lyk nou anders (omdat hulle nie net Israel is nie, maar Israel en heiden EEN vd wat in Christus glo).  In die O.T was sommige mense vervreemd vd burgerskap van Israel en uitgesluit vd beloftes, maar nou kan almal deel hê hierin deur Christus Jesus - Ef. 2:12 - word na verwys as die "evangelie van vrede".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
'n Mens bestaan uit liggaam, siel en gees - sou iemand weergebore word dan lyk sy liggaam siel en gees anders (wat natuurlik verwys na die innerlike mens, maar Christene het ook hoop op opstanding vd uiterlike mens eendag).
As die Christelike kerk dan nou soos 'n (nuwe) MENS (wat terloops bestaan uit liggaam, siel en gees) voorgestel word, dan kan die kerk voorgestel word asof dit ook bestaan uit 'n LIGGAAM, SIEL en GEES.

Dus, 'n vernuwe Israel (die "nuwe mens") se "liggaam, siel en gees" lyk anders:
-  wat die LIGGAAM aanbetref (liggaam verwys na vlees, vel, nageslag ens..) het die "ou" mens bestaan uit die Joodse volk (die gebore uit die saad van Abraham, Isak, Jakob...)(en die besnydenis 'n teken hiervan), en het die belofte van eendag aanneming tot kinders verkry deur geboorte.  Die "nuwe mens" bestaan uit almal wat in Jesus Christus glo en gewederbaar is (Christelike doop 'n teken hiervan) - hulle het die belofte van eendag aanneming tot kinders verkry deur wedergeboorte ("gebore uit God se saad")(is die volk van "eersgeborenes").  Die nuwe mens is "Jood en heiden" EEN in Christus;
-  wat die GEES aanbetref (gees verwys na asem) het die "ou" mens die Heilige Gees in hulle midde gehad (die Here was by hulle d.m.v. die tabernakel of tempel).  Maar i.g.v. die "nuwe mens" het elkeen wat aan hierdie nuwe liggaam behoort, die Heilige Gees (lewe deur die asem vd Heilige Gees) - elkeen van hulle ontvang die Heilige Gees en is soos 'n tempel vd Gees en die Here is heeltyd by hulle.
-  wat die SIEL aanbetref (siel verwys na hart, bloed ens.) het die "ou" mens vergifnis verkry deur bloed- en lamsoffers wat met hande verrig was, en hulle was gelei deur priesters en profete en konings, en het die wet gehad (bv. die wet van Moses) (was m.a.w. "onder die wet", was 'n "slaaf vd wet"). Die "nuwe mens" het vergifnis en die belofte van lewe deur die bloed- en liggaamsoffer van Christus.  Wat die nuwe mens aanbetref is die Here se wette op die tafels van hulle harte geskrywe (hulle harte is besny en daarom word hulle nie gesien as onbesnedenes nie) - hulle word gelei en leer deur die Heilige Gees, en is dus nie onder die wet van Moses nie maar "onder" die Gees - is gehoorsaam aan die Heilige Gees (is 'n slaaf van Christus), en word deur Hom gelei en leer, en Hy werk deur elkeen van hulle gawes en bedieninge (om bv. te doen wat die priesters en profete en konings moes doen in die O.T. - die nuwe mens is soos 'n priesterdom).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Elke weergebore mens kan voorgestel word soos 'n NUWE MENS omdat hulle innerlike vernuwe is, asook word hulle daagliks vernuwe (in die sin van "nie onder die wet nie, maar is onder die Gees")(asook het hulle die belofte van eendag vernuwing vd uiterlike mens - "die opstanding"). Die term "met Christus beklee" is 'n goeie beskrywing van hierdie indoping onder die kinders van God, en verwys spesifiek na die wat in Christus gedoop is (kyk Christelike doop). In konteks Gal. 3 gaan "om met Christus beklee te word" veral oor "erfenis" - m.a.w. wie dit is wat eendag gaan erf! (bv., wie is dit wat beklee is met "die klere van heil"? - Jes. 61:10; Gal. 3:29). Vgl. hierdie met die onderwerp "kinders van Abraham". Bv., in Jesus Christus het elkeen wat in Hom glo dieselfde erfenis as die kinders van Abraham... (hulle is soos kinders van Jesus Christus, en word genoem,"kinders vd geloof")(Jesus Christus is gebore uit Abraham, Isak, Jakob... Dawid, uit dieselfde bloed maar uit onverganklike saad.  As kinders vd geloof uit Christus gebore is, m.a.w., uit Sy saad - natuurlik figuurlik nie letterlik - dan sal hulle ook eendag deel wees vd groep wat gaan erf want die erfenis is uit hierdie familie!). In ander woorde kan "vel en vlees", of "die ligaam" gesien word soos 'n bekleding of 'n huis. "Saad" bepaal hoedanig hierdie "huis" of bekleding sal wees (en hetsy verganklik of onverganklik)(vgl. met die tema van "vlees en been" wat veral gebruik word vir familie - is vlees en been van mekaar).  Op dieselfde wyse is kinders vd geloof vlees en been van Christus en is dus met Hom BEKLEE (met hierdie "huis" beklee). "Vlees en bloed" is 'n ander beskrywing maar weer meer in konteks met die hele mensdom (wat almal familie is van mekaar - almal deel in dieselfde bloed - Hand. 17:26). Die "natuurlike mens" is gebore uit die saad van Adam (en het daarom verganklike vlees), en verwys na die mensdom.  Die "geestelike mens" is gebore uit die saad van God, en is daarom onverganklik, en verwys na die kinders van geloof (in Christus Jesus) (verwysend na hulle innerlike, en hulle sal ook eendag nuwe uiterlike kry wat onverganklik is) - wedergeborenes ("kinders van Jesus Christus") verwys na die wat geskep is uit Christus se bloed..., en deur die Heilige Gees is hulle gebore uit Sy saad.

Elke weergebore mens word gesien as deel vd "Liggaam van Christus" ('n term wat gebruik word vir die Christelike kerk waarvan Jesus Christus die hoof is - 1 Kor. 12:27) en word as lede van hierdie liggaam gesien, elk met verskillende gawes en bedieninge soos die Heilige Gees aan hulle toebedeel. Dus, as die kerk genoem word "liggaam van Christus" dan word elke kind vd geloof gesien as 'n lid van hierdie "liggaam" en hulle deel almal in dieselfde bloed, die harte is vernuwe (wat verwys na die siel van die "liggaam van Christus") is uit dieselfde saad gebore (verwysend na die liggaam vd "liggaam van Christus"), en hulle haal asem deur dieselfde gees (verwysend na die Heilige Gees waardeur hulle lewende siele is en geword het).  Christelike kerk as "nuwe mens" en "liggaam van Christus":
-  liggaam verwys na die LEDE (die volk van eersgeborenes/priestervolk), na WERKE (hulle doen nie meer die ou werke nie), KLERE (sonde is bedek / heilskleed / is nie meer naak)(en sal ook eendag beklee word met 'n nuwe uiterlike / verheerlikte liggame), KOS en WATER (kan groei en vrug dra tot ewige lewe omdat hulle die regte soort geestelike kos en water kry).......ens. ;
- siel verwys na "lewende siel" (is 'n lewende siel deur die asem vd Heilige Gees), hulle deel almal in een BLOED (is familie van mekaar - weergebore/gebore uit God se saad) en is een van HART (harte vernuwe en hulle dink eenders)........ens.;
- gees verwys na die HEILIGE GEES (is elkeen 'n tempel vd Heilige Gees - God by hulle) (hulle innerlike lewe deur die asem vd Heilige Gees - kan nie doodgaan nie en die Gees hou hulle in bewaring tot die dag van verlossing); hulle word gesien as "geestelike mense" (natuurlike mense het die gees vd wereld, maar geestelike mense het die Gees van God......
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Woensdag 08 April 2020

Die waarde van 'n dom en arm mens

Kennis en rykdom het 'n groot invloed op die manier hoe sukses gemeet word. Bv., wanneer iemand besonders slim is word hy gesien as 'n tipe persoon wat nog groot sukses vorentoe in die lewe kan behaal. Oor die eeue was die wat slim is, of die met rykdom, nog altyd hanteer as "meer waardig" omdat hulle meer kan vermag in die lewe.  Selfs in skool word kinders se waarde alreeds bepaal deur toetse en punte;  m.a.w. om te bepaal "hoe slim" hulle is of waartoe hulle instaat is, en dit plaas slim en dom kinders in verskillende klasse. Verdienste reflekteer ook hierdie feit in die samelewing, want slim mense kry gewoonlik "beter" werke wat meer betaal, en ryk mense besit meer omdat hulle in die mag is om dit te doen. Kortom, slim en ryk mense regeer die wêreld! --------Ons verstaan die waarde van 'n slim of ryk mens, maar verstaan ons die waarde van 'n dom of arm mens? 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Dom en arm mense het kwaliteite wat in ander kringe gesien kan word as slim en ryk, bv., "die geestelike mens" sien rykdom en slimheid anders as "die natuurlike mens". Persepsie is baiemaal dit wat bepaal, wat gesien word as slimheid of as domheid, en dit bepaal natuurlik iemand se waarde! Sommige meet rykdom aan baie geld en besittings en skatte op die aarde, maar ander meet rykdom aan goeie vrug, ryk in die Here en skatte in die hemel. Sommige meet slimheid aan wêreldse of algemene kennis, terwyl ander dit meet aan hoeveel kennis hulle het vd Here en kennis van Sy wil. Kortom, geestelike mense "sien" anders!  Dit sal ook eendag die "slimmes  en rykes" wees wat saam met Christus sal regeer en die aarde beërwe, maar hierdie slimheid en rykdom verwys nie na wêreldse kennis en rykdom nie, maar verwys na die wat kennis het van die Here en van Sy wil en Sy wil gedoen het, goeie vrug gedra het, ryk is in die Here en skatte in die hemel vergader het, ens.  Inderdaad is dit die slimmes en rykes wat regeer, ja, maar die wat eendag saam met Christus regeer se slimheid en rykdom word anders bepaal...  Jesus het bv. geleer dat die koninkryk vd hemele behoort aan die wat "arm van gees" is (in hierdie wêreld)(Matt. 5:3).  Hy het ook geleer dat baie wat eerste is (m.a.w. "in hierdie wêreld") eendag laaste sal wees! (Mar 10:31)("en die wat laaste is, eerste"!).

Die wêreldse beskrywing van "eerste wees" is ook baie anders as Jesus se beskrywing daarvan  - in  Mark. 10:44 maak Hy die volgende opmerking: "En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees". Hierdie is beslis nie die manier hoe die wêreld "om eerste te wees" verstaan nie;  inteendeel, in die wêreld sal iemand as dom beskou word as sy persepsie van "eerste wees" gaan oor 'n dienskneg mentaliteit, want die wat eerste is in die wêreld wil eerder gedien word as om te dien.  Hier sien hoe verskillend "slimheid" gemeet word.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

Net soos die mens se waarde in hierdie wêreld bepaal word deur rykdom, status, sukses en hoe slim iemand is, op dieselfde wyse word die mens se waarde geestelik bepaal (maar dit hang af hoe jy hierdie dinge beskryf);  bv., dit is nie die trotsaard wat ryk is (in hierdie wêreld) wat eendag die aarde gaan beërwe nie, maar die sagmoedige wat miskien arm is in hierdie wêreld maar ryk in die Here.  In daardie opsig het die arm mens baie meer waarde en word dus anders hanteer, en verdien dus meer!  Arm en dom mense is gewoonlik nederig van gees. Dit is belangriker om sagmoedig te wees met min en sonder eer in hierdie wêreld, as om hoogmoedig en trots te wees a.g.v. wereldse rykdom en eer. Die wat eendag saam met Christus gaan regeer en die aarde beërwe sal inderdaad ook die slimmes en rykes wees, ja, maar hierdie "slimheid en rykdom" word nie gemeet volgens wêreldse standaarde nie. Slegs die wat ryk is in die Here en Hom vrees het geestelike WAARDE. In ander woorde kan die wat as slim bestempeld word in hierdie wêreld as dom gesien word as hulle nie die Here vrees nie. En net so kan die wat ryk is in hierdie wêreld as arm gesien word as hulle nie ryk is in die Here nie.  En onthou, as dit is hoe jy die wêreld sien, dat dom en arm mense nie veel verdien nie, dan is dit logies dat die wat dom en arm is in die Here ook nie iets "verdien" nie en nie eendag die aarde kan regeer nie! Dus, as jy nie ryk is in die Here nie en jy Sy wysheid en tug verag (Spr. 1:7), dan is jy soos 'n arm en dom mens wat nie verdien om deur die Here geseën te word en te erf nie. Hetsy iemand slim of ryk is, wat dus belangrik is is waaruit sy rykdom of kennis bestaan.
-  Waaruit bestaan jou RYKDOM? (het jy wêreldse rykdom?, of is jy ryk in die Here?).
-  Waaruit bestaan jou KENNIS? (vrees jy die wêreld?, of vrees jy die Here?).
Jy mag miskien ryk wees in hierdie wêreld en in die wêreld waarde hê en/of deur mense geëer word en die verdienste geniet wat jy vd wêreld ontvang, maar wat is jou geestelike waarde?  Het jy enige rykdom in die Here?  Vrees jy die Here? Soek jy Sy wil en Sy kennis? Wil jy graag "sien" soos die Here sien?, of is jou begeerte eerder om te sien soos die wêreld sien?  Rykdom "deur die wêreld verkry" beteken niks na die dood; en eer wat iemand vd wêreld ontvang sal uiteindelik verdwyn. Miskien mag jy nog na jou dood op die aarde geëer word, maar as jy nie ryk is in die Here en Hom vrees nie sal jou naam ook uiteindelik vergeet word.

As iemand nie ryk is in die Here nie, en geen kennis het van Hom nie, dan is hy niks anders as soos 'n dom en arm mens (al het hy baie besittings en geld en kennis en eer in hierdie wêreld) - en verdien dus, soos 'n "dom" mens, niks! Maar 'n slim mens wat ryk is in die Here en begeer om ryk te word in Hom, is inderdaad slim! Daarom sal die wenners in hierdie lewe eendag die verloorders wees, en die verloorders die wenners. Wat jy "het" en wat jy "weet" bepaal jou waarde... Die waarde van 'n dom of arm mens in hierdie wêreld maar ryk en vrees vir die Here, is dat hy gesien kan word as iemand wat eendag die aarde kan beërwe...- dit is die mense wat instaat is om "te regeer" en eendag saam met die Here sal kan regeer! (Mat 5:5 - "Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dinsdag 07 April 2020

Vas is 'n manier om die innerlike mens te voed

Wanneer ons vas is dit wel so dat ons geen kos (per mond) inneem nie ja, maar die doel van vas is nie om glad nie te eet nie maar gaan oor wat jy eet  m.a.w. "om vir die innerlike KOS te gee". Wanneer ons kos eet wat vergaan voed ons die uiterlike mens. Wanneer ons kos eet met ewigheidswaarde, voed ons die innerlike mens. Die Christen is m.a.w. besig om sy innerlike kos te gee wanneer hy vas of bid. Jesus het hierdie goed verstaan en ook gewys hoe belangrik vas en/of gebed is;  o.a., terwyl Hy besig was om te vas en die duiwel hom versoek het om te eet, het Hy die volgende opmerking gemaak: (Luk 4:4) - "Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God"). Die mens het wel kos en water nodig om aan die lewe te bly (verwysend na die uiterlike mens), maar volgens Jesus se woorde hier is dit duidelik dat kos (wat vergaan) nie genoeg is om iemand aan die lewe te hou nie! Ons moet verstaan dat net soos ons uiterlike vergaan sonder kos en water, net so vergaan die innerlike as dit nie (die regte soort) kos en water kry nie. Wat help dit jy voed jou uiterlike mens en gee selfs mooi aandag aan wat jy eet deur gesond te probeer eet en genoeg water in te neem sodat jy langer lewe..., maar die innerlike mens word nagelaat? Ons kwel ons maklik oor die lewe, en werk hard vir dit wat vergaan (wat ons eet en wat ons drink, of wat ons aantrek), maar Jesus het vir ons geleer dat die lewe meer is as hierdie dinge! (Mark. 6:25).

Net soos die uiterlike mens het die innerlike mens ook kos nodig, maar hierdie soort "kos" verwys nie na die voedsel wat vergaan nie. Uit sommige van Jesus se leringe kan ons 'n paar dinge leer oor wat presies hierdie "kos" na verwys, bv.:
- (Luk. 4:4) -  "woord van God"
- (Joh. 4:34).- "om die wil vd Vader te doen".
M.a.w., die woorde van God of om Sy wil te doen,  kan dus soos "kos" (vir die innerlike mens) gesien word (Mat 5:6 - "Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word"). Vgl. dit met Joh. 4:32-34 waar Jesus voedsel nie net vgl. met "die wil vd Vader doen" nie, maar dit ook vgl. met "om Sy werk te volbring" - (Joh 4:32-24 - "Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring?  Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring"). Wanneer 'n Christen honger na hierdie dinge, bv. om die wil vd Here te doen en die werk wat die Here vir hom gee, uit te voer, dan is dit soos om TE  EET - (Joh 4:32 - "Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Net soos in die geval met "vas" is gebed en bybelstudie ook maniere waarop ons die innerlike voed. Wanneer 'n Christen bid is hy besig om die Here te soek en na Sy wil te soek.  Jesus Christus is self soos Brood vir die Christen (Joh 6:33-35 - "Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie"). Sonder hierdie "Brood" sal iemand se innerlike honger bly.  En wanneer die Christen Bybelstudie doen is hy besig om te EET (kos te gee vir die innerlike), want hy is dan besig met die woorde van God;  en net so is "om die wil vd Here te doen" (en Sy werk te volbring) soos kos vir die innerlike (Luk. 6:45,46).

Die mens lewe omdat hy asem het, maar sonder kos en water sal hy doodgaan. Op dieselfde wyse is dit belangrik om vir die innerlike mens kos en water te gee, want alhoewel die Christen se innerlike LEWE deur die asem van die Heilige Gees kan hy nie verwag om in die lewe te bly as sy innerlike geen kos (en water) kry nie - en hoe sal hy dan instaat wees om te groei en vrug dra? (Kol. 1:9,10; Joh. 4:34-37; 15:4-8; Rom. 6:22). "Groei en vrug dra" is 'n bewys van wie se innerlike kos en water kry (bv. die wat volhard) en wie nie (bv. die wat honger en dorsly en dan wegval), en wie verkeerd eet (bv. die wat hulle vrug verloor).
Wat "groei en vrug" aanbetref kan Christene in 3 groepe verdeel word (sien Gelykenis vd Saaier):
-  groep 1:  die wat hoor en aanneem, maar nie wortel skiet nie (hulle glo net vir 'n tyd - hulle vergeet);
-  groep 2:  die wat hoor, aanneem en geen of selfs begin vrug dra, maar hulle groei tussen die dorings (die dorings verstik hulle vrug - kan nie vrug dra nie, of  word onvrubaar - hulle glo nog, maar die sorge vd wereld, verleiding vd rykdom, genietinge vd lewe en ander begeerlikhede verstik hulle vrug);
- groep 3:  die wat hoor, aanneem, verstaan en vrug dra, en volhard om vrug te dra (hulle hou die woord in 'n edele en goeie hart).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------


Sondag 05 April 2020

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie?

Die mens gaan nie dood wanneer sy hart stop nie maar wanneer hy sy laaste asem uitblaas (1 Kon. 17:17; Job 3:11; Gen. 25:8)- ...en dan stop die hart.  Ons weet goed dat solank iemand ASEM het die hart weer aan die gang gemaak kan word, maar sou die asem die liggaam (of meer presies "uiterlike mens") verlaat is dit nie meer moontlik nie en hy moet dan eers die asem terugkry voor sy hart weer aan die gang kan kom. 'n Goeie vb. hiervan is die van die twee toekomstige getuies in Openb. 11:11 - (Openb. 11:11 - "En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het"). Wanneer iemand die asem uitblaas, verlaat die "siel" ("siel" 'n woord wat somtyds gebruik word van die innerlike mens - die mens van binne) die liggaam. Ons sien 'n vb. hiervan in 1 Kon. 17 waar Elia tot die Here bid en vra dat 'n kind se siel in hom terugkeer (1 Kon. 17:21,22).

Asem verander iemand in 'n lewende siel (Gen. 2:7) en dus, sonder asem kan niemand op aarde lewe nie. In ander woorde, "geen dode se siel kan terugkeer sonder ASEM nie", of niemand kan 'n "lewende siel" wees sonder asem nie. Die hart is nie dit wat bepaal of iemand doodgaan of nie maar "asem" is dit (alhoewel die hart wys of iemand nog in die lewe is of nie).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Elke dag bid ons "dankie Here vir 'n nuwe dag" en tereg!, want elke dag is nog 'n dag wat aan die mens geleen word. Die gebore in verganklikheid en sonde verdien nie om te lewe op aarde nie, maar God is barmhartig en uit genade gee Hy aan elkeen asem en 'n kans om te lewe op aarde (asook terloops 'n kans om vir ewig te lewe!). Elkeen se "asem" is in Sy hande, nie in ons hande nie (Job 34:14,15 - "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer"). In ander woorde, hetsy iemand Hom dien of nie dien nie, hy is afhanklik van die Here!, want sonder die asem wat God gee kan niemand lewe nie. (1Sa 2:6 - "Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom")(Rom. 14:9).

Maar Sy genade is baie groter as dit want dit is nie net lewensjare wat aan elkeen geskenk word nie, maar Hy gee ook aan elke mens die kans om vir ewig op aarde te lewe - natuurlik verwysend na die wat Sy voorwaardes nakom, bv. om te glo in Jesus Christus. Vir iemand om vir ewig te kan lewe, moet hy logies gesproke opgewek word siende almal doodgaan, maar niemand kan eendag opwekking tot lewe verkry as hy nie glo in die Een wat die mag het om hom op te wek nie.  Bv., Jesus Christus is die een wat hierdie "opwekking" sal doen (Joh. 6:39-44);  dus, as iemand nie in Hom glo nie, hoe sal hy dan opgewek kan word? En niemand kan hierdie opwekking verkry as hulle sondes nie afgewas is nie, en hierdie afwassing kan nie verkry word deur enige bloedoffer nie. En niemand wie se innerlike vrugte dra vir die dood, kan tog lewe verwag nie!  Slegs die wat die Heilige Gees of die krag vd Heilige Gees ontvang, is instaat om vrug te kan dra tot ewige lewe - en die Een wat hierdie Gees gee is weer-eens, Jesus Christus! M.a.w., niemand kan weergebore word as hy nie glo in die Een wat instaat is om sy sondes weg te was (en aan hom die Heilige Gees te gee nie). So ja!, GELOOF IN JESUS CHRISTUS is dit wat nodig is om eendag vir ewig te kan lewe. Daar is dus 'n groep mense wat (d.m.v. geloof) uitgekies word op hierdie aarde om eendag weer op te staan en vir ewig te lewe. Hulle sal weer "asem" kry...(Eseg. 37:5 - "So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word"). Almal gaan wel dood (verwysend na die uiterlike mens) en almal verdien om deur die tweede dood (oordeel vd hel) te gaan (verwysend na die innerlike mens), maar in Jesus Christus gee die Here elkeen die geleentheid om weer eendag opstanding te verkry (Joh. 5:28) asook vir ewig te lewe en hierdie mense sal die tweede dood (Openb. 2:11; 20:6,14; 21:8) vryspring.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Maandag 20 Januarie 2020

Onderskei tussen wat is REIN, en wat is ONREIN (2)

Die Christen leef onder 'n Nuwe Testament - 'n testament gaan gewoonlik in vervulling met iemand se dood, en hierdie N.Testament het in vervulling gegaan met Jesus Christus se dood en opstanding (Hebr. 9;  12:24; Matt. 26:28; Mark. 14:24; Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:6;).  Die Christen is bv. nie "onder die wet van Moses (onder die "ou testemant")" nie, wat beteken dat hy nie gehoorsaam is aan die wet van Moses nie maar is gehoorsaam aan Jesus Christus en Sy Gees (is onder 'n nuwe testament)...

Ons verstaan wat dit beteken wanneer 'n testament in werking kom, maar weet ons wat die testament behels?  Ons weet ook goed waaroor die Ou Testament gegaan het maar weet ons waaroor gaan die Nuwe Testament? 'n Testament bestaan nie net altyd uit dit wat iemand erf nie maar 'n wil word deur dit gegee, en dit het dus baiemaal voorwaardes en opdragte wat ook saam met dit gaan.  Hierdie voorwaardes kan selfs veroorsaak dat die een wat sou erf op die end dalk nie erf nie, sou hy bv. nie die voorwaardes nakom nie.  Die Nuwe Testament wat in werking getree het na Jesus se dood en opstanding is nie anders in hierdie opsig nie, maar bestaan uit beide dit wat geeerf  word deur die "kinders" asook voorwaardes en opdragte daarby, en die Here se wil word deur hierdie testament van Hom beskryf.  Net soos in die geval vd Ou Testament, sal die wat nie die voorwaardes nakom nie op die ou end ook nie "erf" nie. Geloof (en dus gehoorsaamheid) was nog altyd die voorwaarde in beide testamente. Jy is miskien deel van hierdie heilige priesterdom, maar "eersgeborenes" kan hulle plek verloor sou hulle dit nie oppas nie!
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Bv., die wat in "sonde tot die dood" stap, staan in so 'n gevaar dat al is hulle kinders vd Here en staan in ry om te erf, hulle dalk nie gaan erf nie (as hulle nie die voorwaardes nakom nie). Net soos die mens wat onrein of besoedel word, afwassing nodig gehad het in die O.T., net so word die Christen somtyds onrein of besoedel, en het afwassing nodig onder die N.T., maar wat is die wette rondom afwassing in die N.T.?, en wat moet iemand doen om hierdie afwassing te verkry? Sonde tot die dood kan bv. nie tot die lewe lei nie maar is sonde wat "tot die dood" lei;  dus, hoe kan so 'n persoon weer rein word? En watter sondes in die N.T. is vergeeflik en watter nie?  Hierdie is dinge wat kinders vd Here behoort te weet. Hulle moet weet wat Sy testament regtig behels. Hulle moet weet wat dit is wat hulle onrein maak en weet hoe hulle weer rein kan word, want sou hulle nie hierdie kennis he nie of nie ag gee daarop nie dan staan hulle die gevaar om hulle vrug te verloor of om eendag uit hulle "plek" verwyder te word.
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Is daar enige ONREIN dinge in die Nuwe Testament wat kan veroorsaak dat ons ons daardeur VERONTREINIG?  En wat is die Here se wette? Hoe word Sy wil in Sy testament gegee? Sommige Christene sien die "nuwe testament" as 'n testament sonder wette. Jesus het egter  geleer dat as ons die lewe wil ingaan, ons die gebooie moet onderhou (Matt. 19:17); en dat deur Sy gebooie te bewaar, ons juis bewys dat ons Hom liefhet! (Joh. 14:15).   Ja, geen Christen is geoorloof om te doen wat hy wil/glo net omdat hy uit genade gered is nie!  Wat ons moet verstaan is dat alhoewel die wette nooit to niet gaan nie, dit wel so is dat die wet van Moses vervul is deur Jesus Christus.  (Mat 5:17,18 -  "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie"). Bv., daar is steeds 'n offerstelsel nodig, maar oor "tyd" was dit verskillend vervul in verskillende tydperke.  Heelwat dinge wat beveel was onder die wet van Moses geld ook steeds woordeliks vir Christene (bv. dat ons nie bloed mag eet nie), maar sommige wette word anders vervul. In die N.T. is die klem ook meer gerig op die innerlike mens...
Die wette is dus nie tot niet nie, maar hoe word dit vervul?  Ons het steeds reiniging nodig, maar wat moet ons doen om dit te verkry en hoe gebeur dit?
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE: 


Die Here se wet leer vir ons wat is rein en wat is onrein, nie net onder die O.T. nie maar ook onder die N.T.   M.a.w., ons moet weet wat word in die N.Testamentiese wet gesien as rein en onrein.  En ons moet weet hoe ons, wanneer onrein of besoedel is, weer rein kan word. Christene ontbreek somtyds hierdie kennis en gee nie altyd ag op Jesus se leringe nie - hulle weet bv. nie eens altyd watter dinge dit is waardeur hulle onrein word of wat dit is waardeur hulle hul vrug kan verloor nie. Ons moet seker maak dat ons hierdie kennis verkry en weet wat die Here se wil is onder die N.T.

In die huis van die Here is sekere Christene soos voorwerpe van goud en silwer (m.a.w., is tot eer), maar ander is soos hout en erdewerk (is tot oneer / hulle is besoedel). 

2Kor. 7:1 - " Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring".

2Tim. 2:21 - "As iemand hom dus hiervan deeglik REINIG, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk".
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Vir die eerste dagstukkie oor hierdie onderwerp, gaan na: https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2016/10/onderskei-tussen-wat-is-rein-en-wat-is.html